Weet jy wat om met skrywersblok te maak?
Wat is skrywersblok? Het jy al oot gevoel dat die kanaal tussen jou pen en jou verbeelding verstop is? As jy het, dan weet jy wat skrywersblok is. Dit is presies dit wat jou weerhou om iets op ‘n papier of op jou rekenaar neer te sit.
Alle skrywers en dus ook jy, kry op een of ander stadium in hul skryfwerk te doen met skrywersblok. Sommiges natuurlik net meer as ander. Dit beteken nie dat jy nie meer kan skryf nie, maar wel (soos ek bo genoem het) dat die kanaal vanaf jou verbeelding verstop is. Al wat jy nodig het, is ‘n vars idee wat jou verbeelding weer kan prikkel sodat jy weer aan die skryf kan kom.
Daar is verskeie maniere hoe ‘n mens skrywersblok kan oorkom. ‘n Baie oulike manier wat ek teegekom het, is ‘n boekie met die naam Writersblock. Die boekie is letterlik ‘n blokkievorm lank, breed en hoog. Binne is die bladsye vol foto’s van vreemde gebeurtenisse, gebare, uitdrukkings en gesigte. Elkeen kan ‘n wêreld vol idees aan jou oopmaak indien jy assosiasies en konnotasies met elke foto probeer maak en soek.
‘n Soortgelyke manier is om deur tydskrifte te blaai of om in ‘n koffiewinkel te gaan sit en die mense se gesprekke langsaan af te luister. Kyk of jy die beginpunt van hierdie gesprekke kan optel. Wie weet, dit mag dalk verskriklik interessant eindig.
‘n Eenvoudige en vinniger manier is om ‘n stuk papier met potlode, kleurpenne, ens. te vat. Begin krabbel, skryf woorde neer en teken wat in jou gedagtes opkom. Volg jou gedagtes soos jy dit aanteken. Anders kan jy selfs net jou rekenaar vat en begin tik. Skryf die woorde en gevoelens en beskrywings van jou onmiddellike omgewing neer. Byvoorbeeld: “Ek sien my vingers vinnig oor die keyboard rammel na sinnelose woorde soos hierdie. Terwyl my hond buite blaf en daar ‘n hoop werk op die regterkant van my lessenaar wag…“
Herlei hierdie idees en gedagtes na konnotasies en assosiasies. Tik verder aan hierdie ongeorganiseerde stuk werk tot jy op iets kom waarvan jy hou.
Tegnieke soos hierdie hierbo genoem, hoef nie net vir skrywersblok gebruik te word nie, maar kan ook as oefening dien om op goeie en regte idees vir jou skryfwerk te kom. Dit help jou konsep filter sodat dit suiwer aan die leser deurgegee kan word. Natuurlik verwys skrywersblok nie na elke keer wanneer jy nie onmiddellik aan ‘n storie kan dink nie. Dit verwys eerder na ‘n konsep wat reeds gevorm is, maar op ‘n doodloopstraat uitloop. Byvoorbeeld, die derde hoofstuk van jou storie wil net nie vorm aanneem nie en jy het reeds elke opsie probeer waaraan jy kon dink, dan begin dit ‘n skrywersblok raak.
Speel rond met idees en geniet dit wat daaruit voortvloei.