Reeds as kind het Frieda de Villiers prosabydraes gelewer in tydskrifte en skooljoernale. Later publiseer sy tientalle kinderverhale in Afrikaanse kindertydskrifte. Haar bydraes tot die radioprogram vir kleuters, Siembamba, word gepubliseer onder die titel, Siembamba-stories (1970).
In 1957 verskyn drie boeke in die Bergarend-reeks: Bergarend ontmoet die smokkelaars van Vaaldam, Bergarend en die swart kewer en Bergarend in die vallei van die spinnekop. Dit is spanningsavontuurverhale met die student, Arnold Bergh, in die helderol. Haar ander romans sluit in: Die kermis-komper (1985), Suidpunt-fietstoer (1987), Operasie Maanligmotors (1988) en Vissers moenie in die water mors nie (1991). In Die kermis-komper en Operasie Maanligmotors raak kinders aktief betrokke by die probleme van ‘n plaaslike fabriek waar die meeste van hulle pa’s werk.
PUBLIKASIES SLUIT IN:
- Siembamba-stories (1970)
- Bergarend-reeks
- Bergarend ontmoet die smokkelaars van Vaaldam
- Bergarend en die swart kewer
- Bergarend in die vallei van die spinnekop
- Die kermis-komper (1985)
- Suidpunt-fietstoer (1987)
- Operasie Maanligmotors (1988)
- Vissers moenie in die water mors nie (1991)