‘n Franse avontuur

Ek gaan Frankryk toe! Vir die volgende 7 en ʼn half maande, gaan ek in ʼn klein dorpie naby Lille in die Noorde van Frankryk werk. Vir die volgende 7 en ʼn half maande gaan ek baie vêr wees van die bekende, en van my geliefdes. Vir die volgende 7 en ʼn half maande gaan ek plekke sien en dinge beleef waarvan ek al my hele lewe droom. En, vir die volgende 7 en ʼn half maande gaan ek julle daarvan vertel.

My naam is An-Mari Fouché. Ek is 22 en ek is nou ʼn finalejaar Taal- en Literatuurstudie student op die Puk. Skryfkuns, Engels en Frans is my hoofvakke en dis te danke aan laasgenoemde dat ek nou hierdie geleentheid het om Frankryk toe te gaan. Ek en Chrismarie Bester gaan Engelse assistente gaan wees by skole; ek in die Noorde en sy in die Suide, baie naby aan Spanje.

Ons vertrek die 26ste September vanaf SA, en dan land ek vroeg die volgende oggend in Parys. Van daar af vat ek die trein Lille toe en verder, tot by die dorpie waar ek gaan werk.

Ek het al klaar lysies van dinge wat ek wil doen en plekke wat ek wil gaan besoek terwyl ek daar is. Partykeer dink ek 7 maande gaan te min wees vir als wat ek wil doen! Ek het besluit om my hele reis goed te dokumenteer. Ek het notaboeke, ʼn nuwe kamera, ʼn blog, instagram, facebook, en hierdie Storiewerf-storie

Vandag oor 9 dae vertrek ons, en dan begin dit.

Ek gaan ook my Frankryk-avontuur dokumenteer op my persoonlike blog. Volg my gerus om meer te lees hieroor.

https://unrevedelafrance.wordpress.com/

Oor bietjie meer as ’n week vertrek ek na ’n plek wat al vandat ek kan onthou die agtergrond in al my drome is. Ek is nou ’n derdejaars tale- en literatuurstudent met ’n tekort aan slaap en heeltemal teveel kafeïne in my sisteem. Oor bietjie meer as ’n week gaan ek nogsteeds ’n derdejaarstudent met ’n tekort aan slaap en ’n oordosis kafeïne wees, maar ek gaan ook ’n Engelse assistent wees by ’n skool in ’n vreemde land. Vir sewe maande.

My hart klop vinniger sodra enige gedagte oor hierdie nuwe avontuur by my opduik. Veral wanneer die pak-gedagtes kom. Wat gaan ek vat en wat gaan ek los? 23 kilogram is darem baie min. Ek wonder of ek die lugredery kan bel en vra hoe hulle verwag dat ek my hele lewe in 23 kilogram moet inpas.

Behalwe vir hierdie panarie, is alles omtrent gereël. Ek het verblyf by die skool waar ek gaan werk, my vliegkaartjie is bespreek, ek het reeds navorsing gedoen oor die naaste yoga-studio, al wat nog kort is my visa (wat binne die volgende paar dae reg behoort te wees) en dan is ek op pad. Dit voel onwerklik. Ek dink dit sal eers insink wanneer ek die 26ste op daardie vliegtuig sit en saam hom opstyg. Ek kan nie wag vir die bekende gevoel van hoe jy styf terug gedruk word in jou stoel met die krag van die onbekende waarin jy vlieg nie.

Vir nou is daar nog ’n week van chaos by die universiteit wat vir my voorlê voordat my grootste droom realiteit word. Ek sien uit om hier op Storiewerf my ervaringe, goed en sleg, met almal te deel wat dit lees, en julle natuurlik jaloers te maak met ’n paar foto’s.

Oor 9 dae vlieg ek en my 23 kilogram bagasie Frankryk toe! Bayonne, hier kom ek.

