f_mariannabrandt2_k

Kuier by Marianna Brandt

Marianna Brandt het vroeër in die jaar by Laerskool Mikro in Kuilsrivier kom kuier. Megan Groenewald en Lézel Roets van die 2010 Redaksie het 'n paar vrae gevra.

Wat was die naam van jou laerskool?

Swakopmund Laerskool, Namibië

Hoeveel leerders was daar in die skool?

Ongeveer 400

Wat was vir jou lekker van jou skooldae?

Dit was ‘n skool by die see. Ons het pouses op die strand gespeel. Ons het baie lekker onderwysers gehad, die meeste van Duitsland.

Jou boeke gaan almal oor diere. Het jy self troeteldiere?

Nee, ek het nie self diere nie omdat ek so baie reis en ‘n dier nie die onreg sal kan aandoen om hom gedurig by ander mense te los nie. Ek is baie lief vir diere. Maar die rede hoekom ek oor diere skryf is oor die eenvoudige feit dat alle kinders met diere kan identifiseer. En ek geniet ook om so meer oor diere te leer.

Het jy ‘n stokperdjie?

Ek hou van lees, oor die wêreld reis, Celtiese musiek en goeie films. Skryf is my werk en stokperdjie.

Is jy tans besig met ‘n nuwe boek?

Ja, ek is besig met ‘n wetenskapfiksie storie wat in ‘n koshuis afspeel. Graad 7’s sal dit veral geniet.

Watter tipe boeke lees jy graag?

Ek hou van kinderboeke. Skrywers wat ek graag lees is Neil Gaiman, Cornelia Funke, Phillip Pullman, Lemoney Snicket, R.L. Stine, en Derek Landy. Volwasse boeke hou ek van Kathy Reichs [misdaad] en verskeie ander.

Wat is vir jou die lekkerste ding van skryf?

Die uitwerk van die plotlyn en om te sien hoe my karakters begin lewe kry op papier.

Het jy al ooit ‘n karakter in ‘n boek op jou eie persoonlikheid gebaseer? Indien wel, wie?

Nee, ek dink nie skrywers doen dit nie, behalwe as dit outobiografies is. Ek is nog nie daar om ‘n biografie oor myself te skryf nie.

Hoe lank neem dit jou om navorsing vir ‘n boek te doen?

Dit hang af van hoeveel navorsing die boek benodig en hoe moeilik of maklik dit is om dit in die hande te kry. Markus Stermuis het 6 maande geneem om alles te kry en korrekte feitelike inligting bymekaar te maak. Magrietjie Swaaiboude het my die minste tyd geneem, ongeveer ‘n maand.

Hoekom is dit so belangerik om navorsing vir jou boeke te doen?

Jy kan nie dinge waarvan jy nie weet nie uit jou duim suig nie. Jy mag nie vir kinders jok nie. Dis hoekom. Maar dit maak ook jou storie geloofwaardig, al is dit fiksie.

Het jy al ooit ‘n storie geskryf en dan nie geweet hoe om verder te gaan nie?

Nee, nog nooit nie. As jy eers beplan en plot behoort jy nie ‘writer’s block’ te kry nie.

Hoekom dink jy geniet kinders jou boeke?

Ek is altyd bly om te hoor dat kinders van my boeke hou. Ek dink hulle hou daarvan omdat dit oor diere gaan, maar ook omdat dit humoristies is. Onderwysers hou daarvan omdat daar baie feite in is.

Hoekom dink jy geniet en lees tieners jou stories?

Ek dink hulle lees dit omdat hulle daarmee kan identifiseer. Ek hoop hulle sal my nuwe boek ook geniet wat in Oktober verskyn.

Het jy dit geniet om saam met drie sussies groot te word?

Ja, ons verskil baie. Ek is die oudste, maar deesdae skryf ons almal – net baie verskillend.

Hoe het die omgewing waar jy grootgeword het ‘n invloed op jou skryfstyl gehad?

