Om taalgebruik in kinderboeke aanvaarbaar vir die leser te maak, is nie so maklik soos wat ʼn mens sou dink nie. Die taal moet duidelik, verstaanbaar en op die man af wees, maar sonder om neerbuigend te wees en oor te verduidelik (Jacobs, 2012:130). Die taal en styl bepaal in ʼn groot mate die trant van die verhaal en gee “geur” aan die ruimte, tyd en gebeure (Greyling, 2018:4). Taal is ʼn instrument in die hande van die skrywer wat van ʼn goeie idee ʼn briljante verhaal kan maak.
Jaco Jacobs se Professor Fungus-reeks, sowel as in Jamie en Sebastiaan van Martie Preller en Vian Oelofsen is beide avontuurverhale wat met elke storie dieselfde formule/resep volg waarvolgens die gebeure plaasvind. In Professor Fungus daag die tweeling elke keer by die Professor se huis op, waar hy hulle ʼn nuwe eksperiment wil wys. Die eksperiment loop verkeerd en die tweeling moet met ʼn oplossing vorendag kom. In Jamie en Sebastiaan gaan die kinders elke keer na die rivier, waar hulle in ʼn gat verdwyn en na ʼn vreemde avontuur vervoer word en telkens vir Sebastiaan moet red. Alhoewel hierdie verhale elke keer op dieselfde wyse afspeel, word die gebeure lewendig gehou deur die taalgebruik. Jaco Jacobs gebruik byvoorbeeld oorspronklike vergelykings in sy beskrywings van gebeure en dinge . Martie Preller en Vian Oelofsen maak weer gebruik van die konstante bakleiery tussen Jamie en Sebastiaan om die verhaal interessant te maak en “kleur” te gee.
Verder is taal baie belangrik vir karakterisering. Wat karakters sê, hoe hulle praat en die wyse waarop hulle beskryf word help alles om hulle eg en geloofwaardig te laat voorkom. Jaco Jacobs verbeeld byvoorbeeld Professor Fungus se “piesangneus” en grillerige tone baie beskrywend, sodat die leser ʼn baie duidelike beeld van sy voorkoms het. Hy het ook ʼn hele paar kenmerkende slagspreuke soos “by Einstein se snor” en “eksperimenteer is die beste geweer”. Hierdie tipe taalgebruik gee aan die leser ʼn gevoel van die karakter se geaardheid. Jamie se knorrige geaardheid kom in Jamie en Sebastiaan na vore in sy bakleiery met Sebastiaan en hoe sy handeling beskryf word (byvoorbeeld wanneer hy uit moedswilligheid na ʼn klip skop, en dan nog kwater raak omdat sy toon seer is). Deur die optrede so in die dialoog en handeling te “wys” eerder as vertel, kan die leser die karakter leer ken en sien hoe die karakters groei en ontwikkel.
Nog ʼn belangrike manier om taal aan te wend, is humor – veral in kinderboeke. Humoristiese vertelling is ʼn kragtige wyse om die leser se aandag te behou. Jaco Jacobs kry dit baie goed reg, nie net deur die oordrewe, buitengewone gebeure nie, maar ook deur oordrewe vergelykings, soos wanneer Bennie sê dat spinasie soos gekookte babapoef lyk (In Professor Fungus en die zombie-tamaties). Naamgewing is iets wat in beide Professor Fungus en Jamie en Sebastiaan gebruik word om humor te skep. Nie net is die naam, “Professor Fungus”, alreeds humoristies nie, maar ook benaminge soos “Snotzilla” en “Zombie-tamaties”. In Jamie en Sebastiaan figureer daar weer name soos “Della Dell Grootoog”, “Sebastiaan die grote” en ʼn kameel met die naam “Dit-klink-beter”.
Geykte woordeskat en uitdrukkings maak ʼn verhaal vervelig en flou. Kinders soek aksie en opwinding, maar dit kan nie bereik word as die beskrywings, vertelling en dialoog nie interessant en lewendig is nie. Jaco Jacobs maak in Professor Fungus veral gebruik van oorspronklike woorde, vergelykings en afkortings (byvoorbeeld die K.L.I.E.K. – Kompakte laseraangedrewe Interkontinentale Elektro-kronobeheer). Alhoewel hierdie woorde baie lank en kompleks is, word dit op so ʼn manier in die teks geïntegreer dat dit vir die leser verstaanbaar is.
Alhoewel Jamie en Sebastiaan al in 2007 gepubliseer is, is die taalgebruik steeds van so ʼn aard dat dit nie ouderwets en onverstaanbaar is nie. Dit is eenvoudig, humoristies en lewendig.
Die taalgebruik van Professor Fungus en Jamie en Sebastiaan is lewendig en gepas, boeiend en vlot en dra die verhaal van die karakters. Die moeilikheidsgraad van die boeke is gepas vir lesers tussen die ouderdom van 8 en 13, aangesien daar van kort sinne en eenvoudige woorde gebruik gemaak word.
Die styl van beide verhale is vloeiend en gevul met spanning en humor. Jaco Jacobs gebruik aanvullend tipografie om die woorde visueel betekenis te gee, byvoorbeeld harder geluide is groter en in vetdruk of staan alleen.
Dit is dus duidelik dat die manier waarop taal aangewend word, baie belangrik is by die skryf van kinderboeke. Kinders is slimmer as wat ʼn mens dink en sal vinnig agterkom as daar verkleinerend of neerbuigend gepraat word. Die taal moet op ʼn slim manier aangebied word, sodat dit verstaanbaar, boeiend en opwindend is, sonder om die leser minderwaardig te laat voel. Die lewendige en oorspronklike taalgebruik in beide Jaco Jacobs se Professor Fungus-reeks en Martie Preller en Vian Oelofsen se Jamie en Sebastiaan slaag dus baie goed daarin om die verhale toepaslik en opwindend vir jong lesers te maak.
Verwysings:
Greyling, S.F. 2018. Skryf van kinder-en jeugliteratuur. Fakulteit geesteswetenskappe. Potchefstroom: Noordwes-universiteit. (Studiegids SKRK221)
Jacobs, J. 2012. Kinder-en jeugboeke. In: Scheepers, R. & Kleyn, L. Eds. Die Afrikaanse Skryfgids. Johannesburg: Penguin Books. PP.127-132.