Ek gaan ook my Frankryk-avontuur dokumenteer op my persoonlike blog en op instagram. Volg my gerus om meer te lees hieroor.
Instagram: @chrismarie_besterBlog: chrismariebester.wordpress.com

Oor die program

Die assistentskap wat ons gaan doen vorm deel van ‘n internasionale program waarvoor mens kan aansoek doen, wat deur onder andere die Franse Departement van Opvoeding, die verskeie Franse ambassades en Franse Alliansies behartig word. Om aansoek te doen, moet jy Frans ten minste op B1 vlak magtig wees. Ons neem al drie jaar Frans, en het in ons tweedejaar gehoor van hierdie geleentheid. Ons het toe die DELF B1 eksamen geskryf (terwyl ons tegnies nog op A2 vlak was – net onder B1), en wonder bo wonder deurgekom. Daarna het die lang aansoekproses gekom: vorms, motiveringsbriewe, aansoeke (alles in Frans, natuurlik), paspoorte, geboortesertifikate, en baie meer. Na dit het ons maande gewag om te hoor of ons aanvaar is en ons het uiteindelik in April finaal uitgevind: ons gaan Frankryk toe!

Ons is in verskillende skole geplaas (ons kon drie keuses gee waaruit ons dan geplaas word), en ons is albei by twee verskillendes geplaas. Ons gaan altesaam 12 ure per week werk en het ook skoolvakansies af. Ons werk behels basies om ‘n hulpmiddel te wees vir Engelse onderwysers, om oefenings en aktiwiteite met die leerlinge te doen om sodoende hul taal- en spesifiek praatvaardighede te verbeter, en om met klein groepies studente te werk om hul te help.

Meer oor die program hier: http://www.ciep.fr/en/foreign-language-assistants-in-france

Groete uit Nederland

Ik ben Lelani Viljoen en ek het besluit om ná my studies vir ‘n jaar te au pair in Nederland. Ek bly in ‘n klein dorpie genaamd Berkel en Rodenrijs, wat sowat tien minute met die kar van Rotterdam af is.  Dit is ‘n “knus” dorpie waar almal mekaar groet. Die huisies is opmekaar gebou, en hier is baie klein kanale wat deur die verskillende strate loop (in die foto is my straat, Zilvergrachtstraat).


Zilvergrachtstraat

Ek is nou al sewe weke in Nederland en dit is omtrent ‘n ervaring.  Vir my is ALLES anders hier. Die kultuur, die mense, die kosse, selfs die langbeenspinnekoppe lyk anders (hier is hulle ‘n ligte bruin kleur).

Dit was oorweldigend die eerste paar dae en VERSKRIKLIK koud!  Dan besef jy jy is alleen in ‘n vreemde land, oorsee, waar jy nie die taal verstaan nie (want nee, dit is nie so maklik om Nederlands te volg as die mense vinnig praat nie, en almal in Nederland praat vinnig). Gelukkig nie die kinders nie.  Hulle verstaan ek darem so 80% van die tyd.

Die kinders hier word baie liberaal grootgemaak. Dit is moeilik om te sit en kyk hoe kinders lelik met hulle ouers praat en te dink hulle het ‘n pak slae nodig (maar hier mag die kinders ook ‘n sê hê). ‘n Straf hier is om op ‘n stoeltjie te gaan sit in die gang. Welliswaar hou die kinders nie daarvan nie, maar dit is ook nie effektief nie. Ek sou sewe keer ‘n dag pak gekry het as ek die goed gedoen het wat hier as “oukei” gesien word. Maar dit is ook interessant om te ervaar.

Soos om ook die smaak van Nederlandse kos te ervaar. Stamppot is ‘n veelbekende Nederlandse dis waarvan mens verskillende soorte kry. My heel eerste aand het ons stamppot (Rucolastamppot) geëet en ek het byna onmiddelik Suid-Afrikaanse kos gemis. Dit het ‘n vreeslike bitter smaak gehad, maar ek het probeer om dit maar liefs af te dwing.  Net om later te hoor dis nie eintlik hoe dit moet proe nie. (Ons het dit weer geëet en dit was lekkerder). 

Elke aandete word ook natuurlik aan tafel geëet, iets wat nie meer so gereeld in SA gedoen word nie. En in hierdie tyd is dit waar mense met mekaar gesels oor die dag se gebeure. Terwyl ons in SA meer in stilte sal eet. Iets wat ek ook opgelet het, is dat hulle die hele ete deur praat, en nogsteeds eerste met leë borde sit anders as ek, wat daar gesit het sonder om ‘n woord te sê die aand.

Behalwe vir stamppot is daar ook baie lekker soetighede, soos stroopwafels. En ja, dit is so lekker soos dit klink, maar as ‘n meisie probeer ek maar matigheid voor oë hou. Dit is moeilik om een te eet en op te hou, daarom koop ek dit ook nie meer nie. Dit kom altyd in pakkies van minstens vier. So julle sien die probleem. 

