Towerfontein

Twané Snyman
[Teken 'n drakie vir die storie. Stuur jou prentjies aan towerfontein@storiewerf.co.za Onthou om jou naam en ouderdom te verskaf. Dalk gebruik ons jou prentjie in die storie.]

“Dis onregverdig,” brom Aradia. Sy trek haar voet terug en skop die blikkie so hard as wat sy kan, sodat die blikkie oor die teerpad vlieg en naby ʼn klein groen bossie land.

“Beatrix se ma-hulle het dadelik ja gesê, hoekom is almal se ouers gawer as myne!” brom sy en stap oor die straat na die blikkie toe. Sy skop die blikkie selfs harder as tevore en hy vlieg in die bossie in.

“Ughhhhh,” brom sy weer en stap aan. Skielik vlieg die blikkie terug uit die bos uit en tref haar teen die kop.

“Eina!” Aradia kyk deurmekaar na die bos.

In Aradia se tuisdorp, Towerfontein, gebeur daar nog altyd vreemde dinge. Almal wat daar bly is of ’n heks of ’n towenaar, ’n hele paar van die inwoners is elwe en daar is selfs ’n feetjiegesin wat nou ingetrek het. Daar is net geen trolle nie. Maar bosse wat blikkies gooi, dit ken Aradia nie. Sy stap versigtig nader.

Miskien is hy kwaad vir my… dink sy.

“Jammer dat ek jou met my blikkie geskop het, meneer bos,” maak sy verskoning en krap haar kop. Ek is eintlik net vies vir my ma-hulle. Al my beste vriendinne se ouers het vir hulle van daai nuwe miniatuurdrake gekoop, daai Pers-Skub teekoppie-grootte drake, maar my ouers wil niks daarvan hoor nie. Hulle is te bang hy brand die huis af. Asof ek hom nie mooi sou leer nie.” Sy rol haar oë.

“Hulle sê ek is nog te jonk vir die verantwoordelikheid, maar ek is al twaalf! Dis belaglik…” Die bos roer nie.

Sy krap haar kop weer. “Maar in elk geval, ek’s baie jammer…” Sy begin stadig weer wegloop. Skielik ritsel die bos woes!

Uit kom ʼn blink pers snoet en twee swart ogies. Aradia kan haar oë nie glo nie, dit is een van daai Pers-Skub-drake! Die teekoppie-grootte soort!

Sy kyk rond, maar niemand is buite in die straat nie.

Die klein draak kruip stadig uit die bos uit en ruik aan haar uitgestrekte hand. Dan gee hy haar ’n lang nat lek.

“Hehe,” lag sy “ek dink jy hou van my, maar waar is jou huis?” Sy kyk om sy skubberige nek, maar hy het nie ’n band aan nie.

Aradia begin na die naaste huis toe stap. Miskien is dit hulle draak, dink sy. Die draak volg haar na die huis toe. Dit is die nuwe feetjiefamilie, die Sprankels. Sy lui die klokkie, maar niemand antwoord nie.

Die draak ruik nuuskierig aan hulle verwelkomingsmat.

“Is hierdie jou huis?” vra Aradia. Die drakie begin weer af stap na die straat toe. Seker nie… dink sy.

Drake is mos baie slim, miskien moet ek hom net volg na sy huis toe. Die twee stap af by die straat. Die klein draak ruik-ruik aan alles. Dit gaan amper donker word, besef Aradia.

“Ek kan jou nie net hier buite los nie, waar gaan jy slaap?” Die draak kyk op na haar met sy twee groot swart oë en tong wat uithang.

“Miskien kan jy by my kom oorslaap!” sê sy opgewonde.

“Net vir vanaand,” keer sy haarself “môre sal ons jou huis gaan soek.” Die draak waai sy stert opgewonde.

Twané Snyman
Twané is ‘n student in Skryfkuns aan die Noordwes-Universiteit. Sy het die storie geskryf in die module SKRK221 (2019)
Kopiereg: Twané Snyman
April 2020.