Jy is bekend vir die vertaling van boeke asook die oorklanking (“dubbing”) van verskeie TV-dramas, dokumentêre programme. Waar het alles begin? Hoe het jy ‘n vertaler geword?
Ek wou van kleins af na ver plekke reis, ander tale praat en weet hoe anderstaliges se koppe werk. Om ‘n taal te leer was nog altyd vir my makliker en opwindender as om ‘n wiskundesom of wetenskapeksperiment te doen. Ek was ook nog altyd gefassineer met die teater en TV-wêreld en het op universiteit baie by die Dramadepartement betrokke geraak, al het ek tale gestudeer. Die aktrise Babs Laker het my aan die oorklankingswêreld bekend gestel en ek het dadelik daar tuis gevoel. ‘n Mens vertaal nie net die dialoog nie, jy moet die woorde van jou vertaling ook met die lipbewegings van die oorspronklike akteur laat sinchroniseer. Dit is aanvanklik baie ingewikkeld, maar ‘n mens ontwikkel later jou eie styl, slag en manier van doen – wat natuurlik ook teen jou kan tel. As jy hou van informele sleng-taalgebruik, goed en wel, maar wanneer ‘n professor op die TV-skerm praat, moet hy “professortaal” gebruik, of “besig”, soos die oumense gesê het!
Jy het al verskeie kinderboeke vertaal soos Die leeu, die heks en die hangkas (C.S. Lewis), Charlie en die Sjokoladefabriek (Roald Dahl) en Harry Potter en die Halfbloed Prins (J.K. Rowling). Hoe voel dit om met die werk van hierdie ‘groot name’ in die kinderliteratuur om te gaan? Wat beteken dit vir jou as vertaler?
Dit is soms skrikwekkend om ‘n geliefde en alombekende werk te vertaal. ‘n Mens voel aan die begin jy loop op eiers, maar geleidelik begin jy ontspan en aan die skrywer se ritmes en taalgebruik gewoond raak. Ek vind die eerste paar bladsye gewoonlik die moeilikste. Daarna kom ek in pas met die oorspronklike werk. Dit is baie belangrik om die skrywer se styl, taalgebruik en sinskonstruksies goed te bestudeer en te besluit hoe jy dit getrou in die teikentaal gaan weergee. Ek glo daarin om ‘n boek klaar te vertaal en dan weer van voor af daarmee te begin, my eie werk drasties te redigeer en te verander en dit dan (as daar tyd is!) ‘n paar dae te laat lê en “ryp word” voor ek dit dan ‘n laaste keer deurwerk.
Watter van jou vertaalde boeke is jou gunsteling en waarom?
My gunstelinge is die twee Charlies (die tweede een, Charlie en die glashyser, verskyn in Junie) en Harry Potter en die Halfbloed Prins. Ek kan nie een spesifieke een kies nie, want wanneer ‘n mens so nou met ‘n boek en sy karakters saamgeleef het, is hulle soos familie en jy het elkeen om ‘n ander rede lief. Dis fantasties om Roald Dahl se slimmighede in Afrikaans te vertaal en heerlik om ‘n storieverteller van formaat soos J.K. Rowling se intriges so sin-vir-sin en woord-vir-woord te beleef.
In die vertaling van Harry Potter en die Halfbloed Prins behou jy die oorspronklike name, anders as in die eerste vyf vertalings deur ‘n ander vertaler. Hoe voel jy oor die vertaal van name?
Hierdie namekwessie kom al ‘n lang pad in my vertaalloopbaan. Destyds by TV-oorklanking was ons beleid dat as ‘n mens een karaktertjie in ‘n animasiereeks se naam verafrikaans jy dit met almal moet doen. Anders los jy almal Japannees, of wat ook al die oorspronklike taal is. In Moemin het ons dit byvoorbeeld heeltemal verafrikaanse met name soos Moemamma en Moepappa. Ons ander karakters se name was almal gebaseer op klanke, soos Boeboe en Moemy.
Wat betref boeke was dit jare lank in Afrikaans die gebruik om name te vertaal. Roald Dahl se Charlie Bucket was in die ou Afrikaanse weergawe Kalie Emmer. Tye het egter verander en almal ken die Engelse benaming van karakters, danksy TV en Hollywood-films. Daarom het ons besluit om in die nuwe vertaling by die oorspronklike benamings te bly. Almal weet dit speel in Engeland af. Dit is dus net die leestaal wat na Afrikaans verander. Daarom ook praat die vertaling nie van rande en sente nie, maar van Britse ponde en pennies, en het ek nie die Britse mate gemetriseer nie. Dit sou die “Britse gevoel” van die boek laat verlore gaan.
