Grilgrot: Een is gelyk aan ses

Een is gelyk aan ses

B Olivier
Sewe slymerige slakke! Hoe op aarde gaan ek verduidelik dat die verjaardagpresent waarvoor ek so lank gewag het binne ‘n dag weg is?

Sewe slymerige slakke! Hoe op aarde gaan ek verduidelik dat die verjaardagpresent waarvoor ek so lank gewag het binne ‘n dag weg is? 

***

Ons bly nou ‘n maand in ons nuwe huis in die nuwe dorp. Ek is elke oggend al voor sonop wakker. Daar is ‘n hoenderhaan ‘n ent van ons af wat vals, maar vasbeslote daarvan seker maak. Dit help nie eers om ‘n kussing oor my ore te druk nie, want hy stop eers met sy aardige solo wanneer die son vol by my kamervenster inskyn. Maar vanoggend gee ek glad nie om nie: dis my verjaarsdag! Ek strek my lank en salig op die bed uit met my arms agter my kop ingevou. En wag…

Dis ons gesin se tradisie om hul present oop te maak voor die een wat verjaar skool toe of werk toe gaan. My tone krul sommer al klaar van lekkerkry. Ma het gister reeds die kolwyntjies gebak wat Juffrou Ilse kort pouse vir ons klas gaan uitdeel. Vanillageur met die Bloubulle logo op, al bly ons nou in die Vrystaat. 

Daar is ‘n geskuifel en ‘n ligte kloppie vóór my kamerdeur op ‘n skreef oopgaan en Pa en Ma se gesigte in die opening verskyn. Harry, die Jack Russell, druk sommer so tussen hulle enkels deur en is woeps! bo-op my bed terwyl hulle ‘Veels geluk, liewe Xander’, sing.

Ma oorhandig ‘n groot boks oorgetrek met Dinosourus-geskenkpapier.   Ek wonder of hulle my lysie met leidrade vir ‘n geskenk reg verstaan het? 

Xander se verjaarsdag wenslys:

  1. Bloubulle Rugbybal
  2. Perd
  3. Bottelneus dolfyn
  4. Rugbybal met Bloubulle logo op.

(Het julle gesien wat ek gedoen het met nommers twee en drie?  Dis goed wat ek nooit in ‘n miljoen-biljoen-triljoen jaar sal kan kry nie.  Dis Die Plan, want ek wil eintlik ‘n Bloubulle Rugbybal hê).

Maar, in die middel van al die lae sneespapier wat ek uitgrou en Harry daarna in flentertjies skeur, is my present in volle glorie: ‘n regte, egte Bloubulle rugbybal. 

“Dankie, Pa! Dankie, Ma! Dis die perfekte geskenk! Dis die perfekte dag!”

“Baie geluk, Seuna. Ons weet jy wag al lank hiervoor. Maar”, sê Pa met sy ‘nou-is-ek-ernstig-gesig, “jy oefen net by die skool. Ons wil nie hê jy moet ‘n ruit hier uitskop nie”. En toe hulle uitstap, sê hy saggies vir Ma: “As hy nie twee ore gehad het nie, het daai glimlag reg rondom se kop geloop”.

***

Dis ‘n lieflike sonskyn middag op Loftus. Die skare is so stil jy kan hoor hoe hulle aan hul worsbroodjies kou. Xander maak gereed om punte aan te teken en mik vir die pale. Hy skop!”, sê die blikkerige stem van die aankondiger.

Yes, Xander! Dis jou beste skop ooit! Nou is ek Xander: die Bloubul. Een drie is gelyk aan vyf. (Ek weet, ek weet – dit maak nie sin nie). En as ek oorskop kry ons nog twee punte. Dan is een eintlik gelyk aan sewe.

Rugbyballe

Dinge gebeur baie vinnig: my voet tref die bal en dit trek met ‘n perfekte boog. Die denkbeeldige skare skree soos besetenes! En toe gebeur dinge verder baaaaie, baaaaie staaaaaadig. Met die afkomslag tref die bal die spits dakkie van Harry se hondehok. Dit tol een… twee… drie… vier keer soos dit oor die tuinmuur trek. Vir ‘n oomblik lyk dit of die bal met die vyfde tolslag teen die ruit tot stilstand gaan kom. Toe skerf die glas in honderde stukke en ‘n donker gat sluk my splinternuwe rugbybal in. Waar daar oomblikke gelede nog ‘n venster was, is daar nou die mond van ‘n monster met lang slagtande van glas. Sewe slymerige slakke!