Dit is regtig vir my anders om hier te wees. Elke dag voel nog vir my onwerklik. Dit voel snaaks om in ‘n buurt te woon waar huisies op mekaar gebou is (in SA het ek op ‘n groot plot gebly). Dit voel snaaks om iewers te wees waar daar nie een slaggat is nie, waar daar geen diefwering op die vensters is nie en waar jy elfuur in die nag van die treinstasie af kan stap na jou huis toe sonder om een keer oor jou skouer te kyk.  Maar dit voel nie net snaaks nie, dit voel ook goed.

Tot ‘n volgende keer.
Groete uit Nederland

Uit die verre Kuala Lumpur

My naam in Jana Kotze. Ek is 9 jaar oud en bly vanaf 30 Desember 2008 in Kuala Lumpur. My sussie se naam is Lia en sy is 6 jaar oud. My pa het kom werk hier in die Petronas “twin towers”. Ons geniet dit baie in Maleisië, maar ek verlang ook baie na my oupas en oumas in Suid-Afrika. My ouma en oupa in die Kaap pos elke week vir my en my sussie iets. Dit is baie lekker om pos in die posbus te kry. Hulle het verlede jaar vir ons kom kuier en dit was so lekker om hulle by ons te hê.

Ek gaan na ‘n Britse Internasionale skool en dit was aan die begin vir my baie moeilik om na die groot skool te gaan en heeldag na Engels te luister. Ek het partykeer baie gehuil en huis toe verlang. Ek het in SA graad 1 klaar gemaak en hier moes en die laaste kwartaal van graad 3 begin, ek toe het baie werk gehad om in te haal. Ons moes ook sommer vinnig gewoond raak aan al die verskillende kulture, gelowe en kos. Dit is baie lekker om maats te hê van reg oor die wêreld. My beste maats is van Engeland en Maleisië. Ek het ook maats van Japan, Korea, die Ukraiene, Italië en Denemarke. Ons het ook al dierbare maats van SA en party naweke kuier ons saam en dan braai ons lekker.


Hier is ‘n foto van my en Lia by ons skool. Dit was internasionale dag. Ek wou graag soos ‘n voortrekkerdogterjie aantrek en Lia het gehou van die Afrikastyl.

Die mense praat Bahasa Malay en ons het al baie gelag oor goed wat verkeerd verstaan word. Ons het al geleer om ‘n paar woorde te praat. So nou kan my ma darem die regte petrol in die kar gooi en die regte kos bestel. Maleisië is bekend vir baie lekker kos. My gunsteling is nasi kandar, dit is rys en verskillende kerries wat op ‘n piesangblaar bedien word, dan eet mens met jou hand. Byna alle kos hier het chillies in, maar ek en my sussie eet dit ook nou al en geniet dit baie. My sussie eet graag roti chanai, dis ‘n soort pannekoek wat mens in kerriesous doop. Daar is nog baie soorte kos. Noedels en rys is deel van alles. Die snaakste kos vir ons is ‘n soort nagereg wat gemaak word van fyn ys, daaroor gooi hulle verskillende strope, mielies, swart bone en jellierige goed. Dit proe nogal lekker maar ons het dit nog net een keer geëet. Die boontjies en mielies proe te snaaks saam met die soet stroop.

Ons vier ook baie feeste hier saam met die Chinese, Indiërs en Maleiers. Januarie is dit Chinese Nuwe Jaar en dit hou aan vir 6 weke. Dan skiet almal baie klappers om die bose geeste weg te jaag. Dis ‘n groot lawaai elke aand en ons slaap dan baie min. Die jaar is die jaar van die Tier op die Chinese Kalender. In Augustus is dit Ramadahn vir die Moslem mense. hulle mag dan vir ‘n hele maand net eet as die son sak en voor die son opkom. Dan kry mens baie lekker kos by al die restaurante. Dan is daar ook Deepavalii, die fees wat die Indiermense vier. Met elke fees mag ons die tradisionele drag van daardie mense aantrek skooltoe. Ons leer baie van ander mense en hulle leer van ons. Ons gaan Sondae na ‘n Kerk toe in die stad en my maats vra my baie uit oor wat ek glo.

