Die kettiekoningin en die groen slymmonster

Die kettiekoningin en die groen slymmonster

Carla Botha
'n Reuse, groen, slymerige monster, met bruin vlekke op sy haai-agtige tande, spring agter 'n muur uit! Hy gee 'n brul, wat enige leeu sal laat piep soos ‘ n muis.


‘n Reuse, groen, slymerige monster, met bruin vlekke op sy haai-agtige tande, spring agter ‘n muur uit! Hy gee ‘n brul, wat enige leeu sal laat piep soos ‘ n muis. Slymdruppels vlieg deur die lug en sproei die meisie met die gitswart hare vol in die gesig.

Rika ruk so van die skrik, dat van haar springmielies uit die bakkie, in haar hand, uitspring. Dit maak dowwe plofgeluide op die pizzaboks wat voor haar op die vloer lê. Dit laat haar weer skrik.

Ricardo lag. “Ag siestog! Sussie, is die fliek te kwaai vir jou?”

“Nee!”

Sy skop in sy rigting. Hy koes. Dis nagdonker in die TV kamer. Selfs in die donker kan mens die gemors sien. Buitelyne van leë pizza bokse, gefrommelde sjokolade papiertjies en geknakte koeldrankblikkies vorm spookagtig in die TV se flitse.

 “Jy gaan my môre help opruim, Boeta! Ma gaan ons hok vir altyd!”

Ricardo kry so ‘n stoute glimlag op sy gesig. “Ek het die pizza gekoop,” sê hy vermakerig, “jý ruim op.”

Sy skop hom op sy skouer. Hy trek sy gesig asof dit baie seer was, maar sy spiere is so groot en hard, sy het dalk seerder gekry as hy.

Rika loer onderlangs vir haar boetie. Ricardo is al op universiteit en sy is nou maar eers in die laerskool. Sy is ‘n laatlammetjie, sê haar ma altyd.

Sy is mal daaroor as hy haar met sy rooi Golfie by die skool kom haal. Sy gee nie eers om dat die ou Lady Bird, soos haar ouboet dit noem, sulke dik rookwolke uitspoeg as hulle wegtrek nie. Al haar maats is tog al te jaloers op haar, dat sy so ‘n groot, sterk en oulike boetie het.

Dit is die heel eerste keer wat Ma en Pa haar heeltemal alleen by haar boetie los vir ‘n hele naweek. Pa moes weggaan vir werk. Ma is saam. Hulle kom eers Sondag terug.  Dan moet hierdie plek silwerskoon en skitterblink  wees, maar dis môre se probleem. Vanaand eet hulle al die gemorskos wat hulle kan inkry en hulle kyk die grillerigste 10+ flieks wat hulle in die hande kon kry.

Rika sal nou nie wil erken dat sy bang is nie, maar sy is baie, baie bly dat haar groot, sterk, skopboks-kampioen-boetie daar is om haar te beskerm. 

Hulle slaap net daar in die TV-kamer. Op Ma se strooikussings, met komberse wat hulle in die spaarkamer gaan haal het. Ma sal histeries raak, as sy sien wat vanaand hier aangaan.

Rika ruk wakker. Nagmerrie. Sy het gedroom van daardie groen monster. Sy moes nie so baie blikkies koeldrank gedrink het nie. Sy gaan nie nou toilet toe nie. Dis te donker en sy’s nou nie bang nie, net versigtig. Sy draai om en om, maar die slaap wil net nie kom nie.

Gedwee staan sy op.

Sy sluip met haar selfoonliggie badkamer toe. Ricardo slaap soos ‘n klip maar sy wil nie hê enige monsters moet haar hoor nie. Sy kry eintlik lag vir haarself as sy terug loop TV kamer toe. Monsters? Verbeel jou!

Sy hoor voetstappe en staan stil. As Ricardo haar vanaand skrikmaak, slaan sy wraggies sy wind uit. Ricardo snork rustig op die bank. Daar hoor sy dit weer. Sy trippel in Ricardo se rigting. Hy kan maar weet sy’s bang sy gaan hom nóú wakker maak.

