Professor Trommeldikkus gee ’n lang gaap en maak sy oë oop. Dit is al wragtig weer Maandag. Die dae vlieg regtig verby. Dit voel regtig asof dit net gister Vrydag was. Gelukkig is dit nog vakansie, so hy hoef nie klas te gee nie. Hy sug en spring van die boomtak af waarop hy gelê het.
Nou dink jy dalk: O, gaats! Professor Trommeldikkus gaan die grond baie hard tref. So hard dat die mense in Amerika gaan dink dis ’n aardbewing.
Ek bewonder jou verbeelding, maar jy is heeltemal verkeerd. Professor Trommeldikkus is defnitief nie só dik dat die aarde bewe as hy val nie. Nee, Professor Trommeldikus lyk soos die “i” in sy naam, net baie langer. Hy weeg byna niks nie. As hy uit die boom spring, dan sweef hy tot onder. Behalwe, as die wind hom wegwaai… en dit is presies wat vandag gebeur.
Nou wil jy seker weet: Wat op dees aarde het hy in die boom gemaak? Wel, hy bly in die boom. Ja, maar hoekom blý hy in die boom? Want hy wil. Dis mos nou maklik.
Terug na Professor Trommeldikkus. Hy is besig om saam met die droë blare en stof tussen die boomtakke deur te “vlieg”. Hy lyk so kalm soos badwater. Hy koes nie eers vir die boomtakke nie. Dit is mos nie die eerste keer wat so iets gebeur nie. Hy wéét hy is so maer die wind gaan hom nooit in ’n tak vas waai nie. Gewoonlik waai die wind hom so 100m en dan is hy weer op die grond. Dis nou maar pas dertig meter, so alles loop nog goed. Professor Trommeldikkus vou sy hande agter sy kop en maak sy oë toe. Hy kan net sowel slaap terwyl hy wag vir die wind om hom neer te sit.
’n Mens kan heeltemal verstaan dat Professor Trommeldikkus nog bietjie wou slaap. Maar hy moes regtig eers sy graad in Windkunde aangewend het om uit te werk hoe sterk die wind waai. Dalk moes hy ook sy graad in Basiese Logika gebruik het om te besef dat dit nie ’n vreeslike goeie idee is om in die middel van die lug te slaap nie.
Toe Professor Trommeldikkus uiteindelik sy oë weer oopmaak, sweef hy nog steeds saam met die droë blare en stof in die lug rond. Onder hom strek die Vrystaat se welige grasvlaktes en die son sit eensaam in die oop blou lug. Daar is nie ’n boom in sig nie. Dit kan nie wees nie. Hy droom seker. Skielik waai daar ’n astrante stofkorrel in sy oog. Dis vrek seer. Nee, hy droom definitief nie!
“AATISHOE!” Om alles te kroon het hy nou hooikoors van die stof.
Professor Trommeldikkus kyk om hom rond en probeer dink waar hy is. Hy kyk en kyk, maar al wat hy sien vaal gras en doer in die verte klein bloubergies. Daar is niks wat hy kan herken nie. (Dit is heeltemal verstaanbaar, veral as ’n mens daaraan dink dat Professor Trommeldikkus Geografie op skool gedruip het.)
“AAATISHOEEE!” Professor Trommeldikkus begin paniekerig raak en dit maak dat hy erger nies.
“AAAAAATTISHOEEEE!!” Hy knyp sy neus met sy vingers toe en probeer die nies keer, maar dit werk nie. Al wat gebeur is dat hy nou snotterige vingers het.
“AAAAAAAAAAAATTTTIIIIISSSSSHHHHOOOOEEE!!!!!!!”
“Shoe, ’n mens sit mos darem ’n hand voor jou mond as jy nies, jou ongemanierde skobbejak!” sê ’n stem uit die lug bokant hom.
“AAAA –“ Professor Tromeldikus skrik so groot hy vergeet sommer van sy nies. Bokant hom sweef ’n baie groot en baie vies voël..
“Jy het my amper heeltemal van koers af genies! Het jou ouers nie vir jou maniere geleer nie?”
“Ag, ekskuus! Ek is baie jammer.” Professor Trommeldikus voel opreg jammer.
Die voël met die blink swart vere skud sy kop en snuif: “Gmf!” Dan is dit of hy vir die eerste keer besef hy praat met ’n vlieënde man. “Wat op dees wolke maak jy in die lug?”
