Lappies

Lappies se donkiekar avontuur

Anneke Langer
Met sonsopkoms is Lappies en Elsie alreeds huppelend in die straat af op pad. Die lug skyn pienk deur die nat blare. Lappies hou Elsie se hand vas en Elsie hou haar ma se hand vas.
Lappies 1

Met sonsopkoms is Lappies en Elsie alreeds huppelend in die straat af op pad. Die lug skyn pienk deur die nat blare. Lappies hou Elsie se hand vas en Elsie hou haar ma se hand vas.

Lappies is baie lief vir Elsie. Sy is die beste mensekind waarvoor ‘n teddie kan vra. In die dag speel hulle wegkruipertjie of hulle hou piekniek. Lappies gaan nêrens sonder sy Elsie nie. 

Vandag is Elsie se ma haastig. Hulle stap so vinnig, arme Lappies se voete kan amper nie byhou nie. Skielik staan Lappies stil.

“Kyk Elsie, ‘n donkiekar! Kan ons groot asseblief op die donkiekar ry?”

“Ek weet nie Lappies, jy weet my ma is vandag haastig,” sê Elsie.

Lappies maak sy oë groot sodat Elsie kan sien hoe graag hy op die donkiekar wil ry.

“Nou goed dan,” sug Elsie.

Elsie vou haar hande by mekaar en saam  kyk hulle smekend na Elsie se ma.

Lappies 2

“Wie kan dan vir sulke oulike gesiggies nee sê?”  glimlag Elsie se ma en stop ‘n geldjie in Lappies se hand.

“Jippie!” roep Lappies en hardloop na die laphuise waar die donkies staan.

Lappies kan sy oë nie glo nie. Voor hom staan die snaaksste twee gediertes wat hy al ooit gesien het. Hulle neuse en ore is lank en op hulle koppe is strooihoede met die mooiste geel en rooi blomme daarop. Hy steek sy arm versigtig uit om aan ‘n donkie se neus te raak.

“EE-HO!”

Lappies skrik hom boeglam. Oom Piet Langoor lag.

“Hulle name is Vonnie en Meraai ˗die oulikste donkies in Pelgrimsrus.”

Lappies 3

Lappies stop die geldjie in Oom Piet se hand:

“Bo dorp toe, asseblief.”

Vinnig klouter Lappies en Elsie op die wa en gaan sit op die houtbank.

Die rit is stamperig en Lappies wip op en af soos die wa oor die klipperige pad ry. Hy gly met elke stamp

      al hoe nader

          en nader

               aan die rant van Elsie se skoot…

“Hokaai!” roep oom Piet Langoor.

Die wa hou skielik met ʼn stamp stil, sodat almal vooroor val.  Lappies val van die bankie af en voor hy kan keer rol hy oor die rand van die wa en land op die teer. 

Lappies val

“Eina!”

Elsie en haar ma klim van die wa af. Lappies wag vir Elsie om hom op te tel, maar sy sien hom nie raak nie.

“Elsie!” roep Lappies, maar Elsie en haar ma stap haastig aan en verdwyn om ʼn hoek.

 Skielik is Lappies baie benoud.

“Wat gaan nou van my word? Elsie kan my nie hier vergeet nie! Wat as ek nat reën of ‘n ander mensekind my optel?”

Lappies voel hoe groot teddie-trane in sy oë kom sit. Net voordat hy kan begin huil, tel Oom Piet hom op en sit hom agterop die wa. 

“Ai, jaai-jaai,” sê hy, “Kom Vonnie en Meraai, ons moet vir Elsie gaan soek.”

Lappies se trane is sommer gou-gou weg toe hy Elsie se naam hoor.

Die donkies drafstap aan tot waar Elsie en haar ma om die hoek verdwyn het.

“O wee, kyk net al die mense wat in die pad staan,” sê  Lappies bekommerd,  “Hoe gaan ons hier verby kom?”

