Sitkamer van die koshuis. Melissa, ‘n mooi meisie met bruin hare en ‘n besonderse kort skoolrompie loop heen en weer oor die vloer. Haar hare is opgedoen en haar hemp hang oor haar romp. Sy het donker ooggrimering aan en haar das is losgemaak. Sy lyk angstig en kyk kort-kort verby die verhooggordyn. ‘n Blonde meisie, Wilmien, verskyn op die verhoog. Sy dra ‘n prefektebaadjie en lyk netjies in haar skoolklere.
MELISSA: (gesig helder op en sy klink baie aansitterig) Wilmien, my ou vriendin! Hoe gaan dit?
WILMIEN: (rol haar oë en sug) Wat soek jy nou weer, Melissa? Jy weet ek stel nie belang in jou welsyn nie.’
MELISSA: (lyk ewe skielik opreg, loop na Wilmien, vat haar hand, en lei haar om te sit op die bank) Wag, nou, Mien. Ek en jy het al ons verskille gehad, en ek was seker verantwoordelik daarvoor, maar…
WILMIEN: (ruk haar hand weg, trek haar oë op skrefies en staan op)Ons ou verskilletjies! Noem jy dreigboodskappe en skelname in die openbaar verskilletjies? Jy is ‘n slang, en jy was al een van standerd ses af. En noudat ek ‘n prefek is, is jy so bitter soos koffie sonder suiker. Jy was mos veels te beroemd om nie die leerlingraad te maak nie…
MELISSA: (kyk weg van wilmien se blik af, en skuif in haar sitplek sodat haar rug na Wilmien wys) Ek probeer vir jou jammer sê, en dan gooi jy die prefek-ding in my gesig. Het jy al ooit daaraan gedink dat ek wens ek kon jy wees? Jy het alles… vir Ben, die prefek-baadjie en jou ouers haat mekaar nie soos myne nie.
WILMIEN: (praat met die dak) hemel tog! dat jy nou sulke loutere twak sal praat! Ek ken jou. (Kyk na Melissa en wys met haar vinger)Jy drink veels te lekker om ooit ‘n prefek te wou wees, daar is vrek baie waar Ben vandaan kom en jou ouers gee vir jou alles wat jou hartjie begeer! Wat probeer jy bereik met hierdie gesprek?
MELISSA: (spring ook nou op, gryp vir Wilmien aan haar skouers en draai haar sodat hulle mekaar aangluur) Ben was my ou. Jy het hom afgevry en ek dink jy is die slang.
WILMIEN: (ruk haarself los en lyk spyt. loop na die voorkant van die verhoog) Ek dag ons is nou al mooi groot. Dat twee sewentienjariges baklei oor ‘n ou, is ‘n helse grap.
MELISSA: Ek weet dit. En ek probeer met jou vrede maak. Ben is dit nie alles werd nie.
(Daar is ‘n paar oomblikke van stilte.)
WILMIEN: (Haar stem raak sagter en sy lyk skaam terwyl sy na die vloer kyk en met haar voet daarteen vee.) Ek en Ben het eers saamgekom nadat julle twee uit is. Jy weet ek het nie alles beplan nie, né Mel?
MELISSA: (sug en gaan sit weer) Ek het dit seker die hele tyd geweet.
WILMIEN: (gaan sit ook en leun terug in die bank) Kom ons begin oor. Ek mis die ou dae toe ons nog hier gesit en skinder het.
MELISSA: (kyk na die luidspreker van die interkom en glimlag skelmpies. Kyk weer terug en die glimlag verdwyn) Okay. Waaroor wil jy skinder?
WILMIEN: O genade, sommer oor hierdie hele koshuis. Die mullet-meisies daar op die tweede vloer, ou juffrou Griesel se nuwe spanner van ‘n mannetjie wat gereeld hier oorslaap….
MELISSA: (skuif na die voorpunt van die bank, haar oë groot en opgewonde) Het jy ook gehoor van Ryan wat gevang is met dagga?
WILMIEN: Ja, ek het so-iets gehoor. Hy het voor my eenkeer gerook… hy sal sy plek in die rugbyspan kwyt wees as ek vir iemand belangrik sê….
MELISSA: Toemaar, ou Griesel kan jou nie hoor nie. Dit sal ‘n sonde wees teen die vroulike geslag as hy geskors moet word.
WILMIEN: Hmmmm! Wat ‘n mooi man is hy nie…. maar ‘n stouter ook! Hy vry heeltemal te letterlik in die bondel. Sy laaste prooi was mos Gerrida Lourens, jy weet mos daardie vettetjie op ons gang? En hy en Gerrida se kamermaat is mos veronderstel om ‘n paartjie te wees…
MELISSA: O… so Gerrida knyp haar kamermaat se kat in die donker?
WILMIEN: Glo my, van die stories wat Gerrida my al vertel het, knyp sy ook maar ‘n paar ander katte. Ek weet nie hoe sy dit regkry nie- met daai lyf het sy seker ander talente….
MELISSA: So niemand weet van Gerrida en Ryan nie? Wat sou gebeur as die kamermaat moes uitvind?
WILMIEN: Die hel sal losbars in daardie kamer. En ek sal kniediep in die kookwater wees as die storie uitlek… Dit herinner my, moenie vir iemand sê nie..
MELISSA: (klink heeltemal oordrewe) Wie, ek?
WILMIEN: Jy weet mos stories versprei hier soos ‘n veldbrand in die Karoo.
MELISSA: (Lyk baie selfvoldaan. staan op en loop stadig agter die bank verby tot agter wilmien terwyl sy praat) Ek stem saam. Jy moet mos maar versigtig watter geheime jy aan ‘n slang verklap…
WILMIEN: (haar oë vernou. sy staan op en tree stadigaan agteruit)Jy’t dan gesê jy gaan niks sê nie.
MELISSA: (loop stadig, maar doelgerig na Wilmien en tik haar teen haar skouer) Ek sal niks sê nie, my ou vriendin.Dis net jammer vir jou dat die koshuisinterkom nog die hele tyd aan was… (sy wys na die interkom)
WILMIEN: (oë rek, slaan haar hande na haar hare en raak histeries) Wat!? Wat? Jy lieg! Ek weet jy lieg…
MELISSA: (lag kliphard) Jy wens, mevrou prefek! Kyk wie’s nou beroemd, of sou ek sê berug?
WILMIEN: (haal ‘n paar keer diep asem en hou haar kop hoog) Ek hoop jy weet dat jou lae houe nie vir Ben gaan terugbring nie. Of jou ouers gaan terugbring bymekaar nie. En hier is die beste een: Jy bly ‘n slang, al vang jy ‘n arend! (storm uit)
(Melissa bly staan in geskokte stilte. Gordyn sak.)