Deel 4
… poskaarte …
Chrismarie
Ami, mon amie,
Hierdie vakansie het ek besluit om ‘n plek te besoek waarvan ek nog altyd droom. Waar die pers laventel om elke hoek en draai groei en die geel geboue vir mens glimlag. Aix-en-Provence. Ongelukkig is dit nou nie somer nie, so ek het nie veel laventel in hulle natuurlike habitat gesien nie, maar die geboue het nogsteeds vir my geglimlag onder dié winter-son. Ek het verlief geraak op hierdie plek – die huis van kunstenaar Paul Cézanne, en die vyf dae was hopeloos te kort. My Kersfees was rustig en alleen, maar een om te onthou. Interessante feit oor Aix: dis bekend as die stad van ‘n duisend fonteine. Ek dink ek het omtrent 30 gesien. Ek sal definitief moet terug kom! Geseënde Kersfees!
xxx Chrismarie
Liewe Ami,
Hierdie foto is ‘n herinnering aan toe ek net hier aangekom het in Bayonne. Voor ons vertrek het uit SA het ek Instagram-profiele en Blogs oor Bayonne begin volg en fotos van hierdie ry geboue was volop. Ek kon nie wag om dit in lewende lywe te sien nie. En toe breek die oomblik uiteindelik aan – en dit was alles wat ek verwag het. Dit was die laaste paar dae van die Baskiese somer en daar was nog blomme in die vensterbanke en aan die lamppale, en ek was so bietjie verlief. Hierdie is steeds my gunsteling plek in Bayonne. Aan die kante van die Nive rivier is hierdie twee rye, eeue-oue geboue, waarvan party skeef begin lê so oud is hulle. Van die beste restaurante is hier langs die Nive, en op Saterdae is dit waar die boeremark opgeslaan word. Met ‘n vars chocolatine in die hand is dit waar jy my sal vind, reën of sonskyn.
xxx Chrismarie
PS. Jy moet kom kuier sodat ek jou alles kan wys!
Beste Ami
Hierdie (die foto) is glo baie tipies in die Pays Basque. Ek het dit nog nie self gesien nie – ek wens ek het voor ons Frankryk toe gekom het daaraan gedink om ‘n internasionale bestuurslisensie te kry. Roadtrips in die Baskiese platteland sou nogal lekker gewees het.
Hoe gaan dit daar? Hier is dit 5 uit 7 dae van die week reënerig en koud en die son steek so nou en dan kop uit. Ek is alklaar moeg vir skool, al is dit nou eers die tweede week, en beplan reeds my volgende vakansie na ITALIA! Ek kan nie wag nie.
Groetnis,
Chrismarie
Beste Ami,
Guéthary is een van my gunsteling ‘petits villages’ in die pays Basque. Die dorpie bestaan hoofsaaklik uit vakansiehuise en drie of vier restaurante, ‘n surfskool (dis ‘n baie gewilde surf-”spot”) en hierdie klein vissershawetjie. Dis so rustig en die reuk van sout en see is aangenaam oorweldigend.
Ek weet dit is winter, maar vandat ek in Frankryk is, is ek verslaaf aan roomys; en die lekkerste roomys wat ek nog ooit geëet het was hier in Guéthary!
Hoop dit gaan nog goed daar in die Noorde!
xxx CM