Weerwolf

Johannes Coetzee

Ek onthou nog daardie aand asof dit nou net gebeur het. Hoe kan enige iemand so iets vergeet? Ma en Pa dink seker ek het al vergeet, ek was tog so klein, seker nie meer as vier jaar oud nie. Maar sulke goed bly by ’n mens, my drome laat my nie toe om te vergeet nie. Dit was ’n aand net soos vanaand, die volmaan…

***

Die volmaan skyn vaal tussen die boomtakke deur. Pa sê dis al amper middernag. Die perd se hoewe maak dowwe plofgeluide op die grondpad en daar kom ’n wit wolk by sy neusgate uit elke keer wat hy uitasem.

“Ons moes nie so laat gery het nie,” sê Pa. Hy vee met sy een hand oor sy voorkop en vee sy hande een vir een aan sy baadjie af.

“Ag Hendrik, jy weet mos hoe Stoffel kan raak, as hy eers begin met ’n storie kan hy nie ophou nie,” fluister Ma.

“Watter tipe dominiee vertel sulke stories? Hy gaan vir Henkie laat sleg slaap.”

“Ons moet bevoorreg voel dat die dominiee ons genooi het vir aandete,” probeer Ma die vrede bewaar.

Pa trek aan die leisels om die perdekar tot stilstand te bring.

“En nou Hendrik?” vra Ma verbaas. “Ek dink jy het vir Henkie wakker gemaak.”

“Ek dink ek het iets in die bos gesien, ek gaan gou kyk.” Hy begin van die perdekar af klim.

“Maar ons is amper by die huis, ek kan al die windpomp sien,” kerm Ma.

“Dit kan nie langer wag nie, Anna!” bulder Pa. Hy haal diep asem. “Moenie bang wees nie, ek sal nou terug wees, as enige iets gebeur, gryp vir Henkie en roep my naam, ek sal jou hoor.” Voor Ma nog iets kan sê hardloop Pa tussen die bome in.

“Waarheen gaan Pappa?” vra ek.

“Hy gaan net iets kyk, hy sal nou terug wees, kom, jy kry seker koud.” Sy gooi ’n dik kombers oor ons.

Die geluid van ’n tak wat kraak verbreek die stilte. Dit ruk my uit my warm, ongemaklike slaap uit.

“Wat is dit?” vra ek met ’n bewerige stem.

“Dis seker jou pa wat terug kom, slaap maar verder.” Ek kan voel hoe haar hand op my skouer bewe.

Ons kan nou nie meer so goed sien nie, die mis begin dik oor die pad hang. Daar is weer die geluid van takke wat kraak. Dié keer nader. Ma druk my stywer teen haar vas. Ek dink sy is besig om iets te fluister.

“En vergeef ons onze schulden…” Hoekom bid sy?

Hierdie keer kom daar ’n ander geluid tussen die bome uit. Dit is nie ’n tak wat kraak nie. Ek gryp die kombers tussen my vingers vas toe ek dit hoor. Pa moet nou terug kom. Daar is dit weer. ’n Diep donker gromgeluid.

“Zoals ook wij vergeven,” bid sy nog steeds.

Ek kyk in die mis in. Ek kan die skaduwee bome sien. En twee kolle. Twee rooi kolle. Hulle beweeg heen en weer. Daar begin ’n skaduwee om die twee kolle vorm. Dit lyk eers soos ’n man. Maar mense het nie sulke ore nie.

“Aan onze schuldenaren.” Ma begin nou harder bid.

Sy sit en wieg met my in haar arms. Is dit wat Pa in die bosse gesien het? Skielik verander die grom in ’n brul. Die skaduwee beweeg na die agterkant van die perdekar toe.

Die perdekar ruk terwyl iets op die dak land. Ma begin nog harder bid, sy skree nou die Onse Vader.

“En leid ons niet in verzoeking, maar verlos ons van de boze!” Haar stem breek met die laaste woord.

Die perd begin hardloop. Dan is die skaduwee op hom. Hy sak inmekaar en dit klink amper as of hy gil. Die perdekar kom tot stilstand en ek en Ma val amper vooroor.

Die skaduwee draai om. Hy kry ’n gesig. Daar is ’n bloederig snoet wat blink in die maanlig. Kort, harde gromme kom tussen massiewe skerp tande uit. Drade bloed hang by hulle af.

Daardie rooi oë kyk honger vir my terwyl die dier op twee bene na ons toe stap. Hy buig sy bene en maak reg om te spring. Dis die laaste wat ek gesien het. Ma vou ons soos ’n kokon in die kombers toe. Sy gaan lê bo-oor my.

Ek voel hoe ek harder teen die bankie vasgedruk word. Die dier se geroggel is nou oorverdowend. Ma gil in pyn, en ek voel hoe iets nat op my hand drup.

“HENK! HENK!” gil sy.

Die roggel verander eers in ’n grom en dan in swaar asemhaling. Ma klim van my af en ek kruip onder die kombers uit. Pa is op sy hande en knieë voor die perdekar. Hy het niks anders as ’n vervlenterde broek aan nie.

“Dankie, Anna,” sug hy, “Jy het my bevry.”

***

Die volmaan skyn nou weer vaal oor die veld. Ek sit onder ’n peperboom en klou aan ’n kombers vas. Wit wolke kom by my mond uit as ek asem haal. My hande begin sweet.

Ek moet dit terug hou. Ek het nie gedink dit sou nou al gebeur het nie. Ek is nog te jonk. My mond begin oopgaan terwyl my tande begin groei. Ek kan sien hoe my skoolhemp se knope begin styftrek en losskiet.

Ek probeer skree. Al wat uitkom is ’n grom. Ek wens hier was iemand om my naam te sê.

DIE EINDE

***

Hierdie kortverhaal is gebaseer op die gedig, The Werewolf deur Hans Christian Andersen en vertaal deur Anne Bushby. Ek het dit die eerste keer in die boek Wulf: Tales of wolves and werewolves gelees en dit is, so ver ek kon navors, die eerste keer in 1881 gepubliseer in The New monthly magazine. Ek het dit herskryf as ’n kortverhaal in ’n Suid Afrikaanse konteks. (Johannes Coetzee)

Johannes Coetzee
Johannes Coetzee is ‘n Skryfkunsstudent aan die NWU. Hy het die verhaal geskryf as deel van die module oor die skryf van kinder- en jeugverhale.
Kopiereg Johannes Coetzee
2019-12-03