renosdisduif

Die Renosdisduif

Lezandra Thiart
Naaswenner in Storiewerf se Vonkelfiksiekompetisie 2007 (14-18 jaar)

‘n Kreatiewe kreature-storie

Ek was tien jaar oud toe my lewe verander het. Daardie dag kan ek nog soos gister onthou. Dit was die dag toe die Renosdisduif my vriend geword het.

My naam is Rikus en ek was op daardie stadium tien. My suster se naam is Susan en my broer is Nico. Hulle was altwee veertien, want hulle is ‘n kweeling.

My lewe was eintlik vervelig. Ek was nie goed met sport nie omdat ek oorgewig was – so ek was altyd die een wat by die huis gesit en geleer het. Susan en Nico was uitstekend in sport. Hulle was albei in die eerste spanne. Ek was gereeld alleen by die huis in die middae want Susan en Nico het sport gedoen. Ma het by die klerewinkel gewerk en Pa was ‘n dokter.

Een middag besluit ek om in die woud agter ons huis te gaan stap, want dit was een van my gusteling plekke. Oral was daar slote en bosse waarin jy kan wegkruip en speel. In die hele woud was daar net een bos wat uitgestaan het bo die res: dit was ‘n Roosbos. Onder hierdie bos het ek al die skatte wat ek in die woud opgetel het, weggesteek omdat niemand ooit so ‘n mooi bos sou vernietig nie. 

Ek het by die bos gaan staan en die geur van die rose diep ingeasem. Toe ek by die bos gaan sit om my skatte uit te grawe het ek die vreemde eier onder die bos sien lê. Dit was nie ‘n groot eieier nie, maar dit was effens groter as ‘n hoendereier. Die dop was al die kleure van die reënboog en dit het in die sonstrale geblink.

Ek was verstom dat so ‘n pragtige eier sommer so op die grond sou lê en ek besluit toe om die eier huis toe te neem. Net toe ek die eier in my sak wou steek, begin dit kraak en helder lig straal uit die dop.

Ek wou weghardloop, maar al die kleure het my vasgevang.
Uit die eier het die eienaandigste diertjie geklim wat ek nog ooit gesien het. Dit was so groot soos ‘n muis, maar dit het net soos ‘n renonster gelyk met twee paar vlerke en ‘n stert vol skubbe. Die gedroggie het om my kop gevlieg met ‘n “bzzzzzz”-geluid en weer in my hand kom sit.

“Hallo.” Sy stem was sag. “Ek is die Renosdisduif.”
Ek was verstom. “Wat is ‘n Renosdisduif?”
Die Renosdisduif het sy kop skuins gedraai en my stip aangekyk. “Ek is ‘n diertjie wat geluk bring.”
“Ek hoe weet jy miskien dat ek geluk nodig het?” Ek was baie agterdogtig oor hierdie vreemde diertjie.

“Almal het geluk nodig, Rickus. Nie die soort geluk wat maak dat jy die Lotto wen nie. Geluk wat maak dat jy weer lus is vir die lewe.”
“Hoe weet jy my naam is Rikus?” Ek het skielik bang gevoel.
“Ek ken almal se name wat ‘n geluk-tekort het.”

Ek het vinnig terug gestap huis toe met die Renosdisduif in my leerskouersak. By die huis het ek na my kamer geloop, die deur gesluit en stadig die sak oopgemaak.

Die Renosdisduif het uitgevlieg en op die leuning van my stoel gaan sit.
“Ek dink nie jy moet hier bly nie,” het ek verward gesê. “My ma gaan jou kry en dink jy’s ‘n rot en ‘n valletjie stel!”

Die Renosdisduif het nader geskuif. “Ek kan mos nie gaan voordat ek jou nie gehelp het nie.”

“Ek wil nie hê jy moet my help nie.” Ek het van die Renosdisduif gehou, maar geweet dat ek in die moeilikheid sal kom as iemand anders uitvind.
“Hou jy van skool en van mense? Is dit vir jou lekker om Rikus te wees?” het die Renosdisduif gevra.
“Ja!” Ek kon sien dat die Renosdisduif my nie glo nie. 

“Ek weet jy jok vir my, maar ek sal jou sommer gou leer om nie meer te jok nie.” Die Renosdisduif het opgevlieg en daar in die lug bly hang. “Ek kan jou drie wense gee, Rikus.”
Drie wense! Ek was sommer baie bly. 
“Ek wens ek was maer, ek wens ek was al groot en ek wens ek was ryk!” Ek was skoon uitasem toe ek klaar gewens het.