Harry, wat tot nou toe saam gespeel en met hoë blaffies agter die bal aan gehardloop het, skrik so groot van die lawaai dat hy reguit huis toe nael. Verraaier! 

Ek weet die regte ding om te doen is om te gaan om verskoning vra by die bure vir die helse gemors. Ek sal moet aanbied om met my sakgeld die ruit te laat regmaak. (Erg!). En dan sal ek vir Pa en Ma moet vertel. (Baie erger!). Ma sal sê dis wat gebeur as kinders nie ore het nie en Pa sal verseker nie dink dat my plan om wég van ons huis te skop ‘n goeie een was nie. 

Jip, Xander! Dit sal die regte ding wees om te doen. Dis net… Daar’s nie iemand om voor te gaan jammer sê nie. Daar bly reeds vir maande lank niemand in die vaal ou huis sedert die Omie wat daar gewoon het oorlede is nie. Die grasperk en die potplante op die stoep is morsdood verdor. Die tuinhekkie is vasgesweis met roes en die gordyne dig toegetrek om die huis se geheime binne te hou.

Want: Tannie Jessie oorkant die straat vertel ‘n week terug vir ons niemand stel belang om die huis te koop nie. Dat alhoewel die Omie oorlede is, hy steeds in die huis “bly”. Wanneer sy “bly” sê, maak sy aanhalingstekens in die lug met haar vingers en trek haar wenkbroue in ‘n boog terwyl sy skuinsweg na die lendelam huis kyk. Blykbaar het die dorp se eiendomsagent hom al hoor loop op die solder; voetstappe, ‘n kierie se stamp en aaklige sleepgeluide. Toe sy in die gang af retireer voordeur toe, kom daar sisgeluide uit die donker eetkamer. Sy sweer gloeiende oë het van onder die eetkamertafel vir haar gekyk! 

Tannie Jessie was besig om haar roosbedding nat te lei toe die eiendomsagent gillende op haar spykerhakke by die huis uitstorm en met haar wit Kia wegjaag – sommer met ‘n stuk van haar rok wat so wapper waar dit in die kar se deur vasgeslaan is. Nou wil niemand hul voete sit in die huis waar die Omie se spook bly nie…

Ek wil ook nie my voete in daai huis sit nie. Maar waarvoor is ek banger: ‘n teleurgestelde Pa wat sal wil weet waar my nuwe rugbybal is of ‘n sissende, sleepvoet, rooi-oog spook in die huis waar my nuwe rugbybal is?

Ek kan nie waag dat die geroeste hekkie my posisie verklap of dat Tannie Jessie my deur die voortuin sien sluip nie. Ek besluit om Harry se hok tot teenaan die tuinmuur te skuif en dan oor te klim in die boom langsaan. Binne-in die huis net vinnig my bal te gryp en dan dieselfde roete terug volg. 

Niemand hoef ooit hiervan te weet nie. Ek moet net doodstil hieroor bly. Yes, Xander! Dis Die Plan. ‘n Ringnekduif skrik so groot toe ek langs haar op ‘n tak klim dat sy tjorts! en vervaard wegvlieg. Vir ‘n paar sekondes fladder daar ‘n verskrikte duif in my borskas ook. Die struik waarop ek land, keer darem dat ek my vol rowe val op die sement oprit aan die ander kant van die tuinmuur. 

‘n Wolk skuif voor die son in en gooi ‘n emmer grys verf oor die verweerde ou huis en tuin uit. Ek kry skielik koud. Die plek gee my die horries!

Die stukkende venster is te hoog vir my om deur te klim. Daai glasskerwe sal in elk geval sommer biltong van my maak. Ek kruip-loop om die huis om te kyk of daar ‘n ander manier is om in te kom.

Toe ek om die hoek loer kan ek my oë nie glo nie: die voordeur staan wraggies op ‘n skreef oop! Die eiendomsagent moes met haar groot skrik vergeet het om dit weer te sluit. 

Ek kan oor die stoepie kruip en by die voordeur inglip. Net eers mooi dink waar die gebreekte venster van hier af is, want ek wil so vinnig as moontlik uit die monster-huis uit wegkom. Maar sê nou net…

  1. Die gloeiende oë is lasers wat dwarsdeur mure kan kyk en sien waar ek is? 
  2. Hy trip my met sy kierie en sleep my na die solder toe? 
  3. Hy weet al klaar dat ek hier is? 
  4. Die gebreekte venster het hom uit sy middagslapie wakker gemaak en dat hy nou woedend en slobberrend in die huis rondloop?

