Kristie is jonk en verlief en dit boonop op gewildste en aantreklikste ou in haar skool. Sy dagdroom oor hom en wens dat sy aan Henk se sy is. Natuurlik kyk hy nie eens na haar nie, terwyl haar hele bestaan om Henk Maree wentel.
Wanneer hy haar uiteindelik raaksien, is Kristie so uit die veld geslaan oor sy skielike belangstelling in haar dat sy nie in staat is om logies te redeneer nie. “Ek het so hard vir hom geval dat ek skoon ’n naar gevoel op die krop van my maag gekry het.”
Tog beland hulle verhouding na ses maande op die rotse. Dit ontaard in ’n morsige gedoente waar beide Kristie en Henk mekaar beswadder deur gebruik te maak van sosiale media.
Kristie word geloofwaardig uitgebeeld, baie jong meisies sal Kristie in hulself kan raaksien. Kristie worstel met vrae wat alle tienermeisies mee worstel. “Toe breek die groot oomblik aan – ek moes my rok uittrek en vir die eerste keer in my bikini voor Henk staan.”
Die gebruik van sosiale media deur beide Kristie en Henk om wraak op mekaar te neem, maak die leser bewus van die krag daarvan in die moderne era.
Soos wat hulle mekaar probeer uitoorlê, ontaard dit in ’n bal wat heen en weer geslaan word. Die leser word meegevoer op die rit waar hulle wraak op mekaar probeer neem. Die magdom karakters wat aan die leser bekendgestel word, pla effens. Dit maak dit later moeilik om kop te hou met gebeure.
’n Hele hoofstuk in die boek, bevat uittreksels uit Kristie se dagboek – waar sy haar liefde aan Henk verklaar het. Vir my as volwasse leser het dit gevoel asof die gegewens bloot weergegee word, terwyl dit beslis vir die jongleser ’n insig kan gee in hoe ’n verliefde Kristie gevoel het.
Die boek is oorspronklik in Nederlands geskryf deur die bekende jeugboekskrywer, Daniëlle Bakhuis. Benewens haar werk as skrywer, is sy ook redakteur van CosmoGirl!
Die boek in Afrikaans vertaal deur Jaco Jacobs, is goed aangepas vir die plaaslike mark, met verwysings na eg Suid-Afrikaanse handelsmerke, bv. Edgars en Loslappie.
Die boek sal aanklank vind by jong tieners tussen 12 – 14 jaar wat die pyn ken van verhoudings wat op die rotse loop en die wraak gedagtes wat daarmee gepaard gaan.Die slot kan mens opreg laat wonder hoe ver mens sal gaan om wraak te neem teen die wat mens te nagekom het.