Meraai-ramielie-mieliemeel,
‘n Worshond het my hart gesteel,
Langste snoetjie, langste stert,
Stinkste asempie, maar soene werd.
Liefste Meraai-ramielie-mieliemeel,
Jy’s jou ma se oogste-appel,
en sy lief jou al te veel.
(c) Nandi Lessing-Venter (2015)
Ons springkasteelpartytjie
Vandag hou ons partytjie
vandag het ons ‘n fees
vandag gaan ons die konings
van ons eie springkasteel wees.
‘n Kasteel met torings en mure
en ‘n vloer om op te spring
‘n leer vir klim en klouter
en ‘n sloot met water in.
Ek is die koning,
hier is my troon.
Ek’s ‘n prinses
met die blinkste kroon.
Ons klim en klouter
en spring en hop
en gly in die water
met ‘n kroon op die kop.
Spat spat!
Papsopnat!
Klim en klouter,
hop en spring,
gly in die water
lag en sing.
Spat spat!
Papsopnat!
Maar wat gebeur dan nou?
Wat is dit wat so sis?
Hoekom lyk dit of daar fout
met ons springkasteel is?
Die kasteel begin te waggel
en die mure word slapper
die torings word pap
en die vloer al hoe platter.
Pasop! Gee pad! Spring uit!
Net betyds uit die groot gevaar!
Want kyk nou net daar:
hier waar ons kasteel eers was
lê nou net ‘n waterplas!
Spat spat!
Papsopnat!
(c) Franci Greyling
‘n Muis in die huis
“Hier’s ‘n muis in die huis!” skree ma verskrik
en spring op die stoel dat die pote ruk,
dat die koppies van die tafel val
en die muisie woerts by die deur uit nael.
“‘n Muis in die huis?” roep pa verbaas.
“Is dit die rede vir die groot geraas?
Gee hier die besem, bring die flits!
Ek jaag hom weg – die stoute klits!”
“Hier’s ‘n muis in die huis,” sê ek te bly.
“Nou gaan ek tog ‘n geldjie kry.
In my tekkie, onder die bed,
dis waar ek my voortand het…”
“Hier’s ‘n mens in die huis!” piep muis verskrik
en hol deur die gang dat sy stertjie wip.
“Waar is die kamer, waar is die tekkie
waar is die beste wegkruipplekkie?”
“EEEEEEEEEEEEEEEAAAAAAAAAA!”
(c) Franci Greyling
wurms met tamatiesous
wurms op jou brood
wurms is bobaaskos
lewendig of dood
wurmpies vir aandete
en wurms vir ontbyt
mopaniewurm-roerbraai
vir ‘n lintwurm-aptyt
Jaco Jacobs
Uit: Wurms met tamatiesous en ander lawwe rympies
LAPA Uitgewers
Rooikappie
Rooikappie loop in die bos
met ‘n heerlike mandjie kos.
Sy huppel
en trippel –
Vandag gaan sy weer
haar liewe Ouma sien.
Wolf staan skielik voor haar.
Sy voel sommer naar!
“Ek sê jou wat”, grom hy.
“Jy vat
die kortste en ek die langste pad!”
Haastig loop Rooikappie aan,
sy is seker sy ken die kortste baan.
Toe sy Ouma se deur oopstoot
lê sy daar –
klaar dood!
Nare Wolf het my gefop!
“Houtkapper!” skree sy
“Kom kap af sy kop!”
(C) Elma van den Berg
WOERTS & WARTS & WOU – 1
Onder die mat
voor Polla se deur
bly ‘n iet en ‘n at
en ‘n wie-weet-wat.
Die iet se naam is Woerts,
die at se naam is Warts.
Die wie-weet-wat heet Wou.
Hy’s rond en geel, met ogies blou.
Woerts is vinnig en baie fyn,
Warts is plat en piep-piepklein.
Onder die mat voor Polla se deur
Bly al drie lekker en ongesteur.
Wat eet Woerts en Warts
en wat eet Wou?
Stof en sand en korrels grond –
dis waarvan hulle hou.
O wee, wat gebeur
as Polla huis toe kom?
Vuile voete, sole vol grond
Oral lê die bewyse rond:
Polla het vergeet,
Polla het versuim,
Polla moes onthou het
om haar voete te vee!
Modderspore deur die huis,
sand in Ma se skoon kombuis …
En die arme iet en die arme at
en die arme, arme wie-weet-wat
wag pers van die honger
en vaal van die lus
onder die mat
vir hul grondkorreldis.
(C) George Weideman
WOERTS & WARTS & WOU – 2
By die kraan in die tuin sit Polla en speel.
Sy bou ‘n reuse-modderkasteel.
“Kyk!” sê Woerts. “Kyk!” sê Warts.
“Wat op aarde bou Polla Swarts?”
“Wat dit is, weet ek nie,” sê Wou
en hy lag só lekker dat hy dubbeld vou:
“Kyk net hoe lyk haar linkerknie!”
“Sy’s lekker vuil,” sê Woerts, “is sy nie?
Haar hande en voete is bruin en bont,
aan haar neus sit ‘n knewel van ‘n modderklont!”
Dis tog te lekker om so te speel,
Maar nou kom die moeilikste deel:
Afspoel by die kraan, dit mooi toedraai,
Dan bad toe om te skrop en te was.
Toe Polla gaan eet, is sy skoon en fraai.
Woerts en Warts en hul vriend Wou
laat spaander na die plas.
Want nou kan húlle partytjie hou!
(C) George Weideman