Betower. Nadia. Poenk. Magoebaskloof. Hoërskool. Bos. Hierdie is woorde wat apart dalk maar net na normale woorde lyk, maar in Fanie Viljoen se Betower skep dit ‘n hele nuwe betekenis. ‘n Wêreld wat nuwe perspektief bied. ‘n Wêreld van magiese realisme. Nadia het ‘n geheim wat sy saam met haar dra. ‘n Geheim wat die rede is waarom sy by haar ouma in Magoebaskloof moes kom woon.
By die skool lyk sy na die ‘weird’ meisie, maar Joy kyk verby dit en probeer vriende maak omdat sy ook as ‘weird’ beskou word. Poenk, die vreemde, maer outjie, trek Nadia se aandag die eerste dag wat sy by die skool is. Is dit net toeval dat Poenk en Nadia al op haar eerste dag by haar nuwe skool ontmoet? Nee, Poenk is die een wat Nadia weer beter laat voel. Poenk is die een wat Nadia laat vergeet van die werklikheid en al sy probleme. Die een wat Nadia laat vergeet van haar geheim.
Die dialoog bly getrou aan die karakters en elkeen kan dadelik geïdentifiseer word aan sy/haar dialoog. Beide Nadia en Poenk is interessante karakters en kan nie as die alledaagse tieners beskou word nie en daardeur bring Viljoen iets nuuts tot die tafel. Daar is wel holrug geryde karakters in die boek, Gervan die boelie en Nadia se ouma, wat gereeld vir Nadia gemmerkoekies bak. Alhoewel ‘n mens baie maal die ‘boelie’ tipe karakter in verhale kry wat by ʼn skool afspeel, is Gervan se karakter wel funksioneel in die verhaal en dra by tot die kontras wat Viljoen wil skep – die geweldadigheid van die mens en die rustigheid van die natuur (die bos). Nadia se ouma kan as die stereotipiese ouma gesien word, maar dra ook in effek by tot die verhaal en skep daardie nostalgiese gevoel by die leser. Nadia se ma, ‘n joernalis, is ‘n buitegewone karakter maar verseker goeie intriges en wek duidelike gevoelens by die leser.
Viljoen beeld Poenk en Nadia se ervaringe in die bos op so ‘n manier uit dat die leser uit ‘n hele ander perspektief daarna kyk. Die fantasiewêreld van die sprokies wat deur Viljoen in die verhaal ingewerk is dra by tot die atmosfeer van betowering. Die onrealistiese gebeurtenisse laat ‘n mens wonder of dit werklik gebeur en of alles in Nadia se verbeelding afspeel. Magiese realisme. Daar is duidelike ontwikkeling in Nadia se karakter en al beskou haar ma haar as ‘n rebel, sal die leser haar gevoelens verstaan en meegevoel kan toon. Ek het met tye gevoel dat Nadia baie onredelik teenoor haar ma optree. Dit was asof ek albei se dade op ‘n weegskaal moes plaas om te besluit wie is reg en wie is verkeerd. Die tye wat sy saam Poenk spandeer het, het Nadia gehelp om haar innerlike konflik te verwerk en sodoende die kwaai gevoelens tussen haar en haar ma op te los.
Die boek mag dalk gemik wees op die jonger leser maar sal genot aan ouer lesers ook verskaf. Die verteller in die verhaal verseker dat die leser genoegsame inligting kry oor die karakters en gebeure om die leser deurentyd geïnteresseerd te hou. Die kort hoofstukke verseker dat ‘n jong leser nie vinnig verveeld sal raak nie. Edgar Allen Poe se gedigte wat in die verhaal gebruik word, word kreatief deur Viljoen ingewerk en vorm deel van die karakter Poenk. Gedigte in ‘n jeugverhaal is iets wat ʼn leser nie aldag aanskou nie en versterk die verhaal se literêre aspek.
Ek het werklik die boek geniet en dit was lekker om te lees. Viljoen het my werklik nie teleurgestel met die verhaal van hom nie. Ek glo elke jong leser, en ook ouer lesers, sal die boek net so baie geniet soos ek.