Godfrey en sy ouma

Kierietjie, kierietjie, trek weg!

Godfrey van Rooyen
Godfrey van Rooyen vertel die storie van die seun wat gaan hout soek het. "Toe besluit ek maar om my daaglikse of dag se kos te pak in 'n rugsak en 'n byl te vat om hout vir ek en my ouma te kry, want as ek dit nie gaan doen nie, wie sal dit doen?"

Ek, Godfrey van Rooyen het saam met my ouma gebly, ek was elf jaar oud en my ouma was al vier en vyftig jaar oud. Ons het in ‘n viervertrek gebly, wat ‘n bietjie ongemaklik was vir ek en my ouma, maar weens die omstandighede kon ons nie ‘n beter een bekostig nie.

Godfrey kap hout

My plig was dat ek moes hout gekap het, ons het ‘n dik stomp gehad agter onse huis en ek moes met ‘n byl daardie stomp geslaan het tot daar krummels van houtjies is. Maar soos die tyd gegaan het, het die stomp klaar geword en ek moes ‘n ander plan gekyk het as jong seun, want ons het gelewe van ‘n vuurtjie, op die vuurtjie ‘n potjie met ‘n bietjie pap wat ons by mense kry, ‘n bietjie melk wat ons een keer ‘n week koop, dit was ons daaglikse lewe. Ons moes net twee keer ‘n dag geëet het, weereens, die kos wat ons besit het.

Toe besluit ek maar om my daaglikse of dag se kos te pak in ‘n rugsak en ‘n byl te vat om hout vir ek en my ouma te kry, want as ek dit nie gaan doen nie, wie sal dit doen? Ek sê toe my ouma wat ek dink, toe stem sy saam, maar toe sê sy ook dat ek nie bang moet word nie. Ek pak toe my gereedskap en vat die pad.

Godfrey groet sy ouma

Oppad na die bos of veld toe sien ek ‘n ou oupa op ‘n ashoop sit en huil. Ek sit toe my gereedskap neer en gaan na die oupa toe. Soos ek naby stap, sê hy vir my “Bly weg!!” Ek staan ‘n bietjie en kyk hom. Toe hy my mooi in die oë kyk, begin hy weer te huil. Ek stap maar na hom toe en druk hom teen my skouer. Mense om ons, die ryk mense, sê vir my “Gaan weg van daardie man af, hy stink!” Maar my ouma het my geleer dat ek moet probeer help by enige probleem, al lyk dit hopeloos, maar moet nie na mense luister nie.
Soos ek hom druk vra hy vir my, “Wie is jou ouers?” en ek antwoord en sê, “My ouers het gesterwe. Ek lewe net saam met my ouma.”
Ek vra vir hom, “Hoekom sit jy hier?”
Hy skep eers wind en kyk, hy vra vir my, “Moet ek sê?”
“Asseblief.”
Hy sê, “My kinders en my vrou het my uitgesit twee dae gelede.”

Die oom op die ashoop

Ek vra ook hoekom. Toe sê hy vir my, “Omdat hulle gehoor het dat ek ‘n kind het met ‘n ander vrou.” Terselfdertyd vra hy vir my, “Waarnatoe is jy oppad, seun?” maar jy kan nou sien sy gesig kom ‘n bietjie beter.
Ek sê toe, “Ek is oppad na die veld om vir ek en my ouma hout gaan haal.”
Hy vra vir my, “Saam met wie?”
Ek sê alleen, hy sê, “Seun, jy is ‘n gehoorsame kind,” en gee my ‘n kierie.
Ek vra toe, “Vir wat gee jy my ‘n kierie?”

Hy sê vir my, “In die veld is dit baie gevaarlik en jy is nog baie klein vir sulke dinge, so vat hierdie kierie en as daar enige gevaar spring dan moet jy net sê ‘Kierietjie kierietjie trek weg!!’ dan sal hy jou bietjie help.”
Ek sê toe, “Baie dankie oupa!” en gee hom ‘n soentjie op sy voorkop, toe vat ek weer my gereedskap en stap aan.

Soos ek loop daar diep in die veld op soek na die hout, sien ek nog ‘n oupa, maar hy het gelyk soos `n herder, ek stap na hom toe met die idee dat hy my sal vinniger help vir droë hout. Ek kom by hom en groet hom. Hy vra vir my, “Wat soek jy hier, seun?”
Ek antwoord en sê, “Ek is op soek na droë hout vir ek en my ouma by die huis.”

