Anja en die zombie-apokalips

Anja en die zombie-apokalips

Lisa Kruger
“Skoert, jou vieslike gedierte!” Anja se krieketkolf tref die zombie se kop met ’n dowwe DONK. Die zombie wieg effens agteruit en kry ʼn verwarde kyk op sy muwwerige groen gesig.

“Skoert, jou vieslike gedierte!”

Anja se krieketkolf tref die zombie se kop met ’n dowwe DONK. Die zombie wieg effens agteruit en kry ʼn verwarde kyk op sy muwwerige groen gesig. Dan verloor hy sy balans heeltemal en val plat op sy rug.

Anja draai om en hardloop. Dis Reёl Een van die zombie-apokalips: Wees vinniger as hulle!

Die verlate huise vlieg verby haar. Haar bene en haar longe brand al, maar sy kyk eers oor haar skouer toe sy ʼn hele ent weg is.

Sy gaan staan verbaas. Die zombie het opgestaan, maar in plaas daarvan om haar te volg, draai hy om en begin in die teenoorgestelde rigting skuifel.

Anja frons. Dit het nog nooit voorheen gebeur nie.

Sy kyk die zombie agterna soos wat hy deur die vuil straat beweeg. Dis amper asof iets hom weggeroep het… En sy MOET weet wat dit is.

Sy voel-voel aan haar kop om seker te maak dat die fietshelm wat sy altyd dra nog stewig sit. Dis Reёl Twee van die zombie-apokalips: Beskerm jou brein!

Dan sluip sy stilletjies agter die zombie aan.

ʼn Geknars langs die pad haar laat haar skrik. ʼn Tweede zombie strompel uit die bosse van ʼn verwaarloosde tuin. Anja vries, maar hy loop verby haar agter die eerste zombie aan, asof hy haar nie eens sien nie.

Anja wag totdat hulle ʼn entjie weg is voordat sy weer normaal begin asemhaal.

Kort voor lank sluit daar nog zombies by hulle aan. Hulle almal ignoreer vir Anja en hou aan om in dieselfde rigting te loop. Anja volg hulle op ʼn veilige afstand.

Hulle kom voor ʼn huis tot stilstand. Dis nie een van die vervalle huise waaraan Anja gewoond is nie. Die vensters is nog heel en daar is ʼn stewige veiligheidsheining rondom die erf. Daar drom ʼn skare zombies teen die heining saam.

Anja stop en lig haar krieketkolf op, reg om te slaan as een van die zombies haar probeer gryp, maar die zombies kyk glad nie vir haar nie.

“Iets is aan die gang daarbinne,” mompel Anja by haarself. “Ek wonder wat dit kan wees…”

Sy loop stadig tussen die zombies deur. Hulle ignoreer haar heeltemal. Naby aan die heining is ʼn boom waarvan die takke oor die heining hang. Anja sit haar krieketkolf versigtig teen die stam neer en klouter in die boom op. Dit vat haar nie lank om al met ʼn tak langs te skuif totdat sy bo-oor die heining is nie. Sy spring af.

Buite stamp die zombies nog teen die veiligheidsheining, asof hulle daardeur wil gaan. Anja grinnik by haarself. Reёl Drie van die zombie-apokalips: Wees slimmer as hulle!

Sy loop versigtig na die voordeur toe. Dis gesluit. Net toe sy besluit om rondom die huis te loop, beweeg die gordyn van die venster langs die deur.

“Hallo?” roep sy.

Die enigste antwoord is die zombies se gekreun. Dis doodstil binne die huis.

Anja frons. “Ek weet hier is iemand. Kyk, jy kan mos sien ek is nie ʼn zombie nie!”

Sy tree voor die venster in en beduie na haarself.

“Ehm…” kom ʼn temerige stem agter die gordyn uit. “Goed… Ek maak nou oop.”

Daar is ʼn skuifelstappie binne die huis en dan gaan die houtdeur op ʼn skrefie oop. ʼn Tingerige man in ʼn wit jas loer vir haar oor ʼn knypbrilletjie. Sy wilde grys hare staan soos ʼn stralekrans om sy kop.

“Hello,” sê sy. “Ek is Anja. Hoekom drom die zombies so om die huis saam?”

“Ek is Professor Cerebrum,” sê hy en maak die deur ʼn klein bietjie wyer oop. “Die zombies soek my brein.”

ʼn Wetenskaplike! dink Anja opgewonde. “Hoekom juis Prof se brein?”

Hy sug so hard dat sy grys neushaartjies tril. “My brein is bonatuurlik groot.”

