Prentenboek of leesboek, het zal me een zorg zijn, iedere liefhebber van literatuur of beeldende kunst heeft wel een werkje op de plank staan dat hij ondanks zijn uitnemende literaire smaak, zijn groot inzicht in het beeldende, verkiest boven alle meesterwerken uit de letterkunde of de illustratiekunst, die hij behoort te bewonderen.
Dit staan in elke huis. Prominent uitgestal vir die moontlike skerp blik van ‘n nuuskierige kuiergas. Daardie werke wat beloof om die kennis van die heelal met ons te deel, ‘n arsenaal diepsinnighede te verskaf, die etiket “intellektueel” om ons nek te hang. Die “must reads”. (Dit lyk immers dêm indrukwekkend om die ouevres van Leroux, Sarte, Schoeman, Dante, Hemingway en ‘n faksimileekopie van Di Koningin fan Skeba op jou rak te hê.)
Dit is egter die boeke wat tussen-in staan wat my interesseer. Die ruggraatlose, sonverbleikte, voosgeblaaide eks-minaars wat nou buite sig weggebêre word. Die Nederlandse skrywer, Dirkje Kuik, is reg: of dit nou ‘n prenteboek of ‘n leesboek is, iewers staan die boek wat beter gelyk het as enige ander, wat lekkerder gelees het as sy rakmaats, wat anders gevoel het as die res.
So ‘n boek is Verna Vels se Liewe Heksie.
Dit is nou al 41 jaar lank wat kinders geboei word deur Heksie, oftewel Levinia Heks, Karel Kat, Kwaaitjie en Blommie Kabouter, Koning Rosekrans, Matewis, Griet en natuurlik die nare Gifappeltjies en hulle ewe nare Geel Heks.
Die verhale is oorspronklik vir die radio geskryf, maar later het nagenoeg veertien Liewe Heksie-boeke verskyn. Die verhale is ook vir televisie verwerk en boonop op langspeelplaat, kasset, CD én video uitgereik.
Maar hoekom so suksesvol?
Verna Vels voel die sukses kan toegeskryf word aan die feit dat Liewe Heksie ‘n karakter is waarmee kinders kan identifiseer. Ook Liewe Heksie se onbewuste en eksentrieke humor staan vir haar uit.
Thomas van der Walt van die Eenheid van Navorsing in Kinderlektuur aan Unisa meen Vels vervul dekades al ‘n groot behoefte aan fantasie en humor in Afrikaanse kinderboeke. “Die waarde van humor word dikwels onderskat, maar dit dien as ‘n baie belangrike brug na literêre waardering by kinders. Oor die waarde van fantasie hoef niks meer gesê te word nie as dat dit noodsaaklik vir die ontwikkeling van kreatiewe denke is. Humor en fantasie is die hoekstene van die Liewe Heksie-stories en die belangrike rol wat Liewe Heksie nou al so lank speel, kan dus nie genoeg beklemtoon word nie.”
Ja, in die tagtigerjare het ‘n paar kerkdames gekla oor “bose invloed” van die niksvermoedende Levinia. Maar sy is in goeie geselskap. Ook Pokémon, Noddy, die Telletubbies en Harry Potter moes al soorgelyke onsinnighede aanhoor.
En soos ‘n wafferse Madonna-cum-Sonja Heroldt, kan Liewe Heksie haarself re-invent. In 1965 gee Dorothy Hill aan haar gestalte en sy kuier by ons aan huis met “Liewe Heksie kry ‘n verjaardag” en “Liewe Heksie en die donkie”. Die Russe en die Amerikaners baklei oor die buitenste ruimte en Liewe Heksie spring in met “Liewe Heksie gaan maan toe” en “Liewe Heksie en die vlieënde piering”. In die 1980’s laat vlie Naas Botha die balle tussen die pale deur en Heksie is ‘n kortkop agter en “Liewe Heksie en die rugbywedstryd” volg – dié keer deur Nikki Jones getooi. In 1999 gee Piet Grobler vir haar ‘n make-over en sy skuif agter die rekenaar in vir “Liewe Heksie en die rekenaar”.
Hierdie week het Liewe Heksie haar vere-boa aangetrek en by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees gekuier waar sy haar 300-bladsy magnum opus bekendgestel het: Die Liewe Heksie-omnibus (Human & Rousseau). Die omnibus bestaan uit 35 verhale, inhoudelik onveranderd (behalwe vir ‘n paar woord- en kronologie-aanpassings) en met Piet Grobler se nuwe illustrasies is dit ‘n ou bekende wat kom kuier met splinternuwe, sexy swart nommertjie, punthoed effe skeef op die kop en ‘n roos tussen die tande.
Welkom terug, liewe, Liewe Heksie.