Kasteel herfs

Schloss Blutenburg – ‘n boekkasteel duisend

Op die rand van München, Duitsland, staan ‘n besondere Middeleeuse kasteel, Schloss Blutenburg. Met die kenmerkende rooidaktorinkies wat in die meer weerkaats, is dit beslis ‘n sprokieskasteel. Maar wat die kasteel besonders maak is dat dit ‘n skatkis vol stories is…

Schloss Blutenburg huisves die Internasionale Jeugbiblioteek. Hierdie biblioteek is in 1949 deur die Duits-Joodse immigrant, Jella Lepman, as ‘n versoeningsgebaar gestig. Die gedagte was dat die biblioteek internasionale kinder- en jeugliteratuur moet bevorder asook interkulturele dialoog deur middel van kinderboeke moet aanmoedig. ‘n Doelwit wat die biblioteek steeds met groot sukses volvoer.

Die biblioteek het in Junie 2009 sy 60ste verjaarsdag gevier. Die biblioteek is die die grootste van sy soort in die wêreld. Die versameling bestaan tans uit bykans 600 000 boeke in meer as 130 tale wat die afgelope 400 jaar gepubliseer is, asook nagenoeg 30 000 internasionale navorsingspublikasies. 
Sedert 1983 word die uitstalling in Schloss Blutenburg gehuisves: die ideale ruimte vir ‘n kinderboekbiblioteek.

Enige persoon wat in kinder- en jeugboeke belangstel kan die biblioteek besoek en in die leessaal gratis van die geriewe gebruik maak. Aangesien die meeste van die boeke in die kasteelkelders gestoor word, moet navorsers egter vooraf reël om spesifieke boeke te kan lees.

Die biblioteek het ‘n internasionale beurshouersprogram wat deur die Duitse Departement van Buitelandse Sake befonds word. Jaarliks kan 15 internasionale navorsers tussen ses weke en drie maande by die biblioteek navorsing doen. Besonderhede van die program is op die IJB se webtuiste beskikbaar.


Alhoewel die versameling vir navorsers bedoel is, word daar ook vir jong lesers voorsiening gemaak. In ‘n kleurvolle uitleenbiblioteek kan hulle boeke in 15 tale uitneem.

Die kasteel huisves ook verskeie permanente uitstallings soos die Binette Schroeder en Michael Ende-versameling, asook tydelike uitstallings. Allerlei boek- en kunsaktiwiteite word vir kinders aangebied sodat die binneplein dikwels weerklink met kinderstemme.

Om die versameling aan te vul word staat gemaak op uitgewerye vir die skenking van hul kinder- en jeugboekpublikasies. Taalkenners is verantwoordelik vir die aanwins van boeke uit die onderskeie taalgroepe. Hierdie kenners stel jaarliks die sogenaamde White Ravens lys saam wat besondere publikasies uit die wêreldliteratuur bevat. Hulle is ook verantwoordelike vir reisende kinderboekuitstallings.

Die kasteelterrein is oop vir enige besoeker. Met die besondere kerkie uit die 15de eeu, die gesellige restourant, en ‘n meer wat in die winter skaatsplek word, is dit beslis ‘n besoek werd.


Schloss Blutenburg is geleë in Obermenzing, München. Die naaste treinstasie is Pasing en daar is ‘n gereelde busdiens tussen Schloss Blutenburg en die stasie. Dit is ook moontlik om van Pasingstasie na Schloss Blutenburg te stap – ‘n lieflike roete langs die Würmrivier.

Franci Greyling
Franci het tussen November 2009 en Januarie 2010 as internasionale navorser by die IJB deurgebring.
2010 Januarie
0
Would love your thoughts, please comment.x