“Goed! Lekker aand, bulle,” sê meneer Reinders. “Ek laat weet julle more-oggend wie’s in die span.”
“Tot siens, meneer.”
“Naand, meneer.”
“Meneer moet soet wees!”
Meneer Reinders lag vrolik. “Moenie vir my sê ek moet soet wees nie, ek skop jou dif af!”
Die ouens loop na die motors in die parkeerarea, skakel motorfietse aan of stap by die hek uit. Ek moet self aan die beweeg kom, ek moet nog taxi-staanplek toe. Die son sit al laag, sodat die berg ‘n koelte oor die woonbuurt gooi. Dit was ‘n lekker dag, maar die winter is nog lank nie verby nie.
“Hei, Mason! Wil jy nie ‘n draai kom maak nie?”
Ek kyk op van my skoene wat ek aan die vasmaak is. My togs is in ‘n plastieksak langs my, my sweetpakbaadjie bo-op. Ek los dit eers daar omdat ek nog warm kry.
Dis André Lourens wat my geroep het. Sy vel is sproeterig en bleek, sy hare en wenkbroue swart. ‘n Bietjie knopboude vir ‘n wit man, maar hy’s een van die beste atlete in die skool. Hy vaar nie so goed in die klas nie, maar ek ook nie.
“Kan nie.” Ek kyk weg, oor die rugbyveld waar van die ouens nog ‘n bal rondgooi. “Ek moet my pa gaan help.”
“Hy vang mos vis?”
“Um.”
“Net gou, man. Dis op jou pad.”
Hy staan hande in sys ye, iets vriendeliks aan sy groen oë. Hy moet net so moeg soos ek wees, want op die veld moet jy hom dophou, hy’s oral. Hou van afshow, moet heeltyd koes en swenk en vals aangeë maak.
“Dis moeilik,” sê ek, “ek moet die taxi vat. As ek eers afklim, gaan ek later moet wag en dan raak dit donker en . . .”
“Ry saam met ons. Ek sal my pa vra om jou later huis toe te vat.”
Hy beduie na die parkeerarea waar ‘n wit bakkie nog staan. Dit lyk soos vyftig ander in die dorp, maar die man agter die stuurwiel ken ek van sien. ‘n Mens hou mos maar jou opponent se dinge dop, en dis wat ek en André blykbaar is.