Ferdinand skryf die laaste vraestel van sy matriekeksamen, maar hy is nie bekommerd nie – hy weet hy sal, soos altyd, goed vaar. Tog, wanneer hy die middag by die huis kom, pak die rusteloosheid hom – dieselfde rusteloosheid wat hom agtervolg van die dag af toe hy en sy tweelingbroer Ben in ’n motorongeluk en die goue seun Ben ’n breinbesering opgedoen het en weer soos ’n klein kind geword het. Ferdinand het al lank gelede besluit hy wil nie saam met sy mede-matrikulante gaan feesvier nie. Nou gryp hy ’n paar goed en vat die pad met sy fiets – sommer ’n rigting in. Die dorpies word al hoe kleiner, die omgewing al hoe meer verlate. Teen skemeraand stop hy by ’n klein kafeetjie op ’n piepklein dorpie. Dit is terwyl hy met die ou man wat so vreemd bekend lyk, sit en skaak speel dat hy háár skielik sien – die mooiste meisie wat hy nog in sy hele lewe gesien het. Dis vir haar wat hy nog sy hele lewe gewag het, weet hy ineens. Hy los die ou man net so agter die skaakbord en volg haar deur die groeiende donkerte – tot in ’n ander werklikheid.