“Weet zombies dan hoe groot ʼn mens se brein is?” vra Anja gefassineerd.

“Aha!” Professor Cerebrum lig ʼn vinger op. “Dis ʼn interessante vraag. Jy sien – ” hy gee ʼn tree in die huis in en Anja volg hom, “wanneer ʼn mens dink, skei jou brein ʼn sekere reuk af.” Hy beduie na ʼn swartbord teen die muur met ʼn reuse skets van ʼn brein daarop. Anja staar oopmond na al die wetenskaplike byskrifte en formules.

“So mens kan ruik as iemand hard dink?” vra sy. Sy haal stilletjies deur haar neus asem om agter te kom of sy iets ruik.

“Natuurlik kan ʼn MENS dit nie ruik nie,” sê Professor Cerebrum. “Maar ʼn ZOMBIE se reuksintuig is baie meer gevorderd as ʼn mens sʼn.”

Anja loer benoud oor haar skouer. “Prof moes seker baie hard gedink het om soveel zombies hier te kry.”

“Natuurlik het ek hard gedink,” sê Professor Cerebrum met ʼn snuif. “Ek het sopas die teenmiddel vir Zombiose ontdek!”

“WOW!” sê Anja opgewonde. “Mag ek dit sien?”

Professor Cerebrum steek sy hand in een van sy wit jas se sakke en haal ʼn proefbuis uit.

Daar is ʼn groen, slymerige vloeistof in die proefbuis. Klein borreltjies styg opwaarts, amper asof dit baie stadige gaskoeldrank is.

“Dit neem weke om ʼn effek te toon, maar dit is steeds ʼn belangrike deurbraak.” Professor Cerebrum bêre die proefbuis weer in sy sak. “Ek wens net ek kon dit êrens heen vat waar dit ʼn verskil sal maak.”

“Kom saam met my!” sê Anja. “Ek is oppad na ʼn kamp vir oorlewendes toe!”

“Maar ek kan nie buitentoe gaan nie,” sê Professor Cerebrum.

“EEEEUUUUGGGGG,” kreun ʼn zombie buite. Anja besef dat al wat ʼn zombie is vir Professor Cerebrum gaan bespring as hy selfs net ʼn toon by die tuinhekkie uitsit.

“Sê nou maar ons vermom Prof se brein-reuk? Daar moet iets wees wat sterk genoeg ruik.” Anja draai na die kombuis se kant toe. “Vrot eiers, of – ”

“Buite die kwessie!” sê Professor Cerebrum vinnig. “Ek dink hard genoeg dat hulle my kilometers ver kan ruik. Eiers gaan niks help nie.”

“O.” Anja wonder of hy eintlik net nie besmeer wil word nie, maar sy sê liewers niks nie. Miskien moet sy die teenmiddel self na die oorlewendekamp toe vat. Dit kan tog lewens red. En Professor Cerebrum gaan nie maklik uit sy huis kan kom, met die dat hy so hard dink nie…

“Wag,” sê Anja skielik. “Hoekom hou Prof nie net op om te dink nie?”

Professor Cerebrum lyk ingedagte. “Kan dit werk? Hmm…”

“Kom ons kyk!” Anja draai om en draf by die voordeur uit.

Daar is meer zombies as vroeёr. Hulle drom harder teen die heining saam toe professor Cerebrum by die huis uit kom. Anja sluk en hoop maar dat die heining sal hou.

Sy draai om. “Prof moet nou ophou dink, sodat ons kan sien of dit werk.”

“Ek probeer al om op te hou vandat ons buite is,” sê hy en en pluk-pluk gefrustreerd aan sy wilde grys hare. “Hoe doen mens dit?”

“Probeer net om aan niks te dink nie,” stel Anja onseker voor. Dit kan tog nie so moeilik wees nie?

Die plooitjies op Professor Cerebrum se voorkop kreukel inmekaar soos wat hy konsentreer.

KLANG!!! ʼn Zombie met ʼn beblomde strandhoed op sy kop gooi homself hard teen die heining. Sy kwyl spat meters ver en die hoed vlieg van sy kop af. Die ander zombies kreun en drom harder saam soos hulle probeer om by professor Cerebrum uit te kom.

Professor Cerebrum gooi sy hande in die lug.

“Ek kan nie!” kerm hy.“Ek kan nie aan NIKS dink nie! As ek aan NIKS kan dink, dan is NIKS tog IETS! En hoe kan NIKS IETS wees as dit nie bestaan nie?”

Anja vee vieserig ‘n sliert zombiekwyl van haar gesig af. “Daar moet ʼn manier wees. Ons het net nog nie daaraan gedink nie.”

