Wat's die punt van groen wees?

Boeke met ‘n groen b(l)aadjie (resensie)

Jacqui Bailey, Martyn Bramwell, David Burnie, Lynn Dicks, Roger Few,
LAPA
Resensie deur Anneretha Combrink

Ons leef in ‘n snelveranderende samelewing. Nie net is kinders gewoond aan die vinnige pas van die tegnologiese veranderinge nie, maar leer hulle ook om aan te pas by klimaatsveranderinge en ‘n planeet wat bedreig word. Om ons planeet te beskerm moet ons leer om “groen” te wees, is die boodskap wat ons kry. Daar moet byvoorbeeld sterk gefokus word op herwinning. Die “groen” tendens word deesdae al meer in publikasies vir jonger lesers gevind. Hier is ‘n paar voorbeelde:


Wat is die punt van groen wees? (Geskryf deur Jacqui Bailey en vertaal deur Louise Steyn.) In dié insiggewende boek kan die jong leser uitvind wat met die wêreld se klimaat aan die gebeur is en hoekom; wat die probleem is met fossielbrandstowwe; hoe ons van die wêreld ‘n vullisblik maak; en wat ons daaromtrent kan doen. Dié kleurvolle boek is vergesel van illustrasies, strokiesprente, foto’s, grafika en inligtingsblokkies – dit is hoogs informatief en enige laer- en selfs hoërskoolleerder behoort dit stimulerend en leersaam te vind. (Lapa-Uitgewers)



Bewaar ons planeet: ‘n gids tot die bewaring van ons wêreld (Martyn Bramwell, David Burnie, Lynn Dicks, Roger Few) is in dieselfde kategorie. Dit werp ‘n omvattende blik op die lewe op aarde en wys hoe ons kan verseker dat ons omgewing vir toekomstige generasies behoue kan bly. Die foto’s maak ook van dié publikasie iets besonders. (Lapa-Uitgewers)


Twee boeke vir jonger lesers is Eers was ek ‘n kartonboks maar nou’s ek ‘n boek oor ysbere en die soortgelyke Eers was ek ‘n kartonboks maar nou is ek ‘n boek oor tiere. Die boeke is gemaak van herwinde papier en vertel elk twee stories: aan die een kant word feitelike inligting gegee oor ysbere/tiere, terwyl daar gelyktydig ook die verhaal van die boek se ontstaan en vervaardiging vertel word – vanaf die kartonboks by ‘n fabriek in China tot die verpulping van die herwinde papier wat uiteindelik die boek word. Die ysbeer- en tierfeite wat regdeur dié hardebandboeke voorkom, is hoogs interessant. Kinders behoort die boek fassinerend te vind. (Lapa-Uitgewers)
Anneretha Combrink
Anneretha Combrink het haar PhD in Skryfkuns aan die Noordwes-Universiteit verwerf.
2011-04
0
Would love your thoughts, please comment.x