“Lolla! Lolla!” roep Dokter Wilna. “Waar is jy, jou karnallie?”
Lolla se bruin ogies blink en haar stertjie swaai. Sy kruip weg vir Dokter Wilna. Dis wat hulle elke oggend doen voor Dokter Wilna na die groot hospitaal toe gaan waar sy werk – hulle speel wegkruipertjie. Wel, eintlik is dit altyd Lolla wat wegkruip en Dokter Wilna wat moet soek, maar Dokter Wilna gee nie om nie.
Lolla is mal oor wegkruipertjie speel. Sy hou die héél meeste daarvan as Dokter Wilna haar kry. Dan draai Dokter Wilna vir Lolla op haar rug en kielie haar pensie. Lolla se ogies val sommer toe van lekkerkry.
Lolla en Dokter Wilna bly in ‘n meenthuis aan die rand van die groot stad. Partykeer tel Dokter Wilna vir Lolla bo-op die tuinmuur. Dan kan sy baie ver sien. Aan haar linkerkant kan sy die ander meenthuise in die ry sien. Aan die regterkant is daar ‘n veld met baie bome, lang gras en ‘n stroompie. Partykeer hoor Lolla tarentale in die veld. Sy en Dokter Wilna kan nie in die veld gaan stap nie, want daar is nie ‘n paadjie nie en die gras is te lank vir ‘n klein worshondjie soos Lolla om deur te beur.
Wanneer Dokter Wilna gaan werk, bly Lolla alleen by die huis. Lolla gee nie om nie – buite op die stoep staan Lolla se groen igloe-hok. Lolla hou baie van haar hok: binne-in is ‘n groot, sagte kussing en ‘n lekker warm kombers. Haar gunsteling speelding, ‘n koei-pop, is ook in haar hok.
“Lolla,” sê Dokter Wilna een oggend, “vandag gaan ‘n baie lekker dag wees. Vandag gaan jy nie alleen wees nie. Van vandag af gaan Christina by ons kom werk.”
Christina is ‘n vrolike, vet vrou wat sing terwyl sy werk. Lolla hou baie van haar: sy loop soos ‘n stertjie al agter Christina aan. Toe haar werk klaar is, maak Christina vir haar middagete.
“Kom, Lolla,” sê sy, “kom ons gaan sit in die sonnetjie.” Lolla en Christina gaan sit op die trappie by die deur. Christina sit met haar bene lankuit in die son terwyl sy eet. Kort-kort laat val sy ‘n stukkie kos vir Lolla. Dis heerlik!
“Lolla,” sê Christina, “ons moet winkel toe gaan om te gaan melk koop.” Sy en Lolla stap na die winkel op die hoek. By die winkel se deur is ‘n bord wat sê:
Christina en Lolla stap verby die bord in die winkel in. Die winkelbaas keer hulle voor.
“Jammer,” sê die winkelbaas, “honde word nie in die winkel toegelaat nie.”
“Gmf!” snork Christina vies. “Lolla is nie ‘n hond nie, sy is Dokter Wilna se hondekind.”
“Jammer,” sê die winkelbaas, “net regte kinders word toegelaat, nie hondekinders nie.”
“Gmf!” snork Christina weer vies. “En hoekom nogal nie?”
“Want honde is regte vlooikaste,” sê die winkelbaas.
“Gmf!” snork Christina. Nou is sy regtig vies. “Lolla is nie ‘n vlooikas nie. Sy ruik so lekker soos ‘n poeierkwassie!”
“Jammer,” sê die winkelbaas beslis, “géén honde in die winkel nie.”
“Kom, Lolla,” sê Christina. “Dan moet jy maar buite wag.”
Christina maak Lolla se leiband aan ‘n paal vas en gaan koop gou die melk. Lolla hou daarvan om vir al die mense te kyk wat winkel toe kom.
“Kyk die hondjie, Mamma!” sê ‘n klein dogtertjie. “Mag ek hom gaan streel?”
“Nee,” sê die ma, “mens vat nie aan vreemde honde nie. Miskien is die hondjie kwaai en byt jou.”
Lolla swaai haar stertjie sodat die ma kan sien dat sy nie kwaai is nie.
“Maar ek kan sien dat hy nie kwaai is nie,” sê die dogtertjie. “Hy waai sy stertjie.”
Net toe kom Christina uit die winkel uit.
“Kom, Lolla,” sê sy, “jy was ‘n baie soet hond om so te sit en wag. Kom ons gaan huis toe, dan gee ek vir jou ‘n hondebeskuitjie.”
Die dogtertjie waai vir Lolla en Lolla waai haar stertjie.
Laatmiddag lag Dokter Wilna lekker toe Christina haar van hulle uitstappie vertel.
“Sien jy, Lolla,” sê Dokter Wilna, “ek het mos gesê dit gaan ‘n baie lekker dag wees.”
Daardie aand droom Lolla sy is ‘n regte kind.