Iets in haar eie woorde laat haar nadink. “Daaraan gedink…” prewel sy. Dan draai sy opgewonde om. “Ek het dit!”

“Werklik?” vra die professor mismoedig.

“Prof, waaraan dink zombies?”

Hy gaan staan doodstil. “Wel… dis ʼn fassinerende vraag. Zombies het nie breine nie, maar hulle kan beweeg. Dit laat ʼn mens wonder of hulle nie tog sekere kognitiewe funksies het nie…”

“So hoekom probeer Prof nie soos ʼn zombie dink nie?”

Professor Cerebrum staar na haar. “Wat bedoel jy?”

“Maak asof Prof self ʼn zombie is!”

“Dit kan ʼn interessante eksperiment wees,” sê hy stadig en vryf oor sy ken. “Om jou instink te volg, eerder as jou denke…”

“Kom ons probeer dit!” sê Anja. “Het Prof al Prof se navorsing?”

Hy beduie na sy kop. “Hierso.” Hy haal ʼn notaboekie uit sy ander sak en wys dit vir Anja. “En hier, vir ingeval die zombies my brein kry.”

Hy druk die notaboekie terug in sy sak en steek sy arms stokstyf voor hom uit, soos ʼn zombie. Dan draai hy sy kop skeef, laat sy mond oophang en kreun: “EEEEEEEEUUUUUUUUUGGGGGH.”

Dis so realisties dat ʼn rilling by Anja se rug afgly. Sy loer na die heining toe. Die zombies staan en wieg verveeld heen en weer.

“Dit werk,” fluister Anja opgewonde. “Kom ons gaan!”

Die tuinhekkie kraak toe Anja dit oopstoot. Professor Cerebrum se adamsappel spring op en af soos wat hy sluk, maar hy hou sy arms dapper voor hom uit en stap uit.

Die zombies kyk nie eens in sy rigting nie. Anja haal diep asem en volg hom.

ʼn Paar tree tussen die zombies in besef sy skielik dat hulle almal na haar staar. Noudat die professor ophou dink het, kan die zombies háár brein natuurlik beter ruik. ʼn Lang zombie snuif-snuif in die lug bokant haar, soos ʼn jaghond wat sy prooi ruik. Anja kan voel hoe die zombie se vrot asem deur haar hare beweeg. Sy sluk en wens haar krieketkolf was nie so ver weg nie.

Sy steek vinnig haar hande voor haar uit en kreun.

Breine, breine, breine, breine, dink sy. Sy hou haar oё op professor Cerebrum se rug soos wat hy stadig tussen die zombies deurskuifel. Breine, breine, breine.

Die lang zombie gee ʼn teleurgestelde kreun en draai weg.

Anja volg die professor stadig maar seker tussen die skare zombies deur. Haar arms brand en haar hart hamer in haar borskas, maar sy laat haarself nie toe om daaroor te dink nie.

Die professor hou aan loop totdat hulle ʼn paar blokke van sy huis af is. Uiteindelik waag Anja dit om versigtig rond te kyk. Daar is nie meer ʼn zombie in sig nie.

Sy laat sak haar arms en loop vinnig om die professor in te haal.

“Ons kan maar ophou!” roep sy. “Dit gaan hulle ʼn rukkie vat om ons in te haal, selfs al kan hulle ons nou ruik.”

“EEEEEEEEEEUUUUUUGGGHHH,” kreun die professor.

Dan skud hy sy kop, asof hy wakker skrik. “Jammer,” sê hy verleë en laat sy arms sak. “Ek het my heeltemal ingeleef. Wat ʼn interessante eksperiment!”

Anja skud haar kop, maar sy glimlag verlig. “Ek het vir ʼn oomblik gedog hulle het vir Prof gekry.”

“Darem nie,” sê Professor Cerebrum. Hy haal die proefbuis uit sy sak en glimlag vir die eerste keer vandat Anja hom ontmoet het. “Nou kan ek uiteindelik die teenmiddel met ander mense deel!”

Anja lag. “En ons het iets nuuts oor zombies geleer! Reёl Vier van die zombie-apokalips: Om slimmer te wees as ʼn zombie, moet jy soms dommer wees as een!”

Lisa Kruger
Lisa Kruger is ‘n Skryfkunsstudent aan die NWU. Sy het die verhaal geskryf as deel van die module oor die skryf van kinder- en jeugverhale.
Kopiereg Lisa Kruger
Illustreerder: Henrico Greyling
Oktober 2020
0
Would love your thoughts, please comment.x