Met Spring beweeg Fanie Viljoen weg van sy beroemde Nova reeks en skryf ’n meer realistiese, relevante verhaal wat gemik is op die tweede taal Afrikaanse leser. Spring handel oor ’n baie betrokke en relevante onderwerp, naamlik sosiale media en hoe dit ons beïnvloed. In Spring word nie net klem gelê op hoe belangrik vrienskapbande is nie, maar ook hoe groot die uitwerking van groepsdruk en roem kan wees. Rudi en Steven is goeie vriende, Lize is die mooi meisie, maar Marco is die rowwe ou wat alles omvergooi.
Viljoen het met hierdie boek ’n vars idee tot die tafel gebring: eerstens deur gebruik te maak van ’n hedendaagse tema, sosiale media, en hoe ons dit benut.Tweedens, deur ’n derde persoon die antagonis te maak, en nie die tipiese storielyn van ’n liefdesdriehoek tussen twee vriende en ’n meisie in die middel te volg nie. Die video’s wat Rudi en Steven maak is ‘mal’, en is die tipiese goed wat jong tieners vandag sal doen om roem te verwerf, maar hoe ver sal hy gaan vir sy ‘fans’? Die roem wat Steven op die sosiale netwerk, Youtube, verwerf het, dryf hom om al die goed te doen omdat meisies meer na hom begin kyk. Marco spoor Steven aan om beter en waaghalsiger toertjies te doen nadat hy hulle eerste video gesien het, en eindelik verwag Marco dat hy iets moet doen wat sy eie lewe in gevaar sal stel, iets waarvan Rudi nie bewus is nie.
Deur die verhaal raak Vijoen hierdie verskillende aspekte van ‘n jongmens se lewe aan en maak die leser ook bewus van die gevare waartoe groepsdruk kan lei. Die jonger leser kan dus aanklank vind by die boek en kan ook met die karakters identifiseer omdat die karakters alledaagse, soms stereotipiese, mense voorstel.
Die verhaal lees maklik en die taalgebruik is baie eenvoudig. Soos reeds genoem is Spring gerig op die tweede taal Afrikaanse leser en is dus geslaagd. Daar word wel woorde gebruik wat die meeste jonger mense nie sal gebruik nie, byvoorbeeld “slymbol”, “mater” en “pretbederwer”. Baie jong mense gebruik kragwoorde wanneer hulle praat en veral wanneer iets skeefloop, maar Viljoen het kreatiewe woorde in die plek van kragwoorde gebruik wat steeds effektief is. Viljoen kon, as gevolg van die eenderse manier van praat onder jong mense, nie werklik die dialoog van elke karakter hul eie maak nie.
Die foto-en-potloodsketse wat in die verhaal ingewerk is, en die verhaal ondersteun, is weerens ’n kreatiewe benadering. Dit herinner my aan die gedigte wat in Viljoen se Betower ingewerk is. Die boodskappe wat die karakters aan mekaar stuur is nie net by die teks ingewerk nie, maar word deur spraakborrels uitgebeeld; dit is die manier waarop jonger lesers ’n boodskap op hulle selfone sal kry en lesers is dus vertroud met die manier waarop dit uitgebeeld word. Die foto-potloodsketse gee die teks ’n ander gevoel as ’n somber teks met bladsye wat net met woorde gevul is, en sal verseker die leser se aandag te hou.
Met Spring vertel Viljoen ’n storie wat vir beide die jonger en ouer leser genot sal verskaf. Die vertelstyl is lig, alhoewel kwessies soos groepsdruk wat lei tot impulsiewe waaghalsige besluite ernstig is, maar dit is juis hierdie dinge wat sorg vir ’n lekker verhaal wat jou hart met tye so bietjie vinniger sal laat klop. Ouer lesers kan gerus die boek optel om weer bietjie in ’n kind se gedagtes in te klim. Viljoen vang die jongmensdenkwyse goed vas in die verhaal.