Daar was eens ‘n bose trol wat die son gesteel en in ‘n kis weggesteek het. Die wêreld het donker geword, die voëls het ophou sing, die blomme het ophou blom en almal was bedroef. Die voëls het toe na Koning Raaf gegaan.
“Koning Raaf, ons wil die son terug hê,” het die voëls gesê. Koning Raaf was vreeslik slim en hy het ‘n magdom van towerspreuke geken. Hy het in die donker gesit en gedink en gedink. Hy het toe sy vlerke gesprei en na die trol se huis gevlieg.
Die trol was nie tuis nie. Hy was besig om in die donker te konkel en ander mense se besittings te plunder. Koning Raaf het by die trol se huis se skoorsteen afgevlieg en die trol se baba in ‘n wiegie sien lê. Koning Raaf het die trol se baba opgeraap en by die skoorsteen uitgevlieg na sy nes toe. Hy het die trol se baba tussen sy neskuikens laat lê. Koning Raaf het toe drie maal in die rondte gedraai, ‘n paar towerwoorde gemompel en siedaar, die trol se baba het in ‘n kuiken verander.
“Hier is nog ‘n kuiken waarna jy moet omsien,” het Koning Raaf vir sy vrou gesê. Koning Raaf het toe teruggekeer na die trol se huis en weer by die skoorsteen afgevlieg. Hy het in die baba se wiegie gaan sit, ‘n paar towerwoorde gemompel en siedaar, Koning Raaf het in ‘n baba trol verander.
Toe die trol tuis gekom het, was die baba trol in die wiegie besig om te huil en skree.
“Whaaaa!” het die baba trol gehuil. “Ek wil met die son speel!” het die baba trol geskree.
“Jy kan nie daarmee speel nie!” het die trol ongeduldig geantwoord.
“Whaaaa! Ek wil die son hê! Ek wil daarmee speel!” het die baba trol gehuil en geskree.
“Bly stil voordat ek vir jou ‘n pak slae gee!” het die trol geskree.
Die trol het toe vir die baba trol ‘n ratel gegee om mee te speel, maar die baba trol het die ratel op die vloer neergegooi.
“Whaaaa! Ek wil nie die simpel ratel hê nie! Ek wil die son hê! Ek wil daarmee speel!” het die baba trol aanhou skree. Die trol het die baba probeer troos, maar die baba trol het aanhou skree en spartel.
“Whaaaa! Ek wil die son hê. Ek wil met die son speel!”
Die trol het gaan slaap, maar die baba trol het aanhou huil en skree.
Die volgende oggend was die baba trol steeds besig om te huil en skree. Die baba trol wou die son met alle mag en krag hê! Oplaas het die trol die son uit die kis gehaal en saam met die baba trol in die wiegie gegooi. Onmiddellik het die baba trol opgehou om te huil en skree.
Die trol het uitgegaan om sy buit te bewonder. Die baba trol het toe uit die wiegie gespring, drie maal in die rondte gedraai, ‘n paar towerwoorde gemompel en siedaar, die baba trol het terug verander in Koning Raaf. Koning Raaf het die son opgepik en by die skoorsteen opgevlieg, maar die son het in die skoorsteen vasgesteek. Koning Raaf het toe met sy snawel aan die son gepik. Hy het klein stukkies van die son afgepik en by die skoorsteen uitgegooi. Die stukkies van die son het in die donker lug gedryf, op en op, en begin om te glinster.
“O! Kyk hoe mooi! Sterre wat in die donker glinster en blink!” het die voëls gesê.
Koning Raaf was steeds besig om stukkies van die son af te pik toe die son oplaas losgekom het en by die skoorsteen uitgedryf het. Die het gerys, op en op, hoër en hoër, totdat dit weer die hele wêreld verlig het. Die voëls het toe weer begin sing, die blomme het weer begin blom, en almal was weer gelukkig.
Koning Raaf het na sy nes teruggekeer. Die neskuikens het almal eenders gelyk, maar hy het geweet watter een die trol se baba is. Dit was besig om aan die ander neskuikens te pik en hulle uit die nes te skop.
“My geduld is besig om op te raak met hierdie stouterd!” het Koning Raaf se vrou gesê. Koning Raaf het toe op die rand van die nes gaan staan, drie maal in die rondte gedraai, ‘n paar towerwoorde gemompel en siedaar, die stoute kuiken het terug verander in die trol se baba.
Koning Raaf het die baba trol opgeraap en teruggekeer na die trol se huis. Hy het by die skoorsteen afgevlieg en die baba trol in die wiegie laat val. Die baba trol het begin skree.
“Whaaaa! Whaaaa!” Koning Raaf het hom doof gehou en weggevlieg.
Die baba trol het aanhou skree in die huis. Die trol het toe teruggekeer en gesien dat die son weer die hele wêreld verlig. Hy het sy vuis na die son gelig en begin skree.
“Ek sal jou weer steel en in daardie kis wegsteek. Die wêreld sal weer donker wees!”
Die trol het egter nog nie weer daarin geslaag om die son te steel nie. Hy sal ook heel waarskynlik nie weer daarin slaag nie…
(Skrywer: Liana de Beer)