Zelda Bezuidenhout is in Zambië gebore maar het in Hennenman in die Vrystaat grootgeword. Sy was vir meer as 30 jaar ’n tweetalige reklameskrywer en het vir die meeste groot advertensie-agentskappe in Johannesburg gewerk.
In 2017 skryf sy haar eerste boek – ’n jeugroman genaamd As mens geluk kon proe. Dit word aangewys as die naaswenner in LAPA se jeugromankompetisie en dit gee haar die moed om aan te hou boeke skryf.
Wanneer sy nie skryf nie, stap, lees en reis sy graag. Sy het ’n onfatsoenlike liefde vir goeie koffie met kondensmelk. Sy woon in die metropool van Parys in die Vrystaat saam met haar man Izak en tienerdogter Mia.