Sweepslag

Sweepslag (resensie)

Annerle Barnard
Tafelberg
Resensie deur Cari Cloete

Wat help dit sy skree? Wie sal haar hoor? Gepaste woorde vir ’n donker blou en swart voorblad. Die swart stroke verteenwoordig die land, “want dis op land wat die spoke hom jaag”. Die somber gesig van ’n meisie dryf op die bodem van die voorblad, en versterk die illusie dat sy sink – ’n metafoor vir die wanhoop waarteen die karakters deurlopend moet veg terwyl hulle aangehou word. Wat egter die duidelikste uitstaan, is die wit aaneenlopende letters wat die titel van die boek uitspel, Sweepslag. Dit vestig jou aandag, soos wat die hoofkarakter sy energie en hoop vestig op die moontlikheid van ontsnapping. Alhoewel dit nogtans vir die leser voel of daar geen uitkomkans is nie, bly sy saam met die karakters hoopvol wees.

Die hoofkarakter, Paul Rudman, word onwillig betrek in die wêreld van skurke toe hy ’n ooggetuie word van ’n moord by Vanderkloofdam. Annerlei Barnard skep ’n wêreld wat skrikwekkend naby aan die een lê wat in die skadu’s van ons realiteit voorkom: mensehandel, die verkoop van meisies as seksslawe en kinderpornografie – temas wat vir my nog nie vantevore só werklik in ’n jeugroman uitgebeeld is nie. Wat die verhaal meer ontstellend maak, is dat die uitwerking van mishandeling en skok op die menslike psige daartoe lei dat die karakters nie heeltemal van hulle spoke ontsnap nie. Die gelukkige eindes en terugkeer na die normale, aanwesig in byvoorbeeld Diedericks-Hugo se Thomas-reeks, is nie moontlik vir Barnard se slagoffer-helde nie.

Wat my die meeste beïndruk, is Barnard se vermoë om humor met spanning te verweef sonder om die balansskaal te kantel. Hoofkarakter Paul se direktheid bring hom in die moeilikheid met sy wrede opsigters, maar hy wikkel hom op die laaste oomblik uit penaries . Sy fyn en sarkastiese humorsin gee die leser kans om tussen spanningsvolle tonele asem te skep. Hy gee vir die booswigte byname wat hulle voorkoms weerspieël, soos “Grafsteen” en “Picasso”.

Barnard se uitstekende karakterisering en gedrewe dialoog dra by tot ’n plot wat nie rem aanslaan nie. Die hoofstukke wat nie chronologies op mekaar volg nie, dra by tot ‘n spannende plotstruktuur. Die gevolg is dat die leser nuuskierig voortlees.

Sweepslag (2019) is ’n ontroerende verhaal wat sensitiewe lesers mag ontstel. Indien jy besluit om ’n kans te waag om dié boek oop te maak, sal jy nie teleurgestel wees nie.

Barnard se tweede boek Sindikaat is nou beskikbaar. Sweepslag is deur Tafelberg uitgegee.

Cari Cloete
Carli Cloete is tans besig met haar MA-studie in Afrikaanse Skryfkuns aan die NWU.
27 April 2020
0
Would love your thoughts, please comment.x