Wie is die teikenlesers van ‘n bundel met kindergedigte soos Rymreise? Natuurlik in die eerste plek kinders.Gerard Komrij, die samesteller van die lywige bloemlesing, De Nederlandse Kinderpoëzie in 1000 en enige Gedichten (2007) skryf in sy inleiding egter dat die begrip “kinderpoëzie” eintlik onsin is, want ‘n boek soos syne (en soos Rymreise) is vir álle poësielesers, én vir almal wat geïnteresseerd is in die kinderlewe.
Die meeste kindergedigte (ook in Rymreise) is deur volwassenes geskryf, grootmense wat na aan die kind staan. Soms is dit onderwysers (in Rymreise se geval veral ook dramaonderwysers), maar dit kan ook ouers wees.
Maar hierdie volwassenes moet (volgens Hennie Aucamp en Komrij) hul sin vir “verwondering, lawwigheid, klank en ritme behou.” Volgens Komrij is daar die volgende vereistes vir kindergedigte: “plezier aan taal” en ‘n “dadaïstiese streep”. En hierdie plesierighede kan natuurlik deur kinders sowel as grootmense geniet word.
(Bron: Hennie Aucamp. 27 April 2009. “Nuwe bloemlesing, verseboek kan houdings oor kinderpoësie verbeter.” Die Burger.)
Gedigte is woorde op papier, maar o, dit moet gehoor word! Octavio Paz, die Mexikaanse digter, het gesê ‘n gedig probeer ‘n oomblik “stol”, dit vasvang en bewaar sodat ons dit later weer kan ervaar. ‘n Gedig gebruik, volgens hom, nie sout of formalien of suiker of ys om daardie oomblik te bewaar nie; dit gebruik ritme, herhaling en klankpatrone om sodoende vorm en identiteit aan tyd te gee. En hoe raak ‘n mens daarvan bewus? Deur ‘n gedig hardop te lees of deur te luister hoe iemand dit voorlees.
“Die oor is die enigste ware skrywer en die enigste ware leser,” het die Amerikaanse digter Robert Frost geskryf.
En Antjie Krog het by die Universiteit van die Wes-Kaap vir ‘n paar honderd Afrikaans-onderwysers gesê: “Poësie is nie papier nie. Dis tong en mond en tande. Dit moet hardop gelees word sodat dit kan klink. Gedigte spits jou ore vir taal. As jy gedigte lees, lewe jy met ‘n groter bewussyn.”
So, kom ons lees almal gedigte – hardop!