Twee klasse, een uit Potchefstroom (Suid-Afrika) en die ander uit Lichtervelde (België) het ‘n interessante projek onderneem en sommer baie pret gehad.
In die projek, In de warmte van moeder Braaien, het kinders uit twee vastelande, vriende gemaak, geskryf, gelees, geleer, gelag, geniet..
Waar het die projek begin?
Die Vlaamse skrywer, Lieve Hoet, wat ‘n storieboek geskryf het oor meerkatjies in die Kalahari (Loedolf, het stokstaartje), het tydens ‘n reis in Suid-Afrika onder andere Potchefstroom besoek. Toe sy later gevra is om betrokke te raak by ‘n groot projek in die gemeenskap van Lichtervelde het sy gewonder of ‘n skool in Potchefstroom nie dalk lus is om saam te werk nie…
Wie was betrokke by die projek?
In Suid-Afrika: Die graad 7 klas (2005) van Laerskool Hendrik Potgieter, mev. Hannie Rautenbach (hul Afrikaans onderwyseres) en Franci Greyling (Vakgroep Skryfkuns, Noordwes-Universiteit).
In België: Die 1ste leerjaar A van die Middenschool Sint-Rembert van Lichtervelde, Lieve Hoet (skrywer), Annelies Verbeke (skrywer), Jan Maes, asook die Vrienden van Zuid-Afrika. (Jan Maes is voorsitter van KLIK wat die groot projek ‘Meetingpoint Lichtervelde’ organiseer het en bedryfsleier by die uitgewery Die Keure wat die boek gedruk het.)
Wat het die projek behels?
Leer mekaar ken
Om mekaar te leer ken, het die twee klasse met mekaar gekorrespondeer en ook foto’s van hulself oor en weer gestuur.
Leer van ‘n ander land
Die Vlaamse skrywer, Annelies Verbeke, het Laerskool Hendrik Potgieter besoek en vir die klas meer oor België en Lichtervelde vertel. Later het sy en Lieve Hoet die klas in Lichtervelde besoek en vir hulle van Potchefstroom en Suid-Afrika vertel.
Leer van diere
Die boek, Loedolf, het stokstaartje, het die basis gevorm vir die projek.
In die boek kom daar heelwat diere, voëls en insekte voor. Elke deelnemer het ‘n dier uit die boek gekies. Die klas in Lichtervelde het die boek gelees en vrae oor die diere uitgedink, terwyl die klas van Hendrik Potgieter navorsing oor die diere gedoen het.
Maak ‘n video
Die klas in Lichtervelde het elkeen ‘n vraag oor ‘n dier gevra wat die kinders van Hendrik Potgieter moes beantwoord. ‘n Video is gemaak van die vrae en antwoorde, ‘n toneeltjie deur die klas van Hendrik Potgieter, en interessante inligting en foto’s van die diere.
Stories skryf
Elke deelnemer het ‘n storie, vertelling of gedig oor hulle dier geskryf.
‘n Boek
‘n Pragtige bundel is in België uitgegee met bydraes in Afrikaans en Nederlands. Hier spog die klas van Hendrik Potgieter met hulle boeke. (Hulle is nou in graad 8 Hoërskool Volkskool, Potchefstroom.)
‘n Fees
Die hoogtepunt van die projek in Lichtervelde was die bekendstelling van die projek en bundel op 3 Mei 2006. ‘n Baie interessante funksie is aangebied. Die klas het die gaste met tromspel verwelkom, die Suid-Afrikaanse volkslied gesing, Uit Noag se ark (A.G. Visser) voorgedra, musiek gemaak en stories uit die boek voorgelees.
‘n Muurskildery wat die klas van Lichtervelde geverf het, is deur die saakgelastigde van die Suid-Afrikaanse ambassade, meneer C.A. Basson onthul.
Die video is vertoon en die aand is afgesluit met Suid-Afrikaanse eetgoed soos bobotie en melktert.
Wat het die projek beteken?
Die twee klasse het baie geleer van hulself, hul eie taal, land en diere – maar ook van ander, ‘n ander taal, land en kontinent.
“Door ons project is de andere kant van de wereld ineens een stukje dichterbij gekomen en kregen we er nieuwe vrienden bij die leren, spelen, grappen uithalen, enthousiast zijn … net als wij. Zoveel verschil is er nu ook weer niet.” (Lisa Denoo en Marlies Vlaemynck)