Dit het ‘n groot uitwerking op my skryfstyl omdat ek in ‘n vryer tyd grootgeword het en in ‘n ongelooflike omgewing met die woestyn aan die een kant en die see aan die ander. Vandag se kinders woon in stede, in woonstelle en hulle kan hulself nie uitleef nie. Ek het baie gespeel en dinge ‘ontwerp’ soos byvoorbeeld hakskoene van karton en my ma se garetolle en dan het die hoenderhok die hotel geword nadat die hoenders uitgejaag is.

Wanneer het jy jou passie vir skryf ontdek?

Terwyl ek agter proefbuise in ‘n laboratorium gesit en wag het vir die wekker om af te gaan, het ek gesit en droom oor allerhande dinge en dit begin neerskryf. Ek het toe ook amateurtoneel gespeel en kamptige radioverhale geskryf wat natuurlik nooit die lug gehaal het nie maar deur my en my vriende op ban opgeneem is.

Wat inspireer jou?

Kinders wat van my stories hou. Interessante gebeure en die lekker van skryf. Skryf is soos skilder – om met woorde te skilder.

Wat was jou geliefkoosde boek om te skryf en hoekom?

Markus Stermuis op die Sojoes . . . ek het net soveel geleer oor die sterre, planete en allerhande hemelliggame wat ek nooit geweet het nie. Omdat die storie gaan oor ons eerste ruimtevaarder was dit ook soveel meer spesiaal vir my. Baie dinge het gebeur rondom die skryf van die boek – die Kaasmaan van Jupiter is ontdek en ook die Paddavissterrestelsel.

Hoe het jy gevoel toe jy hoor jy is die naaswenner en wenner in 1994 en 1999 vir die boeke “Poppie-Dot by die Grootrivier” en “Die mieliestronkpop” ?

n Mens verwag nooit sulke dinge nie. Dit gebeur net. Ja, dit was ‘n groot verrassing. Maar die grootste vir my was die White Raven toekenning in Italië vir The Mealie-Cob Doll, en Heroe of the Hills wat verfilm is en Heroes of the Coal Yard, wat gemaak het dat ek Suid-Afrika in Ysland verteenwoordig het by die Nordiese Kinderboekberaad.

Het jy dit geniet om vir die kinderprogram “Siembamba” so baie stories te kon skryf?

Ja, dis waar ek eintlik begin skryf het. Poppie-Dot van die Kaap was eers ‘n radio-storie vir Siembamba.

Wat is die een ding wat jy nog in die lewe wil doen?

Ek wil graag op die Queen Mary luukse skip om Engeland vaar en met een van Indië se Royal Trains ry. Maar ek wil ook baie graag my groot wêreldtreffers [7 boeke] in Engeland gaan skryf en daar uitgee. Dit sal gelykstaande wees aan die fantasieverhale wat julle in Engels lees.

Leef jy jou lewensdroom?

O ja, definitief. Ek geniet elke oomblik. Ek is my eie baas en werk oggende, middae of aande. Ek stel vir my elke jaar nuwe doele wat ek probeer om te haal en dis lekker. Ek hoop om dit vir baie jare nog te doen.

Wat kan laerskool leerders doen om stories te begin skryf?

Hulle kan ‘n kort kursus by my doen. Ek bied ‘n oggend kursus vanaf 8:30 – 1:00 by die skool aan wat leerders sal help met hulle algemene verstaan van stories, geskiedenis ens. Maar ook hoe ‘n storie werk, al die aspekte en hoe om hulle eie stories te skryf. Die kursus kan deur die skool gereël word met my.

Wat is jou gunsteling:

Kleur: swart

Fliek: Notting Hill, Jumanji, Amadeus, ens. Daar is baie. . .

Plek: Swakopmund [Namibië], Llangollan [Wallis, Engeland]

Kar: Aston Martin

Dier: Tier

Kos: Kreef

Boek: Wetenskapboeke deur Zacharia Sitchen

Onderhoud deur Megan Groenewald en Lézel Roets van die 2010 Redaksie (Laerskool Mikro in Kuilsrivier)
2010
0
Would love your thoughts, please comment.x