Die skaapwagter en die lammetjie
Hy kyk my eers aandagtig en sê, “‘n Mens kry sulke seuns soos jy amper nooit nie,” toe sê hy sommer vir my, “Hoor hier seun, gaan agter daardie heuweltjie, daar het ek `n lammetjie vasgemaak, gaan vat hom en gaan onmiddellik huis toe.”
Ek sê toe, “Maar wat van die hout?”
Hy sê my, “Hoor hier, daardie lammetjie kan jy alleen aan sy keel vat, dan spoeg hy geld, niemand anders as jy nie. Toe, maar beweeg nou, Seun!”
Ek is toe weg en sowaar daar staan hy vasgemaak. Ek vat toe die lammetjie en hardloop huis toe.

As ek by die huis kom, sê ek toe alles wat met my gebeur het gedurende die dag vir my ouma, maar toe ek by die punt kom van ek het nie hout gekry nie, kon ‘n mens behoorlik gesien hoe raak my ouma swak. Ek haal toe die lammetjie uit en vang aan sy keel. Daar val ‘n R10 uit in R2.

My ouma rek haar oë so groot laat sy amper geval het. Sy vra vir my, “Waar kry jy die lammetjie?”
Ek sê, “By ‘n herder in die veld.” Sy was baie bly en trots op my.
Die volgende dag toe gaan skryf sy my by `n skool, ‘n primêre skool in.

Ek en Ouma het ‘n argitek in die hande gekry en ‘n huis beplan, hy het ons omtrent R20 gevra vir ‘n mooi groot huis, baksteenhuis. Die huis is toe gebou in twee maande en dinge het goed gegaan, net vir twee jaar, toe vind ‘n paar seuns dat ons ‘n lammetjie in die huis het wat vir ons geld uitspoeg en sê toe vir al hulle vriende wat diewe is.
Een nag, dit was nogals na ek en my ouma lekker geëet het, kom breek hulle in en vat vir my en my lammetjie en sê, “Julle moet nou saam kom!”

Die skelms vat vir Godfrey saam

Ek baklei ‘n bietjie saam met hulle maar hulle was te veel vir my. Soos hulle vir my wil wegneem, vra ek hulle maar net een vraag, en ek vra hulle om net my kierie saam te vat, hulle sê toe vir my, “Ag, vat die stuk kierie van jou.”

Hulle is uit met my in ‘n motor. Hulle ry tot diep in die veld met my. Soos ons daar kom, sê hulle vir my, “Ou boet, jy moet nou maak dat die lammetjie van jou geld uitspoeg, of jy gaan dood!”
Ek kyk hulle deur en sien toe dat hulle baie ernstig is, ek sê toe, “Nee!!!”
Toe klim die manne my so laat ek eers nie kon asemhaal nie, en hulle vra my toe weer, “Verkies jy die dood of die lewe?” en ek sê toe, “Lewe.” Hulle sê toe, “Dan moet jy maak laat die lammetjie geld uithaal.”
Ek is uitasem en lê en dink oor daardie oupa op die ashoop wat gesê het as daar gevaar spring sê net, “Kierietjie, kierietjie trek weg!” Ek kyk die kierie met die aandag dat hy moet nou werk.
Net toe hulle besluit om my te begin steek, sê ek toe van skok, “Kierietjie, kierietjie trek weg!”

Kierietjie, kierietjie trek weg!

Sowaar mense, julle sal nie glo nie, maar daardie kierie slaan die seuns so laat ek vir hulle bejammer, dat hulle so deurmekaar is laat hulle sommer vir my voor die motor oplaai en huis toe vat saam met my lammetjie.

As ek by die huis kom, kon my ouma nie anders as, “Dankie God omdat u hom gespaar het.”
Sy was so bly dat sy sommer gesê het, “Seun, jy laat my sommer verlang na jou oupa wat ook sorgend was vir sy familie.”
Van daardie tyd tot nou toe lewe ons lekker saam, maar die lammetjie het gesterwe nadat my ouma begin siekefondse kry, en ek het ook gevorder met my skoolloopbaan.

Godfrey en sy ouma

Dit was my verhaal oor die dag in my lewe wat ek nooit sal vergeet nie.

Godfrey van Rooyen
Skrywer/verteller: Godfrey van Rooyen (17) Hoërskool Promosa, Potchefstroom Uit: Die soetsuur lemoen: hartseer en geluk van Promosa.
Kopiereg: Godfrey van Rooyen
Illustreerder: Illustrasies: Emily Bornhoff
0
Would love your thoughts, please comment.x