Hier is nie vier seisoene nie, net ‘n reënseisoen en ‘n droë seisoen. Dit is altyd warm. Ons swem elke dag, net as dit donderweer mag ons nie swem nie. Ons moes ook gewoond raak aan die vreeslike donderstorms, soms klink dit soos bomme wat val en die vensters ratel. Teen vier uur in die middag begin dit gewoonlik reën. In die droë seisoen reën dit minder as in die nat seisoen, dan is dit monsoon en die reën val soos ‘n gordyn. Baie vinnig stroom die water dan sommer enkeldiepte in die pad af. Ons reën baie nat, maar dis warm reën. Mens voel altyd taai en natgesweet, maar na ‘n rukkie word mens gewoond daaraan dan sweet mens nie so baie nie. 

Dan is daar ook al die lekker plekke waar ‘n mens kan vakansie hou. Ons was al by baie mooi eilande rondom Maleisië, Thailand, Cambodia, Singapoer. En Oktober gaan ons Vietnam toe. Dit is lekker om al die plekke te sien.

Maar die beste plek is nog Suid-Afrika. Ons sal seker nog een jaar bly en dan teruggaan Kaap toe. Tot dan geniet ons alles wat ons hier kan doen en leer.

Baie groete
Jana

Ons aankoms in Japan

My eerste ervaring van Japan was wonderlik! Toe ons na ‘n LANG vliegtuigrit uiteindelik op die loopbaan van die Japanese lughawe in Fukuoka geland het, was ons baie verlig dat ons na maande van swerwe uiteindelik ons doel bereik het. Ek het nog nooit (behalwe in flieks) so baie motorkarre en motor-taxis gesien nie. Orals waar jy kyk is daar hoë geboue wat op mekaar gepak is. Nêrens sien jy dat die Japanese plek mors nie! Die huise is so naby mekaar gepak, dat die dakke amper raak. Dit is nou ‘n gesig!

Vervoer in Japan

Die openbare vervoer in Japan is uitstekend! Jy het ‘n keuse van bus ry, taxi, drie keuses van trein ry, vliegtuig en ‘n ferry boot. Orals sal jy busse sien wat jou na enige plek vat in Fukuoka.

As jy net jou hand lig, dan stop daar ‘n taxi voor jou voete. Dit kan miskien ‘n bietjie duurder wees as ander vervoer, maar as jy voor die stoep van jou bestemming afgelaai wil word, kies jy ‘n taxi.

Treine in Japan is heeltemal anderste as die van SA. In SA is daar amper geen openbare vervoer-treine nie, maar in Japan ry biljoene mense per dag trein. Jy kry ‘n moltrein, drie soorte spoed, bo-grondse treine en die koeël-trein wat jou na ander dorpe toe vat.

Die vliegtuie in Japan is die selfde as in SA, behalwe dat die prys baie goedkoper is! Al is die rand se waarde so sleg teen die Yen, is dit goedkoper. Vir ‘n vlug enige plek in Japan is dit ¥10000 (R600)!

Dan kry jy die ferry! As jy gewoontlik met ‘n kar ry, ry jy na die hawe toe waar jy op ‘n ferry se dek ry en dan vat die ferry jou na een van die ander eilande toe.

Die tegnologie en organiseerdheid

Alles in Japan is georganiseerd!! Op die treinstasies wag jy minder as drie minute en dan is daar ‘n trein.

Die busse in Japan is heeltemal anderste as in SA. Die busdrywers het ‘n mikrofoon voor hulle mond, waarop hulle jou die heeltyd inlig waar jy nou is. Hulle waarsku jou ook elke keer wanneer die bus gaan stop by ‘n robot of stopstraat en wanneer die bus gaan draai.

Al die openbare toilette is almal mooi versorg. Al die toilets spoel outomaties en hulle verhit jou ook van onder.

My skool

My ouers gesê ek gaan tuis skool doen op die computer. Maar ek het verkies om na ‘n publieke skool toe te gaan. ‘n Internasionale skool is te duur, so net ‘n Nasionale Japanese skool was die enigste opsie. Na ‘n ruk het dit ‘n baie sterk moontlikheid geword, want so sal ek ook die taal die gouste baasraak. Toe besluit ons dus om by die skoolhoof ‘n draai te maak. By die skoolhoof was alles in orde en die besluit is geneem dat ek van April (wanneer die Japanese skool se jaar begin) na die Japanese skool toe gaan. Ek moet net darem my wiskunde, Afrikaans en Engels op Breinlyn doen.