“Jy moet mooi dink waarvoor jy wens Rikus, want dit wat ons wil hê maak ons nie altyd gelukkig nie.”
Nou was ek ongeduldig! “Ek het mos vir jou gesê waarvoor ek wens. Ek soek dit nou dadelik!”

Daar was ‘n helder flits en my kop het begin draai.

Toe ek wakker word, was ek in ‘n vreemde kamer en op ‘n vreemde bed.
“Mammie?” Ek het geskrik toe my stem grof klink. Ek het opgestaan en na die badkamer geloop. Die beeld in die spieël het my groot laat skrik! Ek was ‘n groot man met ‘n harige gesig en ‘n bleskop – al wat ek kon herken was my oë.

Ek het net begin huil toe iemand aan die deur klop. Dit was ‘n vrou. Sy was lank met pikswart hare en grimering.
“Wie’s jy?
Die vrou het my geignoreer en verby my geloop. “Rikus, moenie jou simpel hou nie!” Daardie stem kon net Susan s’n gewees het. “Jy is al weer laat vir werk. Kom!”

“Maar ek wil nie werk nie. Ek is tien jar oud! Ek wil in die woud speel en roomys eet en…” Ek het weer begin huil.
“Rikus! As jy jou nie dadelik regruik nie, sleep ek jou hier uit!”
Ek wou huis toe gaan! Ek het niks van hierdie nuwe huis en hierdie nuwe Susan gehou nie. EK wou in my eie kamer wees en Susan moes weer haar eie blonde hare gehad het.

Na ‘n lang baklei het Susan uitgestorm en gesê dat sy nooit weer met my gaan praat nie.
Ek het op my groot bed gaan sit en geluister na die karre wat daar ver onder dreun. “Ek wil vir Mammie en Pappie hê. Asseblief, Renosdisduif!” Ek het weer gehuil. “Ek wil terug gaan. Vat my terug, asseblief!”

Die kamer het weer begin draai en ek het my oë toegemaak. Toe my kop ophou draai, het ek my oë stadig oopgemaak en die Renosdisduif gesien. Ek was vreeslik verlig en het opgesprin. “Dankie, dankie, dankie!”

Sien jy nou wat gebeur as jy nie goed oor jou besluite dink nie? het die Renosdisduif gevra.
“Ja, ek sien. Maar nou het al drie my wense gemors.”
“Nee, jy het nie. Ek het geweet jy maak nie regte wense nie, so hierdie drie wense was net om jou skrik te maak.”

Ek was so bly om dit te hoor dat ek sommer nog drie wense wou maak, maar ek het stilgebly.
“Noudat jy nog drie wense het, moet jy mooi dink voor jy dit weer gebruik,” het die Renosdisduif gesê.

Daar was ‘n klop aan die deur en ek het versrkik omgeswaai om dit te antwoord. Ek het so groot geskrik dat ek skoon van die Renosdisduif vergeet het! Eers toe ek vir Susan in die deur sien staan het ek besef sy kan seker die Renosdisduif sien.

“Moenie vir Ma sê nie, asseblief Susan!” het ek geplein.
“Ek het geen idee waarvan jy praat nie, Rikus.”
Ek het omgedraai en gesien dat die Renosdisduif verdwyn het.
“Ag, ek grap sommer met jou, Susan!” Ek moes vinnig gedink het.
“Ma sê jy moet kom eet.”

Die etenstafel was doodstil. Pa het verwaarloos gelyk met sy wit baadjie wat half oopgeknoop was en sy hare wat deurmekaar gestaan het en Ma het ook moeg gelyk en tydsaam aan haar kos gekou. Dit was ek wat daardie aand, vir die eerste keer in jare, die een was wat die stilte verbreek het.

“Ek is lief vir julle almal.” Ek het moed geskep en aangegaan. “Ek’s lief vir die reuk van Pa se spuitgoed en die manier waarop hy lag. Ek is lief vir Ma se glimlag en die drukkies wat sy gee. Ek is lief vir Susan se hare en haar stem en ek is lief vir Nico se krag en sy vriendelikheid.”
Dit was asof almal gevries het.

“Magtig, Grootseun, dit was darem mooi van jou!” Dit was Pa wat weer eerste ontdooi het.
Daardie aand het ek in my bed gelê, maar ek kon nie slaap nie. Die Renosdisduif was nogsteeds weg en ek het klaar geweet wat my eerste wens gaan wees wanneer hy terugkom.

Die volgende dag het my wekker vroeg afgegaan en ek het begin regmaak vir skool. Toe ek my laai oopmaak, was dit die Renosdisduif wat my eerste gegroet het.

