3+ jaar. Die aand toe Max sy wolweklere aantrek, is hy vol streke en stoutigheid en hy word sonder aandete bed toe gestuur. Maar in sy kamer groei daar ’n woud. En sy verbeelding neem hom na Wildekanisland, waar hý, die wildste wildeding van almal, die vreeslose koning word. Max neem deel aan die wildekanisse se wilde pret, maar raak gou verveeld met die nuwe avontuur en seil terug huis toe – waar sy aandete in sy kamer wag, nog steeds warm! Wildekanisland, oorspronklik bekend in Engels as Where the wild things are, is vyftig jaar oud! Nuwe afdrukke van Maurice Sendak se kunswerke maak dié klassieke boek meer spesiaal as ooit tevore. Hierdie ikoniese werk was die wenner van die 1964 Caldecott-medalje vir die mees vooraanstaande prenteboek van die jaar en gryp al dekades lank kinders en grootmense se verbeelding aan. Dit is steeds een van die mees geliefde prenteboeke van alle tye ter wêreld. Hierdie subtiele meesterstuk sal kinders weer en weer teruglok om hulself te kom verwonder aan Sendak se toweragtige teks en prente.