HB Bartel Beer bak kluitjies

Bartel Beer bak kluitjies

Bea Badenhorst
Daar is 'n paadjie al deur die bos... en 'n stroompie om visse te vang vir kos. Stap 'n bietjie aan en dan kry jy 'n grot, Bartel die beer en sy gesin se genot.

Daar is ‘n paadjie al deur die bos…
en ‘n stroompie om visse te vang vir kos.
Stap ‘n bietjie aan en dan kry jy ‘n grot,
Bartel die beer en sy gesin se genot.

Bartel Beer probeer visse vang.

”Help my ek sink!” Bartel proes benoud. Sy kop is amper onder water en hy kan nie swem nie. Skielik voel hy hoe ‘n poot sy nekvelle stewig beetkry en hom met mening uit die waterstroom ruk.

”Moet ek jou wragtig heeltyd oppas? Jy het nou al die visse in die water afgeskrik met jou geskree!”

”Ag, Ouboet, ek het verstik, ek belowe dit sal nooit weer… Ouboet?” Bartel vee oor sy nat gesig en kyk angstig rond.

”Ouboet, hou op speletjies speel!” Sy kreet eggo deur die bos, maar daar is steeds geen antwoord nie. Bartel brul en stamp sy voet teen iets glibberigs.

”Help!” gil hy terwyl hy agteruit steier. Hy gryp ‘n tak wat langs hom lê en swaai dit wild rond totdat hy duislig op sy sitvlak te lande kom. ”As jy naby kom gaan jy met my te doene kry!” Bartel probeer sy bes om braaf te klink terwyl hy stadig orent kom. Hy stap versigtig ‘n paar tree nader aan die blink ding wat naby hom op die grond lê. ”Sjoe, ek’s gelukkig!” sê Bartel uitbundig. Dit was toe al die tyd ‘n groot silwer vis. Bartel probeer dadelik om die vis met albei hande vas te gryp, maar die vis is gans te glad. Ek weet, ek sal die vis in blare toedraai. Na ‘n ruk is Bartel terug met twee groot blare en riet om dit stewig om sy vis te bind. Ek is darem slim, dink hy trots.

Bartel met twee groot blare en riet

Die vis oor sy skouer, is al waaraan Bartel kan dink. Houtgerus, vergeet hy skoon van Ouboet en dat die son al besig is om water te trek. Soos Bartel verder aanstap, slaan ‘n vreemde reuk in sy neusgate op. Hy snuif die lug, homself en dan sy skouer. Die vis! Dit kan nie wees nie. Ouboet draai dan ook altyd sy vangs in blare toe. Dit moet seker dan so ruik. Bartel raak al minder op sy gemak. Die vis is tog my vangs, ek het dit gekry en nou is dit mos myne. Hy frons.

Ek kan nie wag om Ma, Pa en Ouboet se gesigte te sien as ek huis toe kom met aandete nie! Bartel besluit om te hardloop. Hygend sleep hy homself en sy vis vorentoe. Sy keel brand en sy pote pyn.

Ek gaan ‘n graspol soek om op te sit, dink Bartel. Net vir ‘n rukkie.

Bartel gaap en vryf sy oë. Hoor hy krieke sing? Hy val amper agteroor toe hy behoorlik om hom kyk. Dit is dan piknagdonker! Hy hou sy vis styf vas. Ek moes aan die slaap geraak het. Hoe gaan ek ooit weer by die huis kom? Bartel se onderlip bewe. Die vis ruik nou baie slegter as ‘n ruk terug. Bosse ritsel en die skaduwees van takke maak vir hom bang. Skielik verskyn twee oë reg voor Bartel. Die geheimsinnige dier snork hard deur sy neusgate.

”Wat het jy daar tussen jou pote, Bartel?”

Verstom, en lam van skok gee Bartel ‘n gil.

”Moenie bekommer nie, dis net ek. Ons soek oral na jou.”

”Pa, ek wil vir pa iets wys!” Bartel se gesig straal, maar sy pa lyk nie so opgewonde nie. Bartel is nog glad nie so sterk soos Ouboet nie en die vis is ‘n moeilike een om te vang.

”Waar presies het jy die vis gekry?”

Bartel sluk benoud.

”Ek het hom self by die waterstroom gevang, ek belowe,” sê hy skuldig. Hy weet hy praat nie heeltemal die waarheid nie.

”Nou goed, gee die vis hier. Ek sal dit vir ons huis toe dra,” sê sy pa wat begin om snuf in die neus te kry.

”Pa het vir Bartel gekry! Ek was baie bekomerd.” Ouboet het hulle by die paadjie voor die grot ingewag.

Bartel gluur vir Ouboet vies aan.

