In Speurder Annika maak ‘n plan lei Elmarie Botes die leser op ‘n soektog Dit is ‘n boek uit ‘n reeks kinderboeke vir liefhebbers van speurverhale en raaisels. Tamarin Skead gee die verhaal verder lewe met haar illustrasies.Hierdie verhaal gaan oor Aninika, ‘n meisie in graad vyf wat mal is oor speurverhale en raaisels. Annika kom te staan voor twee probleme. Een van haar klasmaats, Nicolene, het nie ‘n oupa of ouma wat na die Oupa-en-Ouma-dag toe kan kom nie. Annika en haar maats los egter hierdie probleem gou op deur voor te stel dat die kinders wat meer as een oupa en ouma het, van hulle oupas en oumas uitleen vir die dag vir die wat nie oupas en oumas het nie. Die groot raaisel wat Annika egter moet oplos is die van die koerant wat elke oggend geheimsinnig verdwyn…Annika volg die leidrade tot sy moedeloos is, maar is niks nader daaraan om die dief vas te trap nie. Op Oupa-en-Ouma-dag ontmoet Annika vir Antonie se blinde oupa en sy gidshond wat allerhande goed vir sy baas gaan haal. Die verhaal eindig waar Annika die ongewone dief met die swaaistert betrap.Die kern tema in die verhaal is die oplos van probleme. Annika twee probleme met behulp van haar speurvernuf en maats opgelos. Die verhaal maak dit duidelik dat mens met samewerking, harde werk en vasberadenheid, enige iets kan doen. Die leser loop saam met Annika die pad, soek saam met haar vir nog raaisels en deel in haar frustrasie wanneer leidrade doodloop. Die leser deel egter ook in die geluk wanneer die dief gevang word. Die taalgebruik en styl is maklik verstaanbaar en boei die leser van die begin van die verhaal af tot die einde.Dit is ‘n verhaal van raaisels, frustrasies, opwinding en sukses. Elmarie Botes kry dit goed reg om die leser saam met die hoofkarakter, Annika, op ‘n speurtog te neem.Titel: Speurder Annika Maak ‘n Plan