Daar is baie stories oor meerminne. Die een wat ons die beste ken is die een van die “Klein Meerminnetjie.” Ek gaan hom nie nou vertel nie, ek sal eerder vertel wat my Oupa eenkeer gesien het.
My Oupa was altyd ‘n snoekvisserman in Namibië voordat hy afgetree het. Hy het sommer van die kant af gevang, en hy het nogals baie geld gemaak van die visvangerry.
Maar een dag in 1963, toe hy ongeveer 35 was, het die visse die aas “flatout” geignoreer. Oupa het die hele dag nie een plukkie aan die lyn gehad nie. Hy het gewag en gewag, maar niks het gebeur nie. Arme Oupa het geweet hy sal die hele nag daar moet sit as hy nie teen twee uur iets gevang het nie. Twee uur het gekom en gegaan, maar daar het niks gebeur nie. Oupa het hom reggemaak om daar te deurnag. Toe dit donker word, kry Oupa die eerste pluk. Maar toe hy uit die water is, moes hy terug gegaan het; hy was hopeloos te klein.
Toe die vis die water raak, het die hele area rondom die baaitjie so groen geraak, helder en helder totdat dit geel was, en toe wit. Oupa het so groot geskrik dat hy amper in die water geval het. ‘n Blonde kop het uit die water gestyg. Oupa het gesê sy het nie ‘n stert gehad nie, net ‘n kaal lyf soos ‘n vrou. Maar net so vinnig soos dit gebeur het, het dit verdwyn.
Ek glo my Oupa glad nie – dis sommer iets wat hy uit sy duim gesuig het. Maar dis my storie; julle sal net moet glo en verbeeldingryk wees.