Eggo’s is propvol elemente wat ‘n jong leser se aandag sal vasvang. Al die mees geliefde sprokieselemente is daar: ‘n wrede stiefma, ‘n avontuurlustige reis, elwe, waternimfe, towenaars…
Kobie Krüger skryf ‘n opwindende verhaal oor twee jong vriende, Mattie en Henk. Albei van hulle is alleen vir die vakansie en besluit om saam op ‘n reis te gaan om uit te vind wat presies is die “sterrereën” (soos Mattie dit noem) wat sy een aand in die misterieuse Skimberge gewaar. Die einste Skimberge waar ‘n paar stappers jare gelede iets gesien het wat hulle baie groot laat skrik het, maar glad nie kan onthou wat nie. Mattie en Henk vaar met hulle vlot die rivier af, maar kry vinig teëspoed. Hulle ontdek dat daar baie meer in die woud aangaan as wat hulle ooit kon gedink het, en so begin ’n groot ontdekkingsreis wat ’n hele paar verrassings vir Mattie, Henk en die lesers inhou!
Hierdie is ’n boek wat beide seuns en meisies van sal hou. Jong lesers sal geniet hoe boelies op hulle plek gesit word, en om meer te leer oor die alledaagse lewe van elwe en hekse. En wie kan die geheim van die elwekoningin se verlore kinders oplos? Eggo’s in die Skimberge sal jou vermaak, jou emosies raak en jou geboei hou tot op die laaste bladsy.