Toe ek en my ouers deur die skoolgebou gestap het na die saal, was dit chaos. Al die kinders wat my gesien het, het geskree: “Amerikajin!!” (Amerikaner) en toe my ouers vir hulle vertel ek kom van SA, was daar nog meer chaos! Al die meisies het om my gedrom en vir my in gebroke Engels vrae gevra ens. Een meisie het vir my in Engels gevra: “Do you like a Japanees garden?” maar eintlik het sy gesê: “Do you like a Japanees girl?” Toe sê ek ja! Toe was daar NOG meer chaos en ek het gewonder hoekom gaan hulle so tekere net omdat ek van ‘n tuin hou.

Die ergste was toe my pa vir hulle vertel dat ek klaar ‘n meisie in SA het, het hulle toe na mekaar gesê: “Then I’m number 2” en “And I’m number 3” ens. Dit was verskriklik. Wat ook verbasend was, toe die laerskool kinders deur die skool geloop het as ‘n toer, het al die kinders van die middel skool vanuit hulle klasse vir my gewaai en wou my hand skud en het niks gesteur aan die onderwyser wat probeer om vir hulle klas te gee nie. Toe ons in die motor klim om terug na die huis toe te ry, het al die kinders uit die skool vensters gewaai vir my!

‘n Gedig uit België

Suiwer of de not...

Nooit sou ek die waarde besef
van ‘n antwoord in Afrikaans
‘n Eenvoudige sin
sonder ‘n handgebaar
sonder huiwering
sonder die gekraak van ‘n telefoonlyn 

‘n Antwoord in Afrikaans,
suiwer of de not,
net plein direk

Wat ek nie sou gee as 
De la Rey De la Rey 
net kon kom lei
want 
waar my hart hoort 
borrel dit van verlange na

‘n Eenvoudige sin
sonder ‘n handgebaar
sonder huiwering
sonder die gekraak van ‘n telefoonlyn

‘n Antwoord in Afrikaans,
suiwer of de not,
net plein direk.

Helené Prinsloo (18) 2008

Suid-Afrika en België ontmoet…

Twee klasse, een uit Potchefstroom (Suid-Afrika) en die ander uit Lichtervelde (België) het ‘n interessante projek onderneem en sommer baie pret gehad.

In die projek, In de warmte van moeder Braaien, het kinders uit twee vastelande, vriende gemaak, geskryf, gelees, geleer, gelag, geniet..

Waar het die projek begin?

Die Vlaamse skrywer, Lieve Hoet, wat ‘n storieboek geskryf het oor meerkatjies in die Kalahari (Loedolf, het stokstaartje), het tydens ‘n reis in Suid-Afrika onder andere Potchefstroom besoek. Toe sy later gevra is om betrokke te raak by ‘n groot projek in die gemeenskap van Lichtervelde het sy gewonder of ‘n skool in Potchefstroom nie dalk lus is om saam te werk nie…

Wie was betrokke by die projek?

In Suid-Afrika: Die graad 7 klas (2005) van Laerskool Hendrik Potgieter, mev. Hannie Rautenbach (hul Afrikaans onderwyseres) en Franci Greyling (Vakgroep Skryfkuns, Noordwes-Universiteit). 

In België: Die 1ste leerjaar A van die Middenschool Sint-Rembert van Lichtervelde, Lieve Hoet (skrywer), Annelies Verbeke (skrywer), Jan Maes, asook die Vrienden van Zuid-Afrika. (Jan Maes is voorsitter van KLIK wat die groot projek ‘Meetingpoint Lichtervelde’ organiseer het en bedryfsleier by die uitgewery Die Keure wat die boek gedruk het.)

Wat het die projek behels?

Leer mekaar ken
Om mekaar te leer ken, het die twee klasse met mekaar gekorrespondeer en ook foto’s van hulself oor en weer gestuur.

Leer van ‘n ander land
Die Vlaamse skrywer, Annelies Verbeke, het Laerskool Hendrik Potgieter besoek en vir die klas meer oor België en Lichtervelde vertel. Later het sy en Lieve Hoet die klas in Lichtervelde besoek en vir hulle van Potchefstroom en Suid-Afrika vertel.

