‘n Franse avontuur

Ons gaan Frankryk toe! Vir die volgende 7 en ʼn half maande gaan ons plekke sien en dinge beleef waarvan ons nog altyd droom... Volg twee vriendinne se avontuur in die vreemde

Deel 5

Dagboek…

An-Mari

Saterdag, 24 Februarie: Béthune tot Lyon, Frankryk
Ek klim 7.20 op die bus in Béthune en klim 11 ure later in Lyon af. My hostel lyk baie oulik en het ʼn warm atmosfeer, al is dit bietjie ver van die middestad af.

Sondag, 25 Februarie: Lyon, Frankryk
Vir ontbyt koop ek vir my iets by die mark langs die Rhône rivier en verken die 2de-handse boekemark. Ek stap die steil Fourvière heuwel blaas-blaas op na die Basilika toe – en geniet die pragtige uitsig oor die stad terwyl ek asem skep. Die Musée Gallo-Romain verskaf bietjie geskiedenis en maak die ou romeinse amfiteater nog meer indrukwekkend. Ek stap weer af na die Ou Stad toe en drink ʼn koffie en geniet ʼn heerlike tarte aux pralines – ʼn spesialiteit van Lyon.

26 Februarie: Lyon, Frankryk
Dis ʼn yskoue dag – ek het die helfte van die klere in my tas aan en die wind sny my tot op die been. Ek kruip die meeste van die dag in koffiewinkels in die pragtige Vieux Lyon weg. Vir middagete geniet ek ʼn heerlike driegangmaaltyd in ʼn tradisionele Lyonese bouchon, en stap die middag rond tussen die twee riviere.

27 Februarie: Lyon tot Annecy, Frankryk
Ek kom so net na 12 in Annecy aan: ʼn pragtige klein dorpie op die Annecy meer in die Franse Alpe. Ek bly in ʼn Airbnb by ʼn ouer paartjie; vriendelike mense. Dis bitterlik koud maar ek stap al langs die meer dorp toe. Die natuurskoon is asemrowend en als is prentjiemooi. Ek eet ʼn tradisionele fondue by die gewildste restaurant in Annecy en verpas die laaste bus, so ek stap die halfuur huis toe teen ʼn rekordspoed in die donker.

28 Februarie: Annecy, Frankryk
Die perfekte begin tot die dag: ek sit op die grond soos ʼn plaasmeisie en drink koffie langs die meer. Elke eend in die kontrei kom nader toe hulle my croissant sien en ek waai hulle weg met ʼn stok, want hulle verstaan nie “voetsek” nie.  Ek wil eendag hier kom bly. Die vrede omvou mens nes die oggendmis – al is dit heeldag onder vriespunt.

1 Maart: Annecy tot Nice, Frankryk
Ek word wakker op die eerste dag van die lente, en buite is die meeste sneeu wat ek nog gesien het. Ek bou ʼn piepklein sneeuman en trippel in die sneeu rond soos ʼn kind. Die sneeu verloor sy sjarme toe dit my bus laat maak en ek my konneksie verpas – en drie keer meer moet betaal om in Nice aan te kom.

2 Maart: Nice, Frankryk
Ek het net 2 goed op die brein: kos en strand. Ek kry ʼn restaurant reg langs die see en eet ʼn hele pizza alleen op terwyl ek my verwonder aan die sonskyn en die golwe. Ek sit ure op die klippiestrand en kyk vir die mense en die see. Ek klim die kasteelheuwel uit vir die uitsigte oor die stad, en gaan weer af strand toe vir die sonsondergang.

3 Maart: Nice, Frankryk
Ek ontmoet ʼn Pretoria-meisie wat ook ʼn assistent is naby Nice, en ons spandeer die dag saam deur die Ou Stad te verken, al die klein winkeltjies deur te loop, en te eet. Mossels en aartappelskyfies, sokka, en die beste gelato wat ek nog ooit gehad het! Ons sit op die strand en eet ons roomys, en dan vaar ons die inkopiedistrik in waar ons heerlike window shopping doen en al die parfuums in Sephora probeer.

