Cor Dirks

Cor Dirks is die skepper van die baie gewilde Uile-reeks. Hy skryf ook ander spannende avontuurverhale.

Justus Cornelius Dirks (1911 – 2000) is op ‘n plaas naby Volksrust gebore. Hy studeer onderwys in Potchefstroom en in 1933 voltooi hy sy M.A. in Geskiedenis. Hy hou skool op Duiwelskloof, Belfast en later by die Hoër Volkskool in Potchefstroom waar hy 13 jaar onderwys gee en koshuisvader is. In 1950 word hy visehoof van die Voortrekker Hoërskool op Boksburg en in 1955 hoof van die Lindense Hoërskool in Johannesburg.

Hy het homself nooit as ‘n “skrywer” beskou nie. “Ek het net stories vertel. As ek ‘n skrywer moes wees, sou ek misluk het,” sê hy in 1999 met die oorhandiging van ‘n toekenning aan hom tydens die Aardklop-fees in Potchefstroom. Hy was sestig jaar lank gelukkig getroud met Ella. Hulle het ‘n seun, Justus, ‘n dogter, Elsje en ses kleinkinders. Met sy afsterwe het hy in Afsaaloord in Linden gebly.

Hy het sy skrywersloopbaan met sewe speurverhale begin. Afgesien van kortverhale in tydskrifte, het hy meer as 44 boeke geskryf.
Cor Dirks en die Uile-reeks is sinoniem. Dié reeks oor die Uile van Kranskop is een van die heel gewildste reekse in Afrikaans. Die reeks is verskeie kere herdruk. In 1990 verskyn ‘n laaste Uile-boek, Die Uile vlieg weer, waar die kinders van die Uile bymekaarkom en in hulle pa’s se voetspore volg.

Die Joof-reeks (1977 – 1988) en die Otter-reeks (1981 – 1989) wat albei na sy aftrede geskryf is, volg die Uile se patroon. Die Otter-reeks is goed ontvang. In die Joof-reeks ervaar vier maats opwindende avonture van ‘n uiteenlopende aard.

PUBLIKASIES SLUIT IN:

  • Uile-reeks
  • Joof-reeks (1977 – 1988)
  • Otter-reeks (1981 – 1989)
Skrywersinligting uit Van Patrys-hulle tot Hanna Hoekom: ‘n Gids tot die Afrikaanse kinder- en jeugboek. Die redakteurs is Gretel Wybenga en Maritha Snyman. LAPA-Uitgewers. Vollediger inligting is beskikbaar in Van Patrys-hulle tot Hanna Hoekom.
Storiewerf
2009-06
0
Would love your thoughts, please comment.x