‘n Kreatiewe kreature-storie
Manie Monstervis en sy Monstervisfamilie woon in die Indiese Oseaan, oos van Afrika.
Sy pa, Marius Monstervis, is die bobaas-visvanger in die omgewing en sy ma, Molly Monstervis, bly tuis om Manie se ses jonger boeties en sussies te versorg.
Die Monstervisfamilie is alom bekend in die Indiese Oseaan en al die kleiner vissoorte is bang vir hulle vanweë hulle grootte en ongelooflike eetlus.
Manie is 18 jaar oud, maar hy is alreeds groter as sy pa. Sy eetlus het geen einde nie. In sy pote sal jy altyd ‘n mes, vurk en lepel aantref – gereed om aan te sit vir enige ete.
Sy vier oë beweeg onophoudelik in alle rigtings terwyl hy rondswem opsoek na sy volgende prooi. Manie se gunstelinggeregte is kreef en snoek, maar eintlik eet hy alles wat voorkom.
Manie het al hoe groter geword en dit het begin lyk asof hy uit sy skubbe wil bars. Sy tande was ook reeds almal pikswart en skeef van die aanhoudende gëeet.
Deesdae bewonder hy homself nooit meer in die helder water nie, want hy is bang vir sy eie spieëlbeeld en ook baie bewus van die agteraf-spotlaggies van die ander visse.
Tot op ‘n dag . . . wat Manie deur die seegras loer en hy die mooiste Monstervis sien wat hy nog ooit gesien het. Sy hart het verskriklik begin klop en hy was dadelik verlief.
Manie het nie die moed of selfvertroue gehad om nader te swem en kennis te maak nie. Al wat hy kon doen was om agter die seegras weg te kruip en haar deur sy verkyker te bewonder.
Vir dae en weke het Manie elke dag sy droomvrou deur die verkyker bewonder en gedroom van die dag wat hulle mekaar ontmoet.
Op ‘n dag het Manie besluit, “Genoeg is genoeg. As ek ooit my droomvrou wil ontmoet sal ek my voorkoms moet verander.”
Manie het sommer dadelik vir hom ‘n afspraak by die tandarts gemaak.
Manie se besoek aan die tandarts, Dokter Sarel Seekat, is ‘n groot teleurstelling.
“Jou tande is van die ergste wat ek nog gesien het. Ek sal elke tand afsonderlik moet skoonbeitel en dit daarna met draadjies in posisie moet dwing. Ek gaan ook vir jou ‘n kopband ontwerp wat jy vir die volgende ses maande elke dag moet dra,” was Dokter Sarel Seekat se woorde.
Die narkotiseur, Dokter Hansie Hamerkop, slaan vir Manie ligte-uit op die operasietafel en rapporteer aan Dokter Sarel Seekat dat die pasiënt gereed is vir die operasie.
Dokter Sarel Seekat werk noukeurig aan elke tand onder die skerp teaterligte. Hy voltooi die operasie met die kopband wat hy stewig om Manie se kop en kaak vasheg.
Na ses ure is Manie wakker. Dokter Seekat deel hom mee dat hy hom na ses maande weer moet sien en dat hy in dié tyd net vloeistowwe mag drink.
‘n Skok wag op Manie . . . toe hy homself in die helder seewater sien. Vroeër het hy homself as ‘n monster gesien, maar nou lyk hy soos ‘n natuurfrats!
En die hongerpyne! Die ander visse maak dit ook nie vir hom makliker nie, want selfs die kleinste sardientjie spot hom omdat hy hulle nie kan eet nie.
Vir die volgende ses maande bly Manie meestal tuis terwyl sy liefdevolle ma hom moed inpraat en versorg.
Somtyds, wanneer die verlange te veel raak, swem hy na sy geheime plekkie waar hy sy droomvrou kan bewonder.
Na ses maande . . .
“Jy lyk soos ‘n prins en is enige vis se droom,” is Dokter Sarel Seekat se eerste woorde aan Manie nadat die draadjies en kopband verwyder is.
Manie kan nie ophou glimlag nie. Sy tande skitter helderder as die pêrels in die water en sy skubbe glim van gesondheid. Hy het selfs spiere ontwikkel!
Manie kan nie wag om sy droomvrou, Mitsi Monstervis, te ontmoet nie en haas hom na haar woning.
Gelukkig vir Manie is dit vir Mitsi ook liefde met die eerste oogopslag.
Die troue twee maande later is ‘n heuglike gebeurtenis wat deur Dominee Krappies Krap gelei word.
Manie Monstervis is uitgevat in sy pak klere en hy staar onophoudelik met sy vier oë na sy stralende bruid. Mitsi Monstervis lyk soos ‘n prinses in haar wit trourok en kroontjie.
Die Monstervisfamilie woon vandag steeds in die Indiese Oseaan. Manie en Mitsi is alreeds oupa en ouma, maar die storie van “Manie se besluit” word van geslag tot geslag vertel.
(Skrywer: Hendré van Rensburg)