Leer van diere
Die boek, Loedolf, het stokstaartje, het die basis gevorm vir die projek.
In die boek kom daar heelwat diere, voëls en insekte voor. Elke deelnemer het ‘n dier uit die boek gekies. Die klas in Lichtervelde het die boek gelees en vrae oor die diere uitgedink, terwyl die klas van Hendrik Potgieter navorsing oor die diere gedoen het.

Maak ‘n video
Die klas in Lichtervelde het elkeen ‘n vraag oor ‘n dier gevra wat die kinders van Hendrik Potgieter moes beantwoord. ‘n Video is gemaak van die vrae en antwoorde, ‘n toneeltjie deur die klas van Hendrik Potgieter, en interessante inligting en foto’s van die diere.

Stories skryf 
Elke deelnemer het ‘n storie, vertelling of gedig oor hulle dier geskryf.

‘n Boek
‘n Pragtige bundel is in België uitgegee met bydraes in Afrikaans en Nederlands. Hier spog die klas van Hendrik Potgieter met hulle boeke. (Hulle is nou in graad 8 Hoërskool Volkskool, Potchefstroom.)

‘n Fees
Die hoogtepunt van die projek in Lichtervelde was die bekendstelling van die projek en bundel op 3 Mei 2006. ‘n Baie interessante funksie is aangebied. Die klas het die gaste met tromspel verwelkom, die Suid-Afrikaanse volkslied gesing, Uit Noag se ark (A.G. Visser) voorgedra, musiek gemaak en stories uit die boek voorgelees.

‘n Muurskildery wat die klas van Lichtervelde geverf het, is deur die saakgelastigde van die Suid-Afrikaanse ambassade, meneer C.A. Basson onthul.

Die video is vertoon en die aand is afgesluit met Suid-Afrikaanse eetgoed soos bobotie en melktert.

Wat het die projek beteken?

Die twee klasse het baie geleer van hulself, hul eie taal, land en diere – maar ook van ander, ‘n ander taal, land en kontinent.

“Door ons project is de andere kant van de wereld ineens een stukje dichterbij gekomen en kregen we er nieuwe vrienden bij die leren, spelen, grappen uithalen, enthousiast zijn … net als wij. Zoveel verschil is er nu ook weer niet.” (Lisa Denoo en Marlies Vlaemynck)

G’day, mate!

As ek nou in Australië was, sou ek só begin het: “G’day, mate, my name is Lynnéh Cilliers.” Maar op die oomblik kuier ons in Suid-Afrika.
Ek is 9 jaar oud en in graad 4 in die Hanwood Openbare Skool in Griffith, Australië.

Op Kersdag 2003 het ons na Australië gevlieg. Dus bly ons nou al 16 maande in die land van die kangaroe. My pa is ‘n stadsbeplanner en my ma ‘n suster by die hospitaal. My suster, Ellyn, is in graad R. 
Griffith, die dorp waarin ons bly, is in Nieu-Suid-Wallis. Dit het omtrent 24 000 inwoners. Rondom Griffith is daar baie lemoenboorde en druiweplase. 

My skool is ‘n plaasskool. Dit is die oudste skool in Griffith. Daar is omtrent 200 leerlinge in die skool. Omdat daar baie Italianers in Griffith is, is een van my skoolvakke Italiaans. Ons eet dikwels Italiaanse kos. 

Oor naweke en in vakansies het ons gesin baie interessante plekke in Australië besoek. 

In ‘n dorp met die naam Shepperton het ons Mooooooving Art teëgekom. Dit is koeie – beelde van koeie, nie regte koeie nie – wat in allerhande helder kleure geverf is. 

In Melbourne het ons die hele dag trem gery en in die see geswem.
Ons was ook al in Sydney. Daar het ons die bekende operahuis gesien en ook die groot hawebrug. 

Canberra was ook baie wonderlik. Dit is die hoofstad van Australië. Daar is te veel museums, ‘n mens kan nie alles in een dag sien nie.
Die lekkerste plek vir my was egter Falls Creek met sy baie sneeu. Ons het ure lank op die klein houtsleetjies ge-“taboggen”. 

In die herfs maak hulle hier in Griffith groot sitrusbeelde van lemoene. Die beelde word gebou deur verskillende groepe in die dorp. Die beelde kan dae aaneen gesien word.

Daar is baie riviere in Australië, soos die Murrayrivier, die Murrumbidgee, die Snowyrivier (julle ken mos The Man from Snowy River?) en die Lachlan-rivier. 

