Mallemeule-dag

Monoloog – Laerskool
Luisé Louw
Katrien is `n lewendige tienjarige wat kort is teen die ander kinders van haar ouderdom.
Ouderdomsgroep: Graad 3- 4
Karakter: Katrien is `n lewendige tienjarige wat kort is teen die ander kinders van haar ouderdom. Sy het `n ouer sussie, Jana (12), en `n ouer boetie, Pieter (15), en hulle en hul ouers spandeer die dag by die pretpark.
Stel: Slegs ‘n stoel word benodig wat kan dien as die karsitplek of ritte by die pretpark. Hier is ruimte vir improvisasie.

Mallemeule-dag

(Katrien neul by haar pa)
Pappa, Pappa, wanneer ry ons?
(Luister)
Maar dit was nou-nou al nou-nou!
(Luister)
Jippie!
(Trippel oor die verhoog na die kar en gaan sit ongeduldig)
Ouch, Pieter! Moenie my stamp nie!
(Kyk by die venster uit terwyl hulle ry)
(Wip opgewonde op haar sitplek rond) Ek sien die mallemeule! Ek sien hom!
(Stry met haar sussie) Is nie – ek het hom eerste gesien! Jy jok, Jana!
(Spring uit die kar uit en is dadelik weer opgewonde)
Pappa, Pappa, kan ek op die mallemeule ry?
Eers kaartjies kry? Agge nee!
(Staan ongeduldig in die ry)
Pappa, maak gou, asseblief, Pappa.
(Glimlag breed en begin aanstap na die verskeie ritte)
Oe, Pappa! Stampkarretjies! Asseblief, asseblief kan ek daar gaan ry? 
So boem-boem, brrrrrrr, eeeeuuh, doef! (Maak of karretjies ry)
(Trippel na die karretjies en meet haarself by die lengtemeter)
Wat? Nie lank genoeg nie?
(Frons en steek lip uit, vou arms baie ontevrede)
Maar hoekom mag Pieter en Jana dan ry? Dis onregverdig!
(Gaan sit moedeloos op die grond en kyk)
(Mompel by haarself) Dis onregverdig… ek wil ook! Ek is oud genoeg, net nie lank genoeg nie!
(Kyk op na broer en suster asof hulle klaar is) Moenie vir my sê hoe lekker dit was nie! (Steek tong uit)
(Staan op en loop na die volgende rit)
(Spring opgewonde op en af)

Kyk die boot! Kyk die boot! Ag asseblief, Pappa, kan ek op hom gaan ry?
(Gaan staan opgewonde voor die lengtemeter – staan op tone)
Nie lank genoeg nie? Wat!
(Doen weer dieselfde – ontevrede)
Hoekom mag Pieter en Jana alles doen? Dis onregverdig!
(Kyk op na Ma)
Ja, ek wil op iets anders gaan ry waar Pieter en Jana nie mag nie!
(Trippel agter Ma aan en gaan staan voor die rit)
Mamma, ek wil nie perdjies ry nie. Dis vir babatjies!
(Klim ongewillig op `n perd se rug)
(Mompel ontevrede) Ja, al wat ek mag ry is die baba-perdjies! (Praat eentonig) Al in die rondte, al in die rondte… kyk hoe opgewonde is ek! Die perdjies is baie lekker! Lekker, lekker!
(Klim van die perdjies af)
(Glimlag sarkasties) Ja, dit was lekker. Maar ek wil eerder op daai ding gaan!
(Loop opgewonde soontoe, meet)

Alweer te kort? Ek sal liewer in die kar gaan sit en wag!
(Kyk na Ma)
Goed. Ek sal op iets anders gaan ry.
(Loop na `n rit)
Dis die baba-treintjie. (Nie in haar skik) Mamma, kan ek nie op iets anders ry nie?
(Luister) Goed dan. (Sug)
(Klim op die treintjie en lyk verveeld) 
Treintjie-ry, treintjie ry, hoera… Lekker, lekker. 
(Sing verveeld) Tjoeke-tjoeke-paf, tjoeke-tjoeke-paf-paf, kyk hoe ry ons in die babatrein…
(Klim van die treintjie af)
Mamma, kan ons nou huistoe gaan?
(Luister)
(Sug) Okay, as ek dan rêrig moet…
(Stap na `n rit) Dis dan die mallemeule! Hulle gaan seker hier ook sê ek is te kort!
(Skop die sand)
Vir enige iemand? Rêrig? So ek kan ry?
Jippee!
(Klim met nuwe energie in die mandjie saaam met die res van die gesin)
Wheee! Uiteindelik is daar een rit wat ons almal saam kan ry!
Ek, Pappa, Mamma, Pieter en Jana!
(Glimlag tevrede)

Luisé Louw
Die tekste is geskryf deur Skryfkunsstudente aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus).
2003-01-01
Kopiereg Luisé Louw

As jy dié stuk wil opvoer, stuur ‘n versoek aan kollig@storiewerf.co.za
met jou naam, ouderdom, die titel, en waarvoor jy dit wil gebruik.

0
Would love your thoughts, please comment.x