In Harry Potter was ons as gevolg van Warner Brothers se kopiereg op die karakters se name genoodsaak om by die oorspronklike Engelse karaktername te hou. Janie Oosthuysen (wat die vorige Potter-boeke vertaal het) se naamvertalings werk vir my baie goed by karakters soos Dompeldorius en Snerp (en ek haal ook my hoed af vir haar Kwiddiek-woordeskat in Afrikaans!), maar ek voel ‘n mens kry stylprobleme en teenstrydighede wanneer Engelse kinders soos Harry en Ron in dieselfde klas is as ‘n Afrikaanse Hermien le Grange en ‘n Nederlandse Mania Goedlief. (Ek was gelukkig dat ek die Engelse alliterasie kon behou met die vertaling van Moaning Myrtle as Myrtle Martelgat. Hier werk Martelgat vir my, want dit is ‘n soortnaam wat as eienaam aangewend word.) Baie mense sal egter totaal van my verskil wat hierdie saak betref. Dit bly ‘n stylbesluit wat die vertaler en uitgewer moet neem.
Hoe lank het dit jou geneem om Harry Potter en die Halfbloed Prins te vertaal?
Twee maande, met tussenin tekste skryf vir die kykNET-sepie Villa Rosa. Ek het heeltyd vir my seun gesê: “Dit word nou te tense in Hogwarts, ek gaan eers ‘n bietjie by Villa Rosa se gastehuis inboek.” Die afwisseling help ook om ‘n mens se kop weer oop en vars te maak vir so ‘n lywige boek.
Waar begin jy met jou vertaling? Hoe gaan jy te werk?
Ek begin maar by die begin. Baie keer merk ek probleemareas – byvoorbeeld al Dahl se woorspelings – met die eerste deurlees sodat ek dit in my agterkop kan deurdink In die Halfbloed Prins moes ek ‘n dag of wat wonder hoe om die Weasley-tweeling se produk U-No-Pooh te vertaal. Op die ou end het ek toe besluit om weg te beweeg van “You-know-who” na “die Donker Heer”, wat toe perfek rym met “Poefa-weer” en siedaar, my Afrikaanse rympie was gemaak.
Het jy enige snaakse gewoontes tydens die vertaalproses?
Ek drink te veel koffie, stel die lugreëling te koud en klink baie kortaf wanneer ek die foon antwoord.
Jy het ‘n Artes-toekenning (nou genoem Avanti) vir vertaling gekry. Watter raad het jy vir jong vertalers?
Leer soveel tale as moontlik. Die oumense het gesê: Soveel tale jy ken, soveel male is jy man. En moenie soos ek eers in jou veertigs Afrika-tale begin leer nie! Doen dit nou en jy sal verstom wees oor hoeveel beter jy met almal in ons land kan kommunikeer.
Dink jy ‘n mens word gebore as vertaler of kan jy leer om een te word?
Jy moet ‘n basiese aanleg hê, maar soos met alles in die lewe sal jy nêrens kom as jy jou nie op jou vakgebied toelê en nou en dan ook selfs bietjie bloed sweet nie. Maar moenie die geniet vergeet nie! Dit sal vir jou sê of vertaalwerk (of wat ook al) jou passie is, of net ‘n manier om ‘n lewe te verdien.
Wie is jou rolmodel(le) in die vertaalbedryf?
‘n Wonderlike eksentrieke dame met die naam Nerina Ferreira – ‘n aktrise en vertaler wat my verskriklik baie van tale én die lewe geleer het. Sy praat letterlik ‘n magdom tale – leer hulle sommer oornag! – en het in die ou dae al die klassieke werke in Afrikaans vertaal. Haar taalgebruik was altyd verfrissend en nuut, nie so gedrae en swaar nie. Sy’s Shakespeare se The Taming of the Shrew byvoorbeeld as Die Vasvat van ‘n Feeks vertaal. Dis ook sy wat die eerste Afrikaanse Brakanjan-animasiereeks vir TV vertaal het.
Wie is jou gunsteling kinderboekskrywer?
Ek kan nie kies tussen Roald Dahl, J.K. Rowling en die sprokieskrywers soos Andersen nie. In Afrikaanse dink ek Carina Diedericks-Hugo is baie cool. Sy is nie bang vir “sensitiewe” onderwerpe nie en probeer nooit vir haar lesers preek nie.
As jy jou volgende vertaalprojek kan kies, watter boek sal dit wees en waarom?
Roald Dahl se Revolting Rhymes. Sommer net om lekker revolting te wees en boonop daarvoor betaal te word.
As jy enige ander werk kan doen, behalwe om te vertaal, wat sal dit wees?
Ek is so gelukkig om dit reeds te doen – die TV-tekste wat ek skryf. Dis lekker om dialoog te skryf, veral vir karakters van verskillende ouderdomme wat almal verskillend praat. En enigiets is moontlik in ‘n sepie – veral die onmoontlike.