Die meisie op die dak is ‘n lekkerlees-jeugroman oor tienerwees, met al die drama, seerkry en intriges wat tieners beleef en nie altyd beheer oor het nie. Dit bevat ook die romanse en betowering van ‘n ontwikkelende eerste liefde.
Estelle is ‘n meisie wat voor die begin van haar matriekjaar uit haar bekende omgewing geruk word en moet aanpas by die nuwe, goor buurt waarheen sy en haar ma trek. Sy voel skaam vir die vuil matte en “giggelgeel” kombuis. Sy wens die ding met haar pa het nooit gebeur nie. Sy sien wel uit om terug te gaan skool toe.
Estelle is egter hoofmeisie en moet haar skoene volstaan. Op haar eerste skooldag word sy reeds met vooroordeel gekonfronteer en dit voel vir haar asof almal agter bakhande oor haar skinder en fluister. Sy lig haar kop op ongeag haar omstandighede. Haar lewe verander wel wanneer sy die nuwe buurseun, Aiden, ontmoet.
Hierdie verhaal is modern en gemaklik geskryf. Die temas is realisties met tieneromstandighede, daarom sal dit aanklank vind by tieners.