”Ek gaan jou kry!” gil hy terwyl hy volspoed op sy broer afstorm.

”Jy het vir my weggehol en my alleen by die waterstroom gelos!” Bartel hamer nou met albei vuiste teen Ouboet se maag.

”Jy het al die visse afgeskrik toe jy in die stroom geval het!” bulder Ouboet.

”Seuns, dis nou genoeg!” Pa Beer se stem is streng. ”Julle gaan altwee nou vir my die waarheid vertel.”

Ouboet en Bartel kyk vir Pa Beer.

Nadat Ouboet en Bartel dikmond hul sê gesê het, kyk altwee in afwagting na hul pa.

”Julle het altwee leuens vertel,” sê hulle pa kalm. ”Ouboet het vir my gesê jy het weggeloop en jy het nie die waarheid oor die vis gepraat nie, Bartel. As jy vir iemand jok sukkel hulle om jou te vertrou. Weet julle hoekom ons mekaar met respek moet behandel?”

Die Beerboeties skud stadig hulle koppe.

”Dit is baie beter om liefde aan mekaar te bewys as om onnodig te stry. Julle het altwee geweet wat julle doen is nie reg nie, maar julle het dit nog steeds gedoen. As iemand die waarheid praat kan jy altyd op hulle staatmaak. As hulle oneerlik is, sukkel jy om te glo wat hulle sê. Dit is baie belangrik dat julle verstaan hoekom leuens nie reg is nie. Daar gaan gevolge vir julle dade wees. Julle altwee gaan voor ete al die onkruid om ons grot uittrek en dit moet netjies gedoen wees. Kom, vele hande maak ligte werk!”

Bartel en Ouboet dink na oor wat hul pa gesê het, terwyl hulle die bossies onkruid op mekaar stapel. Al is hulle glad nie lus vir tuinwerk nie, gaan die tyd tog gou verby.

”Dit lyk netjies.” Hulle pa lyk in sy skik.

”Ek is nog steeds baie trots op julle. Die regte ding sal wees om die vis se eienaar te kry as ons kan.” Pa Beer kyk na die plek op die grond waar hy die vis neergesit het.

”Seuns, die vis lê nie meer hier nie!” Almal draai paniekbevange om. Iets beweeg naby die grot, en ‘n silwer visstert skitter in die maanlig.

”Vang die boef!” Bartel hardloop so vinnig as wat hy kan. Hy gryp die stert met sy pote vas.

”Gee terug!” skree hy.

Bartel Beer en die grys otter

”Nee, ek het die vis by die stroom vir ‘n kort rukkie alleen gelos. Toe ek terugkom was dit weg. Ek soek nou al vir ure!”

Bartel kyk verslae na die grys otter.

”Ag nee, nou is dit bederf!” sê die otter. “Het jy giftige blare om my vis gedraai?”

Bartel voel nou baie sleg. ”Ek het nie geweet nie,” piep hy.

”Nou is daar niks om te eet nie!” Die otter is woedend.

”Leuens is nie ‘n goeie ding nie. Dit kan jouself en ander benadeel.” Bartel se pa staan nou langs hom. ”Ek weet jy het gedink jy doen goed, Bartel, maar nou het jy iets geleer. Ek sal jou volgende keer wys hoe.”

Bartel voel bietjie beter, maar die otter is ‘n ander saak.

”Het ons ‘n gas vir aandete?” Bartel se ma staan in die opening van hulle grot en glimlag. Sonder om te aarsel nooi sy die otter na die tafel.

”Ma, hierdie is heerlik!” Bartel slurp honger aan sy sop. Die otter sit nou tevrede en glimlag.

”Ek moet vir jou iets sê.” Bartel kyk verleë na die otter. Dis nie altyd lekker om jammer te sê nie. ”Dit was verkeerd om iets te vat wat nie myne was nie, ek is jammer dat niemand dit nou kan geniet nie.” Bartel laat sak sy kop.

”Weet jy wat kan ons wel geniet?” Die otter glimlag.

”Nagereg!”

Bartel kyk hoe sy ma vir almal ‘n stuk heerlike heuningkoek sny.

”Kry ek julle morê by die stroom? Ek sal jou ‘n paar visvangdinge leer, Bartel,” sê die otter.

”Dan kan ons lekker viskoekies eet, jy weet mos dis my gunstelling!” sê Pappa Beer en lag.

Bartel Beer bak kluitjies – Bea Badenhorst
Wenverhaal (tweede prys) in hoërskoolafdeling Storiewerfskryfkompetisie 2021.

Bea Badenhorst
Illustrasies deur Bea Badenhorst
Kopiereg: Bea Badenhorst
Oktober 2021