TRRRRRRRRRRRRR!

Skielik bulder ‘n oorverdowende, skril, trillende piepgeluid onder haar voet uit en skeur deur die stilte. Sy spring tot amper bo-op Ricardo en hy spring meteens op. Hulle stamp koppe.

 “Wat… wat… wat… was dit?” Ricardo klink nog deur die slaap. Hy vryf sy kop.

Rika sukkel om haar asem terug te kry.

“Dit klink soos… uhm… een van Rixie se speelgoed? Ek’t daarop getrap,” fluister Rika.

“Ek’t voetstappe gehoor.”

Daar is ‘n geluid by die venster. Hulle val plat.

Rixie is hulle baba niggie wat in Australia bly. Sy hou van speelgoed wat ‘n geweldige geraas maak. Net een klein probleempie. Sy was nog nooit in hulle huis nie.

“Hoe kom die Rixie speelding hier?” Ricardo klink ook nou bang.

“Ek het nie gesê dit ís haar speelding nie! Ek het gesê dit klínk soos haar speelding!” Rika se oë rek en sy beduie oor Ricardo se skouer.

Daar is ‘n groot groen bondel van ‘n ding by die venster. Hulle verstar. Hulle haal skaars asem.

“Kruip na my kamer toe.” Ricardo fluister teen Rika se oor.

Sy maak soos hy sê. Sy kruip nie regtig nie, sy seil eerder op haar maag. Sy kan voel Ricardo is reg agter haar. Hy stamp elke nou en dan met sy arm teen haar been. Hy seil ook op sy maag.

In sy kamer sit Rika haar liggie aan. Ricardo grou in sy kas. Sy weet nie wat hy doen nie, maar sy vertrou hom. Hy kom weer terug na haar toe waar sy steeds op haar maag lê.

Hy sit haar ou kettie in haar hand. Oupa Hans het jare gelede vir hulle elkeen ‘n kettie gemaak. Sy kan nie glo dat hy dit al die jare gehou het nie. Sy kettie is in sy hand. Daar is ‘n geluid by sy kamervenster. Hulle sien hoe die groen bondel slymmonster sy klou deur die oop venster steek.

“Op drie,” fluister Ricardo.

Rika knik. Hulle kry hul ketties gereed, gelaai met groot, vet albasters.

“Een… Twee… Drie!” Die blinder beweeg. Hulle skiet. Die venster kraak. Hulle skiet die een albaster na die ander. Hulle tref die muur, die blinder, die gordyn, die venster.

Die monster skree.

Sy stem klink baie bekend?

Sy stem klink soos Frikkie s’n!

Frikkie is hul boelie van ‘n buurseun, wat altyd met Rika moeilikheid soek, by die skool. Hy wou hulle kom bangmaak! Hulle hoor hoe Frikkie weghardloop. Rika hardloop venster toe. Sy skiet weer. Frikkie gryp sy boud vas en skree.

“EINAAAAAAAAAAAA!”

“Gee my vyf, sussie! Jy is en bly maar die kettiekoningin!”

“Dankie, Ric! Ai, die venster! Môre moet ons opruim én ‘n nuwe venster laat insit,” sê Rika moedeloos.

“Geen probleem nie. Ma sal van niks weet nie en Frikkie gaan jou nooit weer pla nie. Maar ek wonder nog oor daardie speelding wat daardie aaklige geluid gemaak het!”

“Aah! Ek weet!” Rika se gesiggie helder op. “Frikkie se kleinsussie het ook so een!”

Ricardo tel vir Rika op in sy sterk arms en swaai haar soos ‘n lappop deur die lug. Sy skater van plesier. Plesier en verligting.

Carla Botha
Carla het die storie geskryf vir Storiewerf se skryfkompetisie, 2021
Kopiereg Carla Botha
Illustreerder: Carla Botha
April 2022