Want ek kan niks verkeerd doen nie

Monoloog – Hoërskool
Anchenè van Jaarsveld
‘n 16-jarige, hoërskoolmeisie. Sy het ‘n baie ongeskikte houding, maar steeds kry sy dit reg om enige iemand om haar pinkie te draai.
Ouderdomsgroep: Graad 8-10
Karakter: ‘n 16-jarige, hoërskoolmeisie. Vir haarself is sy volmaak. Sy dra net die nuutste modes en maak seker dat almal weet dat sy (of altans haar ouers) is ryk. Sy is populêr en baie mooi. Sy het ‘n baie hoë stem en soos sy praat verduidelik sy altyd alles met haar hande. Sy het ook ‘n baie ongeskikte houding, maar steeds kry sy dit reg om enige iemand om haar pinkie te draai.
Stel: Dit speel by die skool af. Sy dra ‘n kort skoolrokkie en stap met ‘n selfoon in haar hand. Die een helfte van die verhoog is afgebaken met ‘n bordjie wat lees “Mnr Greyling – Dissiplineerder”. In hierdie afgebakende area staan daar twee stoele.

Want ek kan niks verkeerd doen nie

(SY STAP OP DIE VERHOOG MET ‘N HOUDING, GEE ‘N SUG EN ROL HAAR OË)
Ag asseblief! Wie dink is hierdie meneer is hy? Om vir my te wil sê ek is ‘n boelie? Hy ken my obviously nie. My ouers sal definitief skool toe kom hieroor. Ek is dan almal se vriendin. Wie sal nou so ‘n storie van my gaan versprei? 

(SY STAAN IN DIE MIDDEL VAN DIE VERHOOG EN LAAT SAK HAAR SKOUERS TERWYL SY SUG. DAAR IS ‘N OOMBLIK SE STILTE, SY KYK OP EN FRONS TERWYL SY DINK. SY MAAK HAAR SELFOON OOP EN DRUK ‘N PAAR KNOPPIES, EN SIT HOM DAARNA TEEN HAAR OOR.)

Pa! Dis ek. Hier is groot gemors by die skool! Een of ander siel het na ons dissiplineerder by die skool, die Terminator, gegaan en ‘n dom, onware storie opgemaak! Nou wil hy vir my kom sê dat ek is ‘n boelie! Kan pappa dit glo? Ek sal nou mos nooit iemand anders wil afkraak nie.  

(LOOP HEEN EN WEER TERWYL SY NA HAAR PA LUISTER WAT MET HAAR PRAAT.)
Ek sê pa! Dis seker weer een van daardie kinders wat so jaloers is op my. Ek kan nie met sulke mense deal nie! 

(LUISTER) 
Nee, ek is dan nooit eers lelik met iemand nie… belowe.  

(LUISTER EN ROL HAAR OË)
Is dit nou regtig wat pa dink ek sal doen? Pa ken nie eers die storie nie… om eerlik te wees ken ek nie eers die volle storie nie. Ek gaan nou eers mooi uitvind wat presies gebeur het, dan sal pa sien. Dit sal nie waar wees nie! Pa weet mos, ek doen niks verkeerd nie. Ooit!

(SY HAAL DIE SELFOON WEG VAN HAAR OOR AF EN HARDLOOP SO ENTJIE AGTER DIE TERMINATOR AAN WAT VERBY HAAR LOOP)
Meneer, as ek mag vra wie het nou vir meneer kom sê ek boelie hulle?  En wat het ek presies gedoen?

(LUISTER.  DAARNA STAP HULLE IN ‘N KANTOOR IN WAAR SY OP ‘N STOEL GAAN SIT, EN LUISTER DAN WEER VERDER.)

Wat! Dit malligheid, meneer. Lyk ek soos iemand wat vir ‘n seun sal sê hy is gay? En soos meneer nou sê, hy het self nie eers ‘n klag kom lê nie. Sy vriendin het! En ek en sy kom al van laerskool af nie oor die weg nie. Dis absoluut net omdat sy jaloers is op my, meneer. Lyk ek vir meneer soos iemand wat ‘n kind sal boelie?

