Nes ‘n sportman moet oefen om sy spiere soepel te hou sodat hy plek in een of ander sportspan kan behaal, moet iemand wat wil skryf, oefen om te skryf. Elke dag ‘n bietjie skryf, al is dit net in jou dagboek of briewe aan jou ouers, penvriende of vriende. Hoe meer jy skryf, hoe makliker vloei jou gedagtes.
Gebruik ‘n woordeboek as jy nie weet hoe om ‘n woord te spel nie. Moet nooit skaam wees om ander mense, wat meer van ‘n onderwerp weet as jy, te vra om jou te help nie. My ondervinding was nog altyd dat die kundige mense my graag wil help en raad gee.
As jy ‘n idee het, skryf dit in ‘n boek neer wat jy spesiaal aanhou en merk die boek: Idees vir Stories. Luister hoe ander mense praat sodat wanneer jy ‘n dialoog skryf, jou karakters soos regte mense klink wat praat. Daar is ook nie ‘n muse wat op jou skouer sit en jou inspireer om te skryf nie. As jy wil skryf en jy dink jy het die talent om te skryf – begin! Wanneer jy weer ‘n opstel in die klas moet skryf, moenie dink. Uhhh … ‘n opstel nie. Maar sê: Jippie! Ek gaan oefen om ‘n storie te skryf!
Onthou die vyf W’s vir elke stukkie skryfwerk: Wie? Waar? Wat? Waaroor? Waarom?.
Jy sal baie foute maak, net soos wat ‘n sportman foute maak. Elke atleet kan nie elke keer wen nie. Elke rugbybal gaan nie oor die dwarslat seil nie, maar moenie moed verloor nie. Hou aan. Skryf en skryf en skryf! Onthou die uitdrukking: aanhouer wen! Ek het iewers van die volgende 6 D’s gelees wat elke skrywer se aansporing moet wees: “Desire, Drive, Discipline, Determination, Dedication and no Distraction.”