Indien dit nie reeds in die titel vanselfsprekend is nie: hierdie boek wemel van spinnekoppe – groot, klein, harig en honger … vir menssappe. So wees gewaarsku, arachnofobie-lyers, in Web van die mummie (2018) is daar ’n spinnerak binne elke hoofstuk geweef, en dis net ’n kwessie van tyd voordat die spinnekop sy vreeslike gevreet wys!
Arme Pippa, ’n plaasmeisie in die Moordenaarskaroo, is verskriklik bang vir spinnekoppe. Om dinge te vererger, kry sy aaklige nagmerries waar die goed uit haar mond kruip en haar droogsuig totdat sy ’n biltongvel het. Haar lewe word egter ’n ware nagmerrie toe haar familie die gemummifiseerde liggaam van ’n meisie in die bergskeur vind en dit na die skuur toe bring. Gelukkig kan sy van die uitgedroogde hol oë ontsnap toe sy in ’n meisieskoshuis in die Paarl haar hoërskoolloopbaan begin. Die koshuislewe is egter nie ’n paradys nie – nare kamermaats en prefekte maak dit vir haar moeilik om aan te pas. Dan is daar nog die mummie wat geheimsinnig van die plaas af verdwyn het …
Weereens laat Shân Fischer, voorbladillustreerder van al drie boeke in die Grilgrypersreeks, die kyker nie in die steek nie. Sy illustrasies jaag nie net die hartklop aan nie. Die sketse is gedetailleerd en soms baie realisties. Kyk net na die spinnekoppe wat deur die mummie se tande kriewel! Ek het hoendervleis.
Sommige van die karakters vul die bladsye met humor aan, soos Weerbeer – ’n beer van ’n juffrou wat die koshuisgange patrolleer. Pippa se kamermaat en vriendin, Siphokazi, is baie lojaal teenoor haar en probeer haar teen die ander meisies te beskerm. Sy is glad nie bang vir spinnekoppe nie, sy het ’n troeteltarantula met die naam Cleopatra, en is deel van ’n mummieklub.
Die tweede boek in die grillerige Grilgrypersreeks is glad nie minder bloedstollend nie. Dit is lekker leesstof vir enigiemand met ’n smaak vir biltongvel en agtpotige gedrogte.