Ons het tot nou ‘n baie lekker 16 maande in Australië gehad, waar daar so min misdadigers is. 

Maandag vlieg ons terug na Australië. Ek sien baie uit daarna. 
See ya later!

‘n Briefie uit Kanada

Hallo almal, my naam is Ashley Lange en ek word 10 jaar oud op 23 Mei 2005.

Ek en my mamma en pappa het al ons vriende en familie gegroet en op 26 Januarie 2005 vertrek vanaf Jan Smuts Lughawe na Kanada. Ons het eers gevlieg tot op Frankfurt lughawe en van daar na Kanada. Die vlug was baie lank gewees en ons het baie laat die aand van 7 Januarie 2005 geland op die lughawe in Fort McMurray.

Ons het in Suid-Afrika in Secunda gewoon. Dit is presies 27 000km van waar ons gebly het tot hier waar ons nou bly. Ons dorp is omtrent 1 000km vanaf die Noordpool. My pappa sê dit maak nie saak van watter kant van die aardbol jy omvlieg om hier uit te kom nie, dit sal nog steeds 27 000km vêr wees.

Ek is in die St. Anne Catholic School en het al nuwe maats gemaak by my nuwe skool. Dit is lekker om met gewone klere en los hare skool toe te gaan. My juffrou is ook baie vriendelik en help my baie. Ons skool begin 08:15 en kom 14:30 uit, dan kom haal my mamma my. Ek kyk elke middag bietjie cartoons en dan begin ek met my huiswerk. Noudat dit begin somer word gaan ons ook na
die parkie toe.

Almal wat hier bly is baie vriendelik en hulle hou baie van ons
Suid-Afrikaanse aksent, hulle sê dit klink vir hulle baie mooi. Dit sneeu hier in die winter en dit kan tot -40?C word, dit is baie koud maar ons huise is lekker warm binnekant. In die winter ski almal en dan moet jy lekker warm aangetrek wees met die regte klere. Mens moet ook versigtig loop op die ys anders kan jy gly en val. Dit is nou besig om somer te word en die sneeu het al baie gesmelt. Lente begin in Mei en herfs in September.

Ons het vir ons fietse gekoop en ry al lekker rond. Die mense ry baie fiets of draf hier in die somer of geniet net die warm buitelug. Omdat hier so baie bere is moet ‘n mens beer-klokkies aan jou fietse vassit sodat hulle jou kan hoor aankom. Hier is ook jakkalse en Moose wat rondloop. Die bere slaap nog en sal eers later wakker word maar ek wil nie graag in ‘n beer vasloop nie want hulle gaan baie honger wees na die lang winter!

Op die oomblik bly ons in ‘n woonstel en kan ons nie diere aanhou nie. Ons is besig om vir ons ‘n huis te laat bou en as ons ingetrek het gaan ek vir my ‘n troedeldier kry. Ek kan nie wag om my eie hondjie te hê nie. My mamma wil graag vir haar ‘n kat kry sonder hare maar ek hou van ‘n kat wat hare het.

Ek mis my ouma en oupa-hulle vreeslik baie en kan nie wag om hulle weer te sien nie. My pappa en mamma stuur darem vir hulle baie foto’s van alles wat ons doen en ek gesels ook met hulle oor die foon. Dit was ‘n groot besluit wat ons geneem het om hierheen te kom maar my pappa en mamma het gesê dat dit vir my ‘n beter geleentheid sal gee vir my toekoms, maar ek sal altyd ‘n kind van Suid-Afrika bly.

Baie groete,
Ashley Lange

My skool is in die woestyn!

“Marhaba, ismi Lindie” ~ dit beteken “hallo, my naam is Lindie” in Arabies.
Ek bly al vir sewe maande in die Verenigde Arabiese Emirate. My Pappa is ‘n diplomaat en sy werk het hom na Dubai gestuur vir die volgende vier jaar.

My skool is in die woestyn! Dit is ‘n nuwe gebou met sand oral om die skool. Ek neem Engels, Frans, Arabies, Wiskunde, Ligaamsoefeninge, Musiek, Rekenaar en Kuns as vakke. In Augustus sal ek na graad 5 toe gaan. Nou is dit nog lekker lang vakansie. Ek verjaar ook een van die dae. Ek gaan my partytjie eers hou wanneer al my maats terug is van hulle vakansies. My maatjies kom van Korea, Engeland, Finland, Amerika, Kanada en Holland. Ek het ook ‘n Arabiese maatjie van Egipte.