Professor Trommeldikkus sug. Dis nooit lekker as jy jou vernederende stories moet oorvertel nie.
“Ek het aan die slaap geraak en nou weet ek nie waar ek is nie,” brom hy.
“HAHAHAHA!”
Dat die voël nog die vermetelheid het om vir hom te lag!
“Jy is in die land waar die voëlkoning heers”
Professor Trommeldikkus bedank die voël vir die inligting. Nou weet hy darem waar hy is. Net jammer hy weet nie wáár die voëlkoninkryk is nie.
Die voël lag weer. “Tussen die bergpieke tussen die vallei en die lug – daar woon die voëkoning. Hy sal jou help om jou pad terug te kry.”
Met ’n kragtige flap van sy vlerke, is die groot swart voël weg.
Agter die berge tussen die lug en die vallei – daar woon die voëlkoning. Nee, dis nie reg nie. Tússen die pieke, tussen die vallei en die lug – dáár woon die voëlkoning. Wat beteken dit? Dit maak mos glad nie sin nie! Hoe kan iets tussen die vallei en die lug wees? Gelukkig is Professor Trommeldikkus nie sommer net ’n gewone mens nie. Hy is nie ’n professor vir niks nie. Hy weet wat dit beteken.
Hy glimlag in sy noppies en pluk, sommer so in die verbyvlieg, ’n groot blaar van ’n piesangboom af. Nou dink jy seker piesangbome in die Vrystaat? Dit kan eenvoudig nie wees nie. Wel, jy is heeltemal reg. Daar groei nie piesangbome in die Vrystaat nie. Arme Professor Trommeldikkus het nou al so ver gewaai dat hy al lankal verby die Vrystaat is en homself nou in KwaZulu-Natal bevind. En piesangs is mos tropiese bome en kom volop hier voor. Professor Trommeldikkus is regtig slim, hy gebruik die piesangblaar soos die roer van ’n boot om hom in die rigting van die grootste twee pieke te stuur. Hierdie keer doen hy moeite om die windspoed van die wind te bereken. Professor Trommeldikkus leer darem uit sy foute. As alles goed loop, is hy voor 10 uur by die huis.
Ongelukkig vir arme Professor Trommeldikkus is die wind nie baie betroubaar nie en waai dit soms vinnig en soms stadig. 10 uur kom en gaan sonder dat hy die paleis van die voëlkoning bereik het. 12 uur kom en gaan en Professor Trommeldikkus is honger. (Dis weereens baie verstaanbaar; hy het gisteraand laas geëet.)
Uiteindelik bereik hy die twee bergpieke. En raai? In die middel van die twee pieke hang ’n reusagtige nes van boomstompe en wol, wat met dik kabels aan die kranse vasgemaak is.
Kan jy dit nou glo? Tussen die twee bergpieke, tussen die vallei en die lug – daar hang die nes! En in die bek van die nes sit die blink swart voël wat Professor Trommeldikkus vroeër die oggend gesien het.
“Wel gedaan, Professor Trommeldikkus! Jy het my woning gekry.”
“Jy! Nou is ek eers jammer dat ek op u koninklike voëlheid genies het!” sê Professor Trommeldikkus verleë.
“Hahahah! Jy is ’n ander soort mens Professor Trommeldikus! Ek was baie vies vir jou en wou jou straf vir jou ongemanierdheid. Daarom het ek jou nie van die begin af gehelp nie. Kom, laat ek jou huis toe stuur.”
Die voëlkoning vlieg op en gee ’n paar harde flappe met sy vlerke. Dit word ’n harde rukwind wat Professor Trommeldikkus heeltemal onderste-bo waai. Skaars het hy tot tien getel of hy is terug by sy boom.
Professor Trommeldikkus is so deurmekaar gewaai dat hy eers ’n rukkie op die gras onder die boom gaan sit en probeer om sy arms en bene te ontknoop. Omdat hy so dun is het die sterk wind hom gekoek en geknoop dat hy soos ’n gekoekte bondel wol lyk. Toe hy uiteindelik al die knope en kinkels uit het, staan hy op en gaan gooi vir homself van sy Smul-En-Lip-Lek-Lekker-Ontbytgraan in vir middagete.
Van daardie dag af slaap Professor Trommeldikus met ’n veiligheidsgordel om hom. En elke aand voor hy gaan slaap, dan drink hy ’n anti-hooikoors pil om te keer dat hy nie perongeluk in sy slaap begin nies nie!