Lappies 5

Die donkies druk deur die mense en Lappies gewaar ʼn tamatierooi Ferarri in die middel van die pad.  Die mense bewonder meneer Ferreira met sy Ferarri.

“’n Donkiekar? Wie ry nog hier rond met ʼn donkiekar?” spot meneer Ferreira. 

Lappies 6

Die mense lag lekker.  Meraai skop ʼn klippie teen die Ferarri en stap verder. 

“Hiert jou esel!” skree meneer Ferreira met ʼn gebalde vuis in die lug. 

“Ek sien vir Elsie!” roep Lappies opgewonde.

Hy waai met sy hande in die lug, maar Elsie is te ver om hom te sien.

Oom Piet jaag die donkies aan. Elsie en haar ma stap oor ʼn besige pad. Voordat die donkies die pad kan oorsteek, stop ʼn verkeerskonstabel hulle om plek te maak vir die fietsryers wat blitsvinnig teen die heuwel afgery kom.

Lappies 7

Dis ʼn fietswedren en daar is honderde fietsryers. Lappies staar na die helderkleurige hemde, die valhelms en donkerbrille van die fietsryers.

“Pasop voor, donkies!” skree ʼn fietsryer toe Vonnie en Meraai dit bietjie nader aan die pad waag. 

Daar is geen teken van Elsie en haar ma toe die fietsryers uiteindelik verby is nie. “Waar is my Elsie?”  wonder Lappies hartseer.

Die donkies draf reguit aan en af met die heuwel.  Onder in die dal is dit so mistig dat Lappies niks voor sy oë kan sien nie.

“Ons sal maar moet omdraai,” sê oom Piet, “Dit word al laat.”

 Oom Piet draai die donkiekar om en stadig stap hul kop onderstebo terug laphuisie toe. Oom Piet fluit ’n treurige wysie.

“Elsie gaan vanaand baie alleen wees sonder my,” dink Lappies hartseer en voel hoe die teddie-trane weer begin swel.

“Gaan ek my Elsie ooit weer sien?” wonder hy.

Lappies 8

Van ver af al sien hulle iemand wat by die laphuise op hulle wag. Lappies se hart bons in sy borskas. Kan dit wees? Sowaar, dis Elsie en haar ma!  Elsie kyk hoopvol na die donkies:

“Het julle dalk my Lappies gesien?”

 Lappies glimlag breed toe oom Piet hom agter van die karretjie af haal.

“Dankie, Oom Piet!” sê Elsie en gee Lappies ʼn stywe druk.

Lappies 9

“Ek is so jammer, Lappies. Ek sal jou van nou af nooit weer verloor nie,”  belowe sy.

“Kom ek neem julle huis toe,” sê oom Piet vir Elsie se ma,  “Die son is besig om te sak agter die heuwels.”

“Dit sal gaaf wees, dankie,” sê Elsie se ma. 

Die rit is stamperig en Lappies en Elsie wip op en af soos die wa oor die klipperige pad ry.  Lappies gly met elke stamp

al hoe nader

        en nader

              aan die rant van Elsie se skoot…

 maar Elsie sien dit net betyds en hou hom stywer teen haar vas.

“Ek is darem die gelukkigste teddie in die hele wêreld,” dink Lappies terwyl die donkiekar in die horison verdwyn en Oom Piet vrolik sing:

“O, die donkie is ‘n wonderlike ding!”

Donkiekar

Vonnie en Meraai is twee regte donkies in Pelgrimsrus. Oom Piet Langoor verdien sy oudag geldjie deur mense met sy donkiekar na plekke te neem.

Donkies en donkiekar
Anneke Langer
Anneke is ‘n skryfkunsstudent aan die Noordwes-Universiteit. Sy het die storie geskryf in die module SKRK111 (2019)
Illustrasies deur Anneke Langer
Anneke is ‘n skryfkunsstudent aan die Noordwes-Universiteit.
Kopiereg: Anneke Langer
Maart 2020