W.O. Kühne

W.O. Kühne ( 1924 - 1988) is veral bekend vir sy Huppelkind-reeks.

Wilhelm Otto Kühne is in 1924 gebore in die distrik Graaf-Reinet. Na vier jaar in die onderwys tree hy toe tot die redaksies van Die Burger, onder andere as seiljagverslaggewer, Die Huisgenoot en Sarie Marais. In Die Klein Burger verskyn, toe hy nog onderwyser was, sy eerste kinderverhale. In 1960 redigeer hy ‘n tydlank Die Jongspan en maak ook self bydraes. Hy is in 1951 met Dorothy Margaret Hill, die bekende kinderboekillustreerder, getroud. Sy het ook die meeste van sy boeke geïllustreer.

W.O. Kühne is by uitstek bekend vir sy ses Huppelkind-boekies:Huppelkind (1958), Huppel maak ‘n plan (1958), Wip-Huppel-Wip(1959), Vrolike Huppelkind (1959), Huppel by die water (1960) en Huppel verjaar (1960) wat almal by Tafelberg verskyn het. Die verhale word in versamelbundels opgeneem in 1976 (Vrolike Huppelkind), 1982 (Huppel en sy maats, herdruk in 1988), en in 1995 in ‘n tweede hersiende uitgawe. Kühne was die eerste ontvanger van die C.P. Hoogenhout-toekenning vir Huppel verjaar. Dorothy Hill, sy vrou, het al die publikasies geïllustreer, behalwe die 1995-uitgawe met illustrasies van Alida Bothma.

Hoera vir Klaas Jas! (1975), Piet-‘n-Jan (1975), Die wonderbaarlike motor van Barnabas Bombas (1981), Pot, graaf en houtvurk (1983) en Pip in Otterland (moontlik 1983) en Eendag was daar ‘n witborskraai: ‘n fantasieverhaal (1985) is ook op die jonger kind toegespits. In 1960 publiseer Kühne sy eerste jeugboek, Kassie Krog in die knyp.

Die kring van Keerom (1962) was medewenner saam met Die goue protea van Mikro van die eerste prys in die wedstryd vir jeugverhale wat die Nasionale Boekhandel in 1961 uitgeskryf het om die verskyning van die eerste Afrikaanse boek in 1861 te herdenk. Dit het twee uitgawes en twaalf herdrukke beleef.

Die reeks Die nagvlieërs (1957), Die indringers (1958) en Die mededingers (1962) is ligte avontuurverhale. In Goue fluit my storie is uit: verhale, verse en raaisels vir kinders (1988) waarvan Linda Rode die samesteller was, publiseer Kühne ook ‘n hervertelling van die Icarus-verhaal onder die titel Die jong man wat te hoog wou vlieg.

Kühne het ook ‘n aantal kleuterboeke vertaal of oorvertel, soos Die flukse kabouters van Keulen (1969), My prentepoetseboek (1976) met verse en manupileerbare prente, en vier boekies in die reeks Bybelstories vir die kleinspan, naamlik Die geboorte van Jesus, Moses in die mandjie, Dawid en Goliat en Die kindertyd van Jesus, almal uit 1982.

PUBLIKASIES SLUIT IN:

  • Die nagvlieërs (1957)
  • Die indringers (1958)
  • Huppelkind-reeks (1958-1982)
  • Kassie Krog in die knyp (1960)
  • Die mededingers (1962)
  • Die kring van Keerom (1962)
  • My prentepoetseboek (1976)
  • Die wonderbaarlike motor van Barnabas Bombas (1981)
  • Die waterskeiding (1981)
  • Pot, graaf en houtvurk (1983)
  • Eendag was daar ‘n witborskraai: ‘n fantasieverhaal (1985)
  • Goue fluit my storie is uit: verhale, verse en raaisels vir kinders (1988)

C.P. Hoogenhout-toekenning vir Huppel verjaar

Skrywersinligting uit Van Patrys-hulle tot Hanna Hoekom: ‘n Gids tot die Afrikaanse kinder- en jeugboek. Die redakteurs is Gretel Wybenga en Maritha Snyman. LAPA-Uitgewers. Vollediger inligting is beskikbaar in Van Patrys-hulle tot Hanna Hoekom.
Storiewerf
2009-07
0
Would love your thoughts, please comment.x