4 Maart: Menton, Frankryk & Monaco
Ek raak vinnig verlief op Menton. Dis ʼn lekkerverdwaaldorpie – hoe verder jy loop, hoe mooier word dit. Die geboue se kleure eggo die sitrusvrugte waarvoor die area so bekend is. Vir middagete eet ek die heerlikste seekos risotto van my lewe by ʼn Italiaanse restaurant. Daarna gaan ek Monaco toe net om te sê ek was daar. Dis ʼn Sondag vandag, so die hele Europa is slaperig. Monaco is reënerig en onder konstruksie, maar die bekende casino is nogtans indrukwekkend. Ek verkies egter die meer historiese Ou Stad met sy asemrowende uitsig oor die see.

5 Maart: St-Paul-de-Vence, Frankryk
Kunstenaarsdorpie op ʼn heuwel – ʼn sprokiesdorp. Ek het nie eers geweet sulke plekke bestaan in die regte lewe nie. Als is van klip en steen met groen rankplante wat deur die krake groei. Die ontelbare kunsateljees bevat wonderlike kunswerke. Europa het ʼn liefde vir kuns in my begin aanwakker wat nooit voorheen daar was nie, en hierdie dorpie blaas die vlamme aan.

6 Maart: Cannes, Frankryk – Venesië, Italië
Cannes is ʼn rykmanspeelgrond. Die strand en die hawe is pragtig en dis ʼn heerlike sonskyndag om saam met my nuwe vriendin langs die see te stap. Ons verkyk ons aan al die bote en seiljagte en wens ons kon net vir ʼn week so ryk wees. Langs die casino is ʼn reeks van beroemdes se handafdrukke, en ek kry ʼn foto saam met Julie Andrews (een van my heldinne) sʼn. Die aand klim ek op ʼn bus Venesië toe.

7 Maart: Venesië, Italië
Ek daag voor die son in Venesië op, en staan eers halfverdwaal by die busstasie rond voor ek bevriend raak met ʼn Japanese paartjie in dieselfde situasie. Ons vind ons pad treinstasie toe en drink saam koffie terwyl ons wag vir die tyd om aan te stap. Nadat ek ʼn vaporetto (oftewel ‘waterbus’) tot by my hostel op La Giudecca-eiland gevat het (en herstel het van die skokkende kaartjiepryse) verken ek Venesië. Ek gaan eet pasta en die restauranteienaar sê heeltyd vir my “dankie, dankie” toe hy hoor ek kom van Suid Afrika af. Ek verdwaal in die strate, en gaan koop gelato wat ek op die trappies van die Rialto-brug eet. Terug by die hostel ontmoet ek ʼn Franse meisie en ons gesels oor boeke en reis.

8 Maart: Venesië, Italië
Ek en die Japanese paartjie verken saam die stad. St Marco se plein en kerk is natuurlik eerste op hulle lys, en ons vat die langpad om na die Basilika di Santa Maria della Salute toe. Op pad soontoe ontdek ons kunsgalerye en geskenkwinkeltjies en pragtige straatjies en brûe. Ons eet heerlike pasta vir middagete, en daarna gaan ons verskillende rigtings in. Ek gaan sit langs ʼn kanaal met gelato en skryf in my dagboek terwyl ek die groepie rykmanskinders dophou wat vir die gondola wag. Laatmiddag kom ʼn mis uit die see uit en bedek die hele stad in ʼn pragtige spookagtigheid.

9 Maart: Burano, Italië – Béthune
Ek kry vir oulaas weer my nuwe vriende en ons gaan Burano toe met die vaporetto. Die eiland is soos ʼn reënboogstad – helderkleurige geboue oral. Die vrolikheid self. Ek kry nie genoeg foto’s geneem nie. Ek en die meisie koop elkeen ʼn goedkoop stelletjie Murano glasoorbelletjies. Vir kontras met die kleurvolheid, eet ons swart pasta vir middagete. Spaghetti al nero di seppia; ʼn Venesiese spesialiteit wat met ʼn inkvis-inksous gemaak word. Aansienlik smaakliker as wat dit lyk. Ek eet vir oulaas gelato terwyl ons terugstap boot toe.

Vroegaand klim ek terug op die bus en begin my 23-ure lange reis terug huis toe.

An-Mari en Chrismarie is skryfkunsstudente by die NWU. 2017
0
Would love your thoughts, please comment.x