’n Dosyn rilstories in een boek, elkeen ongeveer die lengte van die strafopstel wat jy moet skryf om te verduidelik hoekom jy nie jou Afrikaanse huiswerk gedoen het nie. Wat dié versameling op die oog af interessant maak is die rangskikking daarvan: vier stories deur elke onderskeie skrywer, met deurlopende afwisseling van die skrywers. François Bloemhof, Jaco Jacobs, Fanie Viljoen, herhaal.
François Bloemhof se stories het titels wat in ’n mate vir ’n mens sê wat om te verwag. In sy stories is die opvallendste oorsaak van vrees (by die karakters sowel as die lesers) die blote hulpeloosheid van die karakters. Die situasies waarin hulle hulself bevind is bloot net nie die tipe waar mense, kinders, hulself sal kan uitmaneuvreer nie. ’n Skaduwee wat soos ’n obsessiewe en gevaarlike maat optree; ’n vlieg wat tien sentimeter lank is (die beskrywings van dié reeds-grillerige insek sal jou behóórlik laat gril); waterslange wat by enige plek kan uitkom, selfs die boonste verdieping van ’n hotel. Bloemhof se stories is oorspronklik en modern, met vereenselwigbare kwessies vir jonger lesers (“Ek is nie meer ’n kind nie”).
Jaco Jacobs het dit gedoen. ’n Aangepaste weergawe van Rooikappie. Weer. Maar dit moet uitgewys word: dis ’n goeie storie dié. Dit speel af in ’n distopiese wêreld waarin mense en weerwolwe in spesiale Distrikte moet bly ná die Groot Wolfoorlog. Die titel,’ Rooi’, is treffend en die sprake van swart spuitverf op ’n sypaadjie gee al klaar die idee dat dinge nie so goed gaan in die era na die Ou Dae nie. “Who’s afraid of the big bad wolf?”
Jacobs se titels is effens meer raaiselagtig. In een storie is ’n musiekgroep betrokke wat bestaan uit aliens wat maak asof hulle mense is (wat maak asof hulle aliens is). Die enigste probleem met hierdie storie is ’n paar onnodige uitroeptekens, onuitspreekbare woorde en die feit dat aliens nie meer so baie skrik kan maak soos wat hulle eens kon nie. Die slot sorg egter vir addisionele spanning, wat opmaak vir die voorafgenoemde. Die algehele atmosfeer van Jacobs se stories is iets waarby die leser sal kan aanklank vind.
Fanie Viljoen het ’n gemaklike en verstaanbare skryfstyl, wat perfek is vir jonger lesers. Viljoen se beste storie in hierdie versameling is getitel ‘Ietsie kleins’, wat byna komies klink, maar beslis niks is om oor te lag nie. ‘Mallemeul’e is ’n klassieke karnaval-rillerstorie, maar die oënskynlike onskuld van mallemeules en stampkarretjies het nog altyd iets sinies onder daardie masker van geluk; wanneer ’n skrywer besluit om dit te ontbloot is dit altyd ’n treffer. Die mens hou daarvan om te lees hoe gille van plesier in angsgille omgesit word. ‘Die Fantoom van die Skool’ se titel is dalk bietjie oudmodies, maar nes in die geval van karnavalstories speel dit in ’n treffende ruimte af. In geheel is Viljoen se stories bevredigend en soms selfs angswekkend.
Elke storie in hierdie bundel speel in moderne tye af waar kinders in die laerskool al hulle eerste selfoon kry. Hierdie versameling grilstories van drie gewilde grilskrywers bevat ’n baie wye verskeidenheid van rillerelemente; daar is beslis iets vir almal hier en boonop is dit ’n goeie boek om ’n kind se gunsteling-genres vroegtydig al te bepaal.