In die verte dawer die kerkklok. Dis vieruur. Pa en Ma is oor ‘n uur by die huis. My tyd raak min. 

Die voordeur waarvan baie jare se lae groen enamelverf afdop, klink of dit uit die skarniere gaan skeur toe ek dit oopstoot. Onder my hande en knieë is die plankvloere toe onder ‘n mat van blare en stof. Ek is in! Die deur kraa-a-a-a-k agter my toe.

Oorkruipers

Die gang is nou ‘n pikswart grot. Ek voel soos Jona in die walvis se maag. My oë begin die donker gewoond raak. Die vertrekke se deuropeninge gloei met ‘n flou rooi of geel skynsel soos die sonlig deur die ou gordyne worstel. Hoeveel kakkerlakke en oorkruipers is nou saam met my op die donker vloer? My kop draai van té vinnig opstaan en met my volgende tree loop ek gesig-eerste deur die taai spookasem van ‘n spinnerak. 

Sewe slymerige slakke!

Slymerige slakke

Ek sien ‘n wit eier-vorm op die hoek van die mat in die sitkamer. My bal! Yes! As ek dit nou gryp en spore maak is ek betyds by die huis.

Toe die bal vir my begin grom, moes ek onraad vermoed het. Toe die bal vir my sis met die optelslag, moes ek eerder laat los en spore gemaak het. Toe die bal met gloeiende oë ‘n uitgerekte nagmerrie skree gee, was dit reeds te laat. Naalde kap in my hande in! Lemme sny my arms, my skouer, my rug! Ek val grond toe in ‘n bondeltjie. Probeer my gesig met my arms toehou.

En toe is dit skielik verby. Dis doodstil. My hart slaan trom in my ore. My asem jaag erger as na ‘n rugbywedstryd. Die snyplekke op my arms is kloppende kole vuur. Ek is te bang om te kyk wat aangaan…

Ek voel iets warm verby my been vee. Hy’s terug! Kort hale skuurpapier trek oor die onderkant van my regtervoet. My skopvoet. As ek hierdie oorleef is my droom om vir die Bloubulle te speel verby. Ek gaan vermink verder moet lewe. Xander met die stompie-been.

Ek voel hoe hy om my beweeg.

Nader. 

Nog nader. 

Tot teenaan my arms wat pateties om my kop gevou is vir beskerming. Dis verby met my! HY GAAN MY…!!! 

Purrr… purrr… purrr… purrr? My oë is twee garagedeure wat onwillig ooprol.

“Meow!”, sê die wattebol voor my gesig. “Meow!”

Ek kom stadig orent. Nou is daar nóg vier nuuskierige wattebolle om my.

“Meow! Meow! Meow! Meow! Meow!”

Dit neem ‘n rukkie vir my om te registreer wat aangaan. Die monster is nie ‘n hy nie, maar ‘n sy. En sy is ‘n Ma-kat wat uitgestrek lê op die mat ‘n entjie van my af.  Asof daar nie minute van tevore ‘n stryd om lewe en dood plaasgevind het nie. Sy lek haar voorpoot en vee dit dan een, twee, drie keer oor haar ore voor sy die skoonmaakproses van voor af begin. Die wattebolle raak gou verveeld met my en mik een-vir-een gretig vir die sagte teiken van haar maag. Dis tyd vir aandete. 

***

Spoortjies

Die Plan moet natuurlik nou verander. Ek besluit om die bul by die horings te pak en by die motorhuis vir Pa-hulle te wag. Ek sal alles moet vertel. Maak nie saak hoe erg dit gaan wees nie of hoe swaar die straf is nie. 

Want daar is: 

  1. Wonde wat ontsmet moet word. 
  2. ‘n Venster wat reggemaak moet word. 
  3. ‘n Oproep wat gemaak moet word na die mense wat die VERMIS: Katinka plakkate oral in die dorp opgesit het. 
  4. Vyf wattebolle wat name en huise moet kry.

Plakkaat

Sewe slymerige slakke! Een (vermiste kat) is toe al die tyd gelyk aan ses…

Een is gelyk aan ses – B Olivier
Wenverhaal (eerste prys) in volwasse-afdeling.

Storiewerfskryfkompetisie 2021.

B Olivier
Kopiereg B Olivier
Illustreerder: B Olivier
September 2021