Stel jouself voor, ‘n stil vertrek in ‘n ou museum, net jy en ‘n klomp opgestopte voëls, ‘n persblou veer op die vloer, ‘n verlore Kwahu-knauh en ‘n geheimsinnige vertrek…
Dit is die verhaal van Speurder Annika waarin Elmarie Botes die leser op ‘n wilde soektog deur ‘n ou museum lei. Speurder Annika los ‘n raaisel op is’n kinderboek gemik op kinders wat van speurverhale en raaisels hou. Dit is deel van ‘n reeks speurboekies deur Elmarie Botes. Ekstra lewe word aan die verhaal gegee deur Tamarin Skead se illustrasies.
Speurder Annika los ‘n raaisel op gaan oor ‘n graad vyf meisie wat mal is oor speurverhale en raaisels. Gedurende ‘n besoek aan die Natuurhistoriese Museum in die stad, kom Annika op ‘n geheimsinnige persblou veer af. Oomblikke later vertel Meneer Meiring vir Annika en haar klasmaats van die Kwahu-knauh, ‘n skaars voël uit Midde-Afrika. Die voël is aan die museum geskenk, maar kon nooit uitgestal word nie aangesien dit spoorloos verdwyn het. ‘n Geheimsinnige persblou veer op die vloer in die vertrek waar al die opgestopte voëls uitgestal word, ‘n persblou Kwahu-knauh wat spoorloos verdwyn…
Annika volg die raaisel van die geheimsinnige veer en kom af op ‘n weggesteekte deur wat lei tot ‘n geheimsinnige vertrek waar sy en haar klasmaat, Sheldon, vasgevang word. Die verhaal eindig waar Annika haar beste speurwenke gebruik om die verlore Kwahu-knauh op te spoor, en haar en Sheldon uit die donker vertrek te kry.
Die hooftema in die verhaal is natuurlik die speurtog, die soeke na dit wat eens verlore was. Verder kom die tema van samewerking ook sterk deur in die verhaal. Annika en Sheldon volg saam die raaisel van die veer en met samewerking alleen, kom hulle albei ongeskend uit die geheimsinnige vertrek uit. Annika se karakter leer in die verhaal om in ‘n moeilike situasie kalm te bly en logies te dink. Die leser word spannend deur die verhaal gelei tot by die laaste klimaks en dan gelukkig gelaat met ‘n bevredigende einde. Elmarie Botes se taalgebruik en styl is maklik verstaanbaar en vloei gemaklik van handeling tot handeling. Dit boei die leser van die eerste bladsy tot die laaste bladsy.
Die leser word op ‘n soektog van raaisel na raaisel geneem en kan deel in Annika se sukses aan die einde van die verhaal. Hierdie verhaal bewerkstellig elke kind se droom van ‘n opwindende speurverhaal waarin die speurder altyd slaag.