Die blouaap, die dassie en die druiwetros

Die blouaap, die dassie, en die druiwetros

Shania Koortzen
Die son het skaars oor Klein Rooiberg opgekom in die droë, dorre Kakamas, toe lê Dassie reeds toe-oë uitgestrek op ʼn rots.

Die son het skaars oor Klein Rooiberg opgekom in die droë, dorre Kakamas, toe lê Dassie reeds toe-oë uitgestrek op ʼn rots. Hy het besluit om vir so rukkie te bak voordat hy moet begin rondsoek vir sy ontbyt. Nes hy sy oë oopmaak om die helder son vir weer ʼn keer te groet, vang ʼn beweging sy oog.

Dassie

Dis ʼn blouaap wat skarrel oor die leë rosyntjiebane. Dit is nie die eerste dier wat Dassie sien rondsoek vir kos nie. Wat wel Dassie se aandag trek toe hy die tweede keer kyk, is wat eintlik vir hom aanloklik is.

“Daai is nou ‘n maaltyd wat enige bosvelddier aan sal wil smul. Ek glo ek het my ontbyt nou raakgesien, nou moet ek dit net uitsorteer.”

Blouaap

Blouaap huppel van opgewondenheid terug na sy kameeldoringboom. Hy kon vanoggend ‘n heerlike vet druiwetros by die Groot Boer steel. Hierdie maaltyd sal sy maag vir die trommeldik hou! Dalk vier, as hy spaarsamig eet. Sy stertjie houvas die druiwetros styf terwyl sy pootjies rats teen die bas klouter. Hy lê terug met ʼn sug, en net voor hy die eerste korrel pluk, hoor hy ʼn bekende stem.

“Môre, ou Apie, jou wonderlike wese!”

Die son het skaars oor Klein Rooiberg opgekom in die droë, dorre Kakamas, toe lê Dassie reeds toe oë uitgestrek op ʼn rots.

Blouaap draai sy kop en sien hoe Dassie onder die boom op sy agterpote staan. Hy word effe agterdogtig, kyk maar weg en hou sy druiwetros bietjie stywer in sy pote vas.

Dassie hou voort: “Apie, die dier waarna ek so opkyk, het jy darem ʼn heerlike nagrus gehad?”

Apie kan nie help om te lag vir Dassie se bogstorie nie. Hy draai terug na Dassie en begin hom ondervra. “Wat soek jy hier, Dassie? Dis so skaars soos hoendertande dat jy jou wipstertjie oor die hele vlakte tot hier by my kom karwei.”

“Ek is net hier om bietjie te gesels, ou Apie. By die rotse daar anderkant raak dit soms eensaam, en watter voorreg is dit nie om hierdie beeldskone oggend saam met jou kan te spandeer nie.”

Blouaap kyk nou, van sy takkie af, vir Dassie in die oë: “Beeldskone oggend?”

 “Dis is eintlik meer ʼn manjifieke oggend, is dit nie? Dis nou nie so manjifiek soos jy nie, Apie, met jou tandjies so skerp soos ‘n Khoi-San spies. Jou standvastige pootjies met kloue wat skrik vir niks. Jou pels wat so skitter in die sonlig. Jou driedubbele krulstert wat jou laat hang en draai en swaai.”

Blouaap voel gevlei deur Dassie se woorde, en vergeet heeltemal van sy agterdog. Hy vat die druiwetros in sy stert vas, en hang nou van die tak af om Dassie se komplimente in te drink.

“Dis so gaaf van jou om al hierdie dinge te sê, Dassie. En jy is seker nie verkeerd nie. My stert is nogal sterk.”

Druiwetros

Dassie se mond water terwyl hy na die druiwetros staar. Dit hang nou so naby aan hom, hy kan dit amper proe!

“Nogal sterk? Jy hoef jou nie nederig te hou nie, my Kalahari-neef. Jou stert is duisend maal beter as myne. Dit is dubbeld my ou dassie-lyfie se lengte, en is so ʼn pragtige kleur.”

Dassie sien hoe Blouaap sy komplimente opslurp. Hy weet hoe Blouaap se ore sing as iemand sy ego so streel. Hy weet ook hoe naby hy is aan sy ontbyt. Hy moet nou ʼn slim plan hier beraam.

“Ek het jou al dopgehou van my ou rotsie af. Ek het gesien hoe jy glip en gly deur die takke. Dit lyk so asof jy soos ʼn duif deur die lug sweef. Ek sal natuurlik nooit iets van daardie aard kan regkry nie.”

Blouaap sit ʼn met vet glimlag op sy gesig. “Dit is maar net ʼn gawe waarmee ek geseën is, my liewe Dassie. Geen dier is eenders nie. Dit is maar net blote toeval dat ek die talentvolste tussen al die diere is.”

Dassie sien sy kans. Hy begin in ʼn vervalste stemmetjie vir Blouaap smeek: “Ag, Apie, ek kyk al vir weke net van die verte af. Wys my tog hoe jy so klouter en draai, terwyl ek nog hier naby sit. Dit sal hierdie manjifieke oggend net soveel beter maak!”

“Net omdat jy so mooi vra!” skaterlag Blouaap.

Blouaap begin sy stert ontrafel, gooi sy pote in die lug en begin te spring… en laat los die druiwetros. Met ʼn plof val die druiwetros in die sand. Terwyl Blouaap nog parkaatse uithaal, skarrel Dassie so vinnig soos hy kan om die druiwetros op te raap.

Luidkeels roep Dassie uit na Blouaap: “Dankie vir die vertoning, my geagte neef, en ʼn ekstra dankie vir my ontbyt! Alhoewel daar dalk nou ʼn paar pap korrels mag wees, is ek meer as tevrede.”

Blouaap staar in ongeloof na Dassie. “Waarom kon jy my so verraai met jou vleiende woorde, jou lummel!”

Dassie antwoord: “Waarom vertrou jy iemand wat jou so kan flous en vlei?”

(“Die blouaap, die dassie, en die druiwetros” is ‘n verwerking van Esopus se “Die jakkals en die kraai.”

Shania Koortzen
Shania is ‘n student in Skryfkuns aan die Noordwes-Universiteit. Sy het die verhaal geskryf as deel van die module oor die skryf van kinder- en jeugverhale.
Illustrasies deur Henrico Greyling
Kopiereg: Shania Koortzen
Februarie 2021
0
Would love your thoughts, please comment.x