“Waar was jy?” het ek verlig gevra.
“Ek was nog die hele tyd hier. Ek kan verdwyn as ek wil en dan kan niemand my sien nie!”
Ek was so bly om te hoor dat die Renosdisduif nie weggegaan het nie dat ek die hele oggend ‘n deuntjie gefluit het.

Die tweede periode het ons Afrikaans gehad en ons toetse is uitgedeel. Daardie dag het ek nog die swakste ooit in ‘n toets gedoen en sommer moedeloos en kwaad geword! Die juffrou het gevra dat ek agter bly sodat sy met my kon praat.

Sy het my gevra of alles nog goed gaan met my en hoekom ek so swak in daardie toets gedoen het. Ek het te skaam gevoel om vir haar te sê dat ek daardie dag nie wou leer nie omdat ons kat kleintjies gekry het en ek die hele dag by haar gewag het totdat elkeen gebore is. Toe dink ek ‘n liefstorie uit. Na die tyd het ek so sleg gevoel dat ek wou huil en het reguit na my kamer toe geloop toe ek by die huis kom.

Net toe ek my deur toemaak besef ek dat die Renosdisduif alweer weg is en ek word bang. Sê nou hy het alles gesien wat ek vandag gedoen het en nou is hy kwaad vir my? Ek het op my bed gaan sit en teen die kussings gelê. Toe Ma my middagete kamer toe bring het ek geweet wat al drie my wense is.

Daardie aand het ek heen en weer in my kamer geloop terwyl ek diep dink. Die “bzzzz”-geluid van vlerke het my laat opkyk. Die Renosdisduif het by my venster ingevlieg en op my bed kom sit.

“Ek is bly om te sien jy’s terug,” het ek probeer.
“Ek is nogal teleurgestel in jou, Rikus. Ek het nie gedink jy sal vir ‘n onderwyser jok nie.”
Ek kon sien die Renosdisduif was regtig hartseer.
“Jammer.” Dit was al waaraan ek kon dink om te sê.
“Ek hoop jy is reg om jou drie wense te maak, my tyd by jou is amper op.”
“Waarnatoe gaan jy?

Die Renosdisduif het weer opgevlieg. “Daar is ander kinders wat my ook nodig het, Rikus.”
Ek het my keel skoon gemaak en gesê, “Ek is jammer dat ek jou kwaad gemaak het en dat ek gejok het. Maar omdat ek dit gedoen het, het ek nou my drie wense: eerste wens ek vir moed sodat ek altyd vir mense kan sê hoe lief ek vir hulle is.

Dan wens ek vir deursettingsvermoë sodat ek nie sal sleg voel as alles nie altyd uitwerk nie, maar altyd sal probeer om my bes te doen. Laaste wens ek vir eerlikheid sodat ek nooi weer hoef te jok en skuldig te voel nie.”

Die Renosdisduif het sommer breed geglimlag en gesê: “Al hierdie goed is klaar binne-in jou, Rikus. Al wat jy moet doen is om dit te oefen. Ek vergewe jou omdat jy gejok het, want ek weet jy sal dit nooit weer doen nie.” Die Renosdisduif het na die venster gevlieg en ‘n laaste keer omgekyk. “Totsiens Rikus, jy is ‘n spesiale vriend vir my.” En daarmee het die Renosdisduif by die venster uitgevlieg met ‘n wonderlike straal lig.

Ek het lank by die venster gestaan en in die donker lug ingestaar, maar die Renosdisduif het nooit weer teruggekom nie.

Dit was so twintig jaar terug. Ek is nou dertig jaar oud, maar ek gebruik nogsteeds die drie wonderlike dinge wat ek daardie aand ontdek het. Ek is altyd eerlik, ek hou altyd aan probeer en ek is nie meer bang om vir mense te sê hoe ek oor hulle voel nie. Jy het ook hierdie goed in jou en al wat jy moet doen is om dit te oefen!

As jy weer ‘n verskietende ster sien, moet jy weet dit is die Renosdisduif wat vinnig vlieg om nog iemand te gaan help en wie weet, dalk tel jy ‘n reënboog eier in jou tuin op.

(Skrywer: Lezandra Thiart)

Lezandra Thiart
Die storie is geskryf en geïllustreer deur Lezandra Thiart (18 jaar) Die storie was ‘n naaswenner in Storiewerf Vonkelfiksie Kreatiewe Kreature Skryfkompetisie 2007 – Afdeling C
Kopiereg: Lezandra Thiart
2007-09
0
Would love your thoughts, please comment.x