Lesers wat besluit om Afkop op te tel, sal baie gou agterkom dat dit nie ’n kinderboek is nie, maar ‘n tuimeltrein van ‘n jeugverhaal. Fanie Viljoen gebruik ’n spannende storielyn om die tema van groepsdruk, die onsekerheid wat met tienerskap gepaard gaan en die soeke na aanvaarding op ’n alternatiewe wyse uit te beeld. Dis moontlik dat die leser effens ongeïnteresseerd kan wees sodra die oorgebruikte tema van groepsdruk na vore kom, maar in “Afkop” kry Viljoen dit reg om steeds vanaf die eerste paar sinne die leser se aandag vas te vang en te hou.
Die storie verloop chronologies oor ’n tydperk van ’n langnaweek, waartydens die sewentienjarige hoofkarakter en verteller, Trent, se ouers hom alleen by die huis laat. Dit gee vir Trent die geleentheid om ’n bietjie los te breek uit sy ma se streng reëls, en saam met sy vriende partytjie te hou. Toe die eerste aand van hierdie naweek van vryheid reeds begin handuit ruk en eindig in ’n motorongeluk, die vonds van ’n geheimsinnige sak vol geld en ’n hele klomp keuses om te maak, is dit duidelik dat Trent homself op ’n wankelrige paadjie bevind wat vriende, verraad en lewensbesluite betref.
Die deurlopende spanning wat die gebeure aan mekaar verbind, sorg daarvoor dat die leser wil aanhou lees om uit te vind of Trent se ongelukkige stand van sake uiteindelik ’n positiewe wending sal neem – en of sy omstandighede hom net verder in die moeilikheid sal bring. Daar is ook ’n paar wendings in die plot wat die leser aangenaam – of onaangenaam – sal verras. Hoewel Trent die ek-verteller is, blyk dit later in die verhaal dat daar baie dinge was waarvan hy nie eers bewus was nie. Dit maak van Trente ’n geloofwaardige slagoffer-tipe karakter, afgesien van sy soms frustrerende, swak besluite.
Die boek is gerig op moderne tieners, soos gesien kan word in die (soms kras) taalgebruik, noem van moderne films en TV-reeks, nuwe tegnologie en die gebruik daarvan deur die karakters. Dit is ’n verhaal wat ’n mate van ’n lewensles vir die moderne jeug inhou, en kan aanbeveel word vir veral ouer jongmense tussen die ouderdom van 15 en 18.
Afkop is die naaswenner in Lapa se jeugromankompetisie.