(SY LUISTER EN HAAR OË RAAK GROTER EN GROTER.)
Ek is jammer, meneer, maar as hy dan al vroeër ook my kom verkla het, hoekom het meneer nie toe al met my kom praat nie?  Wanneer het hy vir meneer kom sê ek maak sulke aantuigings?

(LUISTER. DAN IS DAAR ‘N OOMBLIK SE STILTE WAAR SY OPKYK EN DINK. DAN SNAK SY HARD NA HAAR ASEM EN PRAAT BAIE HARD EN MET HOUDING.)
Weet meneer wat het gebeur? Dit was in die Afrikaanse periode toe dit gebeur het. Maar meneer sal my nie glo as ek net self dit vertel nie, so ek sal vir juffrou Diamond vra om hier te wees as my getuie. Wag net hier! 

(SY SPRING OP, HARDLOOP TOT BY DIE PUNT VAN DIE VERHOOG EN MAAK OF SY IEMAND AAN DIE ARM TREK TERUG IN DIE RIGTING VAN DIE TERMINATOR SE KANTOOR.)
Kan juffrou glo dat iemand nou so ‘n grappie ernstig sal opneem? Maar wees nou net aan my kant asseblief? Ek sal so dankbaar wees!

(SY GAAN SIT WEER OP DIE STOEL.)
Nou dat ek ook iemand het om my te kan defend, nou sal ek vertel wat gebeur het. Ons was in juffrou Diamond se klas, en sy het vir ons iets vertel. Ek kan nou nie mooi onthou presies wat nie, maar dit was snaaks. En iets te doen met couples. Toe sê iemand iets van Anthony wat nie ‘n “vriend” het nie, toe sê ek net dat Christo, daai mooi ou in ons klas wat agter my sit? (SY VERDUIDELIK TERWYL SY NA JUFFROU DIAMOND KYK.) Dat hulle twee vriende kan wees want hulle lyk of hulle van dieselfde soort is. Dis al! So ek het nie direk gesê hy is gay nie! Ek doen nie sulke dinge nie! Dis seker toe daai Reinette meisie wat nou vir meneer kom sê het dit gehoor het want sy sit ook naby aan my. Dis waar, né juffrou Diamond?

(SY KYK NA JUFFROU DIAMOND EN REK HAAR OË SODAT SY MOET SAAMSPEEL.)

Sien! Ek het meneer gesê ek doen niks verkeerd nie. Hoekom sal ek nou sy menslikheid wil afkraak. Dis sy keuse as hy wil gay wees of nie. En net so tussen ons, hy het al laas self vir ons admit hy het ‘n boyfriendKind of disgusting, huh? 

(SOOS SY DIT SÊ TREK SY HAAR NEUS OP. LUISTER.)
Maar ek verstaan nie hoekom ek moet jammer sê nie? Ek is al klaar die beter persoon?  

(LAG IN HAAR HOË STEM.)
Grappie… maar fine!  Ek sal vir hom sê.

(SY STAAN OP EN LOOP UIT DIE KANTOOR UIT NA DIE ANDER KANT VAN DIE VERHOOG.)

Nicolene wag! 
(SY LOOP NA DIE VOORKANT VAN DIE VERHOOG.)
O my word, vriendin!  Amper kom ek nou net in groot moeilikheid by die Terminator!  Daai Reinette meisie het my gaan aankla oor my ou grappie in Afrikaans vroeër. 

(LUISTER.)
Ek sê jou!  Party mense moet seriously net ‘n sin vir humor kry! Maar ek sê jou nogsteeds, hy is so gay!

(LUISTER.)
Ag, jy weet mos, ek kan uit enige ding uit kom.  Ek is dan ek!  En almal dink ek doen mos nooit niks verkeerd nie!

Anchenè van Jaarsveld
Die monoloog is geskryf deur Anchenè van Jaarsveld. Anchenè is ‘n Skryfkunsstudent aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) 2013.
2013-06-15
Kopiereg Anchenè van Jaarsveld

As jy dié stuk wil opvoer, stuur ‘n versoek aan kollig@storiewerf.co.za
met jou naam, ouderdom, die titel, en waarvoor jy dit wil gebruik.

0
Would love your thoughts, please comment.x