Elke dag waai die sand so baie, dat ek soms nie eers twee meter voor my kan sien nie. Daar is vreeslik baie sandstorms hier en dit is ook te warm om in die son vir twee minute te staan. Niemand wil eers na die see gaan nie omdat die water voel soos badwater! My arme termometer kan net tot 50 grade gaan en dit is deesdae al 46 grade!

Oorkant ons huis is daar ‘n paar palmbome met lekker trosse ryp dadels op. Vanoggend het ek ‘n man gesien wat sommer opgespring het en ‘n dadel gepluk het. Partykeer sien ek groen sakke wat om die trosse gebind word deur die munisipaliteit. Dit is om te keer dat die dadels op die straat val en dat voeltjies dit eet. In Dubai is daar waterlorries wat soms die bome se blare afspuit omdat die sand en stof nie mooi lyk op die blare nie.

Die wereld se duurste en ook ‘n sewe ster hotel is hier in Dubai, naby ons huis. Die hotel lyk soos ‘n seilskippie en ek noem dit sommer die “skippie hotel”. Die regte naam van die hotel is Burj Al Arab wat beteken “perel van Arabie”. In die aande is daar by die ingang van die hotel groot vlamme wat elke nou en dan opvlam en mooi lyk van ver af. Wanneer dit doker raak kan ‘n mens ook wit liggies sien wat dans teen die gebou voordat elke vloer ‘n kleur verandering kry wat aan en af gaan. Meestal is dit blou, pers, pienk, geel, rooi en groen.

Ek verlang na al my maatjies in Pretoria en ek verlang ook na my ou skool. Soms stuur ek briewe of poskaarte vir my maats. Ek raak baie opgewonde wanneer ek sien dat ek ook ‘n brief kry.

Groete van
Lindie Botes

‘n Brief uit Engeland

My naam is Lize Marx, ek is nou 7 jaar oud. Ek het op 11 Junie 2003, 7 uur die aand al my familie en maatjies gegroet op Jan Smuts Lughawe. Ons het toe gevlieg na Amsterdam en op 12 Junie 2003, 11 uur die oggend op Leeds-Bradford Lughawe in Engeland geland. My pappa is ‘n tandtegnikus en Mamma is ‘n huisvrou. Ek het ook ‘n boetie, hy is nou amper 2 jaar oud, sy naam is Ruan.

Ek hou daarvan om hier te lewe, dit is baie lekker in Engeland. Die somer was baie mooi en warm en in die winter het dit al lekker gesneeu. Ons het ‘n sneeuman agter die huis gebou. Ek mis my niggie Karla baie!

Voordat ons ‘n kar gekoop het, moes ek bus ry om by die skool te kom. My skool se naam is Thackley Primary School, ek is die enigste Suid-Afrikaner in die skool. Die maatjies lag as ek Afrikaans met hulle praat. Max, Sydney, Lucy, Dale, Nicola en ek speel lekker saam by die skool. My juffrou se naam is Mrs Gresswell en Mrs Greenwood. Mrs Greenwood is my leesjuffrou, sy is die wonderlikste juffrou in die hele wêreld. Die skooldag is lank, van 9 uur tot half vier in die middag. Ons werk ook op die rekenaars by die skool, ICT.

Ons voel baie veilig hier. My pappa werk baie lekker. Ons bly in ‘n huis ouer as 100 jaar, ek slaap in die heel boonste kamer met ‘n dakvenster nes Liewe Heksie se kombuis. Ons het ook al ons Afrikaanse videos van Heidi en Heksie saamgebring en ook al ons Afrikaanse storieboeke. Daar is drie vloere met ‘n kelder onder, dis baie spooky daar.

Ons het visse, een se naam is Blondie, ander een is Blackie en ander een is Goldie. Ek en my boetie gee vir hulle saam kos. Ek het ook twee mooi teddies, hulle name is Rain en Soft. My Ouma het oor Kersfees vir ons kom kuier en BAIE persente saamgebring. Dit was baie lekker, ek het vir haar Skipton Castle gaan wys, ook Rievaulx Abbey en Pickering Castle. Ons het ook op Scarborough se strand geloop waar ek skulpies en klippies opgetel het. Dit was baie mooi.

Ek mis Suid-Afrika baie, en ek